Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Hier is die laaste aflewering van Fay van Eeden en haar gesin se reis na eenvoud en ’n meer volhoubare lewe. In dié vyfde aflewering vertel sy alles van kompostering wat jy moet weet om jou eie wurmplasie of oop komposhoop in jou tuin te vestig.
DEUR FAY VAN EEDEN
“Die houer is al weer vol! Kan jy dit asseblief op die komposhoop gaan leeg maak?”
Ek verstom my aan hoe dikwels ek dit aan my man sê. Ek kan amper nie glo hoe vinnig die komposhouer in ons kombuis vol word nie. En elke keer as ons daardie skille en doppe op ons komposhoop gaan gooi, besef ek dat dit alles in die verlede in die asblik en uiteindelik by ’n stortingsterrein beland het.
LEES OOK: ‘Ons leen die aarde by ons kinders’
Ek is glad nie ’n kenner van kompostering nie. Maar wat ek wel weet, is dat kompostering ekologies baie sin maak; neem doodgewoon in ag dat ’n derde van ons huishoudelike vullis organies is.
Wat is dit?
Kompostering of verrotting verwys na die ontbinding van organiese materiaal wat met verloop van tyd die voedingstowwe daarin in die grond terugplaas. Kompostering is dus die natuur se herwinning. Dit versnel die ontbinding van kombuis- en tuinafval. En dit hou dit uit stortingsterreine waar nie-organiese materiaal die ontbindingproses sou inhibeer.
Ons huishouding het nog net twee soorte kompostering probeer:
* Ons het 14 jaar gelede met ’n wurmplaas begin. Op daardie tydstip in ons lewe het dit nie vir ons gewerk nie, grotendeels omdat, reken ek, die stelsel waarin ons belê het nie geskik was nie. Ons het dalk ook nie genoeg moeite daarmee gedoen nie. Ek is nou gereed om weer ’n wurmplaas aan te pak.
* Ons het tans ’n oop komposhoop wat baie goed werk.
Selfs die sangeres en akteur Bette Midler is opgewonde oor kompostering. Hier word sy in die Los Angeles Times aangehaal: “My whole life has been spent waiting for an epiphany, a manifestation of God’s presence, the kind of transcendant, magical experience that lets you see your place in the big picture. And that is what I had with my first compost heap.”
Hoe meer ek met ander mense hieroor gesels, hoe meer besef ek hoeveel moontlikhede vir kompostering daar is. Die keuse kan trouens oorweldigend wees. Bea Johnson gee in Zero Waste Home nege riglyne vir wanneer jy na ’n geskikte komposstelsel soek:
- Koste. Sommige stelsels (soos ’n oop komposhoop) hoef nie iets te kos nie. Ander stelsels benodig ’n struktuur. In die gees van hergebruik kan so ’n struktuur egter van oorbodige planke gemaak word, of ’n stuk van die heining om jou erf kan hom daartoe leen. Dit maak nie net ekologies sin nie, maar bespaar ook koste. Daar is talle stelsels wat te koop aangebied word. Jou begroting sal bepaal watter een jy kies.
- Ligging. Indien jou woning ’n erf het, sal ’n stelsel wat tuinafval kan hanteer ’n goeie keuse wees, terwyl ’n woonstelbewoner waarskynlik een vir slegs kombuis- en badkamerafval gaan kies.
- Sommige stelsels is regtig nie mooi nie. Neem die beskikbare ruimte in ag, asook die plek waar jy die komposteerder wil plaas. Dalk wil jy een aanskaf wat by die omgewing of dekor pas; dalk een wat kompak is of onder ’n bepaalde oppervlak of in ’n kas kan staan. As jy in ’n buurt woon wat nie sigbare komposhope toelaat nie, sal jy dalk ’n sloot-komposstelsel moet oorweeg.
- Jou dieet. Skille, eierdoppe, koffiemoer, teeblare en eierbokse kan deur die meeste stelsels hanteer word. Daar is stelsels wat selfs vleis, bene en suiwel kan hanteer. Jou dieet, en dus die materiaal wat jy wil komposteer, sal grotendeels bepaal watter stelsel die beste vir jou gaan werk.
- Eindproduk. Kies ’n stelsel wat die eindproduk sal lewer wat jy nodig het. Sou jy byvoorbeeld vloeibare kompos verkies, sal jy ’n stelsel benodig wat dit kan aftap – byvoorbeeld ’n erdwurmplaas.
- Betrokkenheid en tyd. Sommige stelsels vra meer betrokkenheid en dus meer tyd. Kies een wat vir jou hanteerbaar is.
