Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Van ateïs, angslyer en aanrandingslagoffer tot by genesing en geloof: ‘God het my nie verwerp nie’

Foto: Through the Lens Photography

“Waar sien jy jou oor tien jaar? Gaan maak ’n lysie,” het die pastoor gesê.

Wat ’n belaglike versoek! het sy gedink. Sy sien nie eens kans vir môre nie; wat nog van ’n dekade die toekoms in …

Sy het nogtans ’n paar dinge gaan neerskribbel: herstelde familieverhoudings, ’n vaste werk, om getroud te wees, om ’n ma te wees …

Maar wat help dit tog! Al hierdie dinge is onmoontlik, het sy moedeloos gedink en die lysie diep gebêre. Wat is die kanse dat goeie dinge met iemand soos sy gebeur, iemand met haar soort verlede? Sy was eens op ’n tyd ’n rebel en ’n ateïs, sy het pas uit ’n gewelddadige verhouding ontsnap. Boonop sukkel sy met angsaanvalle. ’n Normale lewe is nie vir iemand soos sy beskore nie.

LEES OOK: Vrou gryp weer na dwelms ná vyf geliefdes sterf: ‘Maar dié keer het ek die oplossing vir verslawing gevind …’

Gelukkig het God van beter geweet. Marinda Kriel is vandag ’n boekhouer wat in Roodepoort woon. Sy dink ver terug, en vertel:

Die lewe se donker kant

Toe ek 16 was, het ek gedink ek weet alles. Op 18 het ek geweet ek weet alles. Op 24 was ek bevoorreg genoeg om te besef ek weet eintlik niks. En in dié proses het my lewe ingrypend verander.

Terugskouend kan ek sien hoe die uitdagings in my kinderjare my keuses beïnvloed het en hoe dit my rebelsheid aangevuur het. My ouers is geskei en die impak daarvan het daartoe gelei dat ek reeds op skool na liefde gaan soek het, op al die verkeerde plekke en by al die verkeerde mense.

Later was rook, drank, klubs en dagga deel van my daaglikse bestaan.

Iewers in my grootwordjare het ek wel my hart vir die Here probeer gee, met die hoop dat alles by die huis sou regkom. Dit het nie. “Hy bestaan nie,” was my gevolgtrekking. En ek het my nuwe identiteit as ateïs met trots begin dra.

Ek het Christene gespot omdat hulle “in ’n feëverhaal glo wat niks beteken nie”.   

Ek was hard, liefdeloos en hardkoppig. Ander se menings en gevoelens het niks beteken nie; alles het gegaan oor wat ék wou doen en hê. Die lewe se donker kant het my aangetrek.

My arme ma het probeer keer, my probeer waarsku teen die kêrel met die opvlieënde geaardheid. Natuurlik wou ek dit nie hoor nie. Ek was verlief en ek het van Gauteng af Kaap toe getrek, waar ons by sy ouers gaan woon het.

‘Vertel dit vir enigiemand en ek maak jou dood’

Aanvanklik maak jy die ander een se jaloesie en humeurigheid af as “’n slegte oomblik”. Later is dit “’n slegte dag”. Maar dan word dit ’n patroon. En jy word wysgemaak dat jý die oorsaak is. Jy is die probleem.

Ja, dis jou skuld dat hy so kwaad word. En deurentyd hoop en glo jy dat dit môre beter sal gaan.

Sy gunstelingmetode was om my aan die keel te gryp en te dreig: “Vertel dit vir enigiemand en ek maak jou dood.” Ek het soos ’n gevangene begin voel en het later vir my lewe gevrees.

Hy het graag gesê dat die enigste manier waarop ek weer by my familie sal uitkom in ’n boks sal wees. Omdat hy op ’n keer reeds ’n mes teen my keel gedruk het, het ek hom geglo.

Vrees is ’n verlammende ding. As jy dit toelaat om te groei, oorweldig die angs en die magteloosheid jou totdat dit later jou hele menswees verswelg. Ek het al my selfvertroue verloor en was daarvan oortuig dat ek niks werd is nie. My hele lewe het ’n diep, donker put geword, en ek het ál verder daarin weggesak.

Dit was in hierdie desperate tyd dat ek na God begin roep het, die God waarin ek nie geglo het nie. Ek het gesmeek: “Ek weet nie of U daar is nie, ek weet nie of U my kan hoor en of U omgee nie. Maar help my net! Asseblief!”

Sonder dat ek dit besef het, het my gees begin ontwaak  Ek het na die Here geroep. Ek het gebid en begin om my Bybel te lees, elke dag, sommer van Genesis 1 af. Al het ek dit nie verstaan of onthou nie. My hoop was dat as ek die regte dinge doen, die regte dinge sou gebeur.

Gelukkig gee die Here tweede, derde en vyfde kanse. Ek het begin vra vir spesifieke tekens wat my sou lei om op die regte dag en op die regte oomblik my goed te vat en uit die huis te trek.

Toe daardie dag uiteindelik aanbreek, was my kêrel so woedend dat hy my foon stukkend gegooi het. Maar hy het nie sy hande vir my gelig nie. Dit was ’n eerste, en vir my ’n bewys dat die Here betrokke was.

Verniel maar veilig

Deur ’n wonderwerk het ek uiteindelik by my ouers en familie in Gauteng aangekom. Ons verhouding was stukkend en ek was emosioneel verniel, maar ten minste was ek veilig. 

Hoe ek ooit weer sou heel word, het ek nie geweet nie. Maar God het geweet. God is liefde, en deur sy kinders het ek sy liefde eerstehands begin ervaar. Mense by die Maranatha Gemeenskapskerk in Kempton Park het, sonder om te oordeel, na my geluister en vir my omgegee en my gehelp.

Ek het baie hulp nodig gehad, want my idee van God was heeltemal verwronge. Ek het gedink aan ’n Persoon wat daar ver is, Een wat sit en wag dat jy ’n fout maak sodat Hy jou kan straf. Boonop het ek, dalk as gevolg van my verlede, alles bevraagteken. Elke ding wat oor Jesus gesê of gepreek is, het ek gaan naslaan om vas te stel of dit regtig so is.

Nou weet ek dit was alles deel van die heelwordproses. Ek moes van vooraf leer wie en hoe die Here werklik is. En hoe meer ek van Hom geleer het, hoe meer het ek vir Hom lief geword. Ek het geleer om te vergewe en om vir my vyande te bid. Aanvanklik het ek gebid dat my gewese kêrel gestraf moet word, maar die Here het my saggies kom leer dat ek vanuit liefde en vergifnis moes bid, net soos wat Hy my liefhet en my vergewe het.

Stelselmatig het my hart en my perspektief verander.

Die gevolg van jare se vrees

Maar my angstigheid was steeds ’n probleem. Ek het tot drie angsaanvalle per dag gehad. Dit voel asof jy van ’n krans af spring, asof jy gewurg word, asof jy ’n hartaanval het – alles tegelyk. Dit was die gevolg van jare se voortdurende vreesbevangenheid.

’n Dokter het dit as angsversteuring gediagnoseer en medikasie voorgeskryf. Ek sou dit die res van my lewe moes gebruik.

Te midde van dit alles het ek steeds gekies om die Here volkome te dien en te vertrou, selfs al sou ek nie heeltemal genees word nie. Dit was ’n wilsbesluit: Ek kies Hom – nie vir wat Hy vir my kan doen nie, maar vir wie Hy is. Ek wou nie langer toelaat dat vrees my lamlê nie, dat dit my verhoed om voluit te leef nie.

Die moeilikheid met angsaanvalle is dat dit te enige tyd en op enige plek kan toeslaan. Dit is waarom mense wat aan angsversteuring ly dikwels nie eens hul huis wil verlaat nie, want “sê nou maar …”.

In die daaropvolgende vyf jaar wat ek met my angsversteuring gestoei het, het God my geleer om nie met ’n “sê nou maar”-gesindheid te leef nie. Ek het by die kerk betrokke geraak en leier van ’n selgroep geword. Later was ek ’n fasiliteerder by kerkkampe waar mense van siekte, verslawing en emosionele trauma bevry word.

Dit was juis by een van sulke kampe waar ’n mede-fasiliteerder geroepe gevoel het om spesifiek vir my te kom bid. Dit was ná tientalle soortgelyke gebede die voorafgaande vyf jaar.

Maar dié keer was dit anders. God het besluit dat dit die oomblik en die plek was om my te genees. En tot vandag toe is ek angsvry.

Ek was verstom!

Die lang pad na genesing en herstel het my geleer dat Christenwees jou nie van uitdagings en seerkry vrywaar nie. Maar hoe donkerder dit word, hoe meer moet jy die Here soek en hoe nader moet jy aan Hom beweeg.

En wat keuses betref: Die beste raad wat ek tydens my berading gekry het, was om voor elke besluit die fast-forward-knoppie te druk. Dit werk só: “As ek hierdie keuse maak, hoe sal my lewe oor ’n paar jaar lyk?”

Van keuses gepraat: Nou die dag kom ek weer af op die waar-wil-ek-oor-tien-jaar-wees-lysie wat ek destyds op versoek van die pastoor gemaak het.

Ek was verstom! Dis nou presies tien jaar later en elke begeerte op die lysie is vervul. My verhouding met my ouers en familie is herstel. Ek het ’n goeie werk. Ek is gelukkig getroud. My man se twee kinders is soos my eie.

En die kersie op die koek? Ek is swanger met ons eersteling, wat later vanjaar sy opwagting maak. My lewe is ver van perfek af, maar ek is ook ligjare weg van wie en wat ek vroeër was.

Ek het Hom destyds verwerp, maar ons dien waarlik ’n lewende, liefdevolle God wat ons nooit verwerp nie. 

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►