- Vermoë. Kies ’n stelsel wat jou huishouding se grootte en die hoeveelheid afval wat julle genereer kan hanteer.
- Peste. Rotte en muise word aangetrek deur komposhope waar daar oorskietkos te kry is. Indien jy vleis, bene en oorskietkos wil komposteer, is ’n geslote stelsel waarskynlik die beste keuse.
- Honde. Oorweeg dit om ’n komposteerder te koop of te maak waarin jou troeteldier se mis gekomposteer kan word. Daar is oulike selfdoenmoontlikhede op die internet beskikbaar. Nota: Jy moet verkieslik nie die eindproduk van hierdie kompos in jou groentetuin gebruik nie.
Hoe vaar ons?
Ons gesin vaar met hierdie laaste R (Rot) die heel slegste, maar nadat ek dié artikel geskryf het, is ek gemotiveer om ’n klompie aanpassings te maak wat ons kompostering betref.
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …
Wat ons wel regkry, is om ons nat afval uit die kombuis, die as uit ons braaier, en baie van ons badkamerafval op ’n oop komposhoop te komposteer. Ek het ook besef dat ons komposhoop ’n bietjie aandag en liefde kort. Ons begaan baie van die algemene foute wat hieronder genoem word. Ons komposhoop is byvoorbeeld heeltemal te droog en word nie naastenby genoeg omgewoel nie.
My nuutgevonde motivering het my daartoe gelei om met van ons vriende te gaan gesels. In my oë is hulle ware komposkenners. Hulle gebruik tans, onder meer, ’n wurmplaas vir kombuisafval en hondemis. Volgens hulle is dit belangrik om die dieremis met kombuis- of tuinafval te meng. ’n Koerant of ’n stuk karton wat versnipper is, help met die reuk en die oortollige vog. Die wurmplaas wat hulle tans gebruik, het ’n vertikale skuifdeur waardeur die wurmtee (oftewel die urine) uitlek. Ons vriende vang dit in ’n los bakkie op en gebruik dit by hul plante.
Hoewel dit tans vir hulle werk, sou hulle voornemende wurmplaaseienaars aanraai om eerder ’n geslote stelsel aan te skaf. Die voordeel van ’n geslote stelsel is dat daar ’n afsonderlike kompartement is wat die vloeistof opvang sodat dit met behulp van ’n kraan uitgetap kan word.
Wat kan jy alles komposteer?
Afhangende van die soort komposstelsel waarvoor jy kies, kan die volgende produkte in jou komposteerder gegooi word.
- Groente- en vrugteskille
- Bamboessosatiestokkies
- Koffiemoer
- Koffiefilters
- Eierbokse van karton
- Eierdoppe
- Oorskietkos en kos waarvan die vervaldatum aangebreek het (Vermy dit indien jy ’n oop komposhoop het.)
- Los teeblare (Die meeste teesakkies word van ’n soort plastiek gemaak en is nie ten volle komposteerbaar nie.)
- Vuurhoutjies
- Vleisbene en visgrate (Moet dit nie op ’n oop komposhoop gooi nie.)
- Neutdoppe
- Skulpvisdoppe
- Ou brood
- Tandestokkies
- Waspapier
- As uit die braaier of kaggel
- Sommige mense gooi gebruikte papierservette en papierhanddoeke, asook vuil papier en vuil karton (byvoorbeeld gebruikte pizzabokse) in die komposteerder.
Ons topwenke
- Doen eers navorsing
Doen genoeg navorsing voordat jy op ’n komposstelsel besluit. Daar is wonderlike hulpmiddels op die internet beskikbaar. Kortom: Lees, lees, lees. En nadat jy die leeswerk afgehandel het, praat met mense wat al ’n ruk lank suksesvol komposteer. Dis ’n goeie idee om met mense in jou omgewing te gesels oor wat werk en wat nie werk nie.
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #2: Een ou se gemors, ander se skat en ander minder maak-idees
- Kry ’n houer vir die kombuis
Die kombuis is die beste plek om ’n houer vir nat afval (onder meer skille) beskikbaar te hê. Wanneer jy ’n houer kies, maak seker dat dit groot genoeg vir jul huishouding se behoeftes is. Jy wil nie elke paar ure of selfs elke dag komposhoop toe stap nie. As die houer sigbaar is, kies een wat by jou kombuis pas. Dalk is dit boonop mooi vir jou! Dis ook belangrik om die houer op ’n sinvolle plek neer te sit, byvoorbeeld onder die wasbak. Of waar jy gewoonlik groente skil.
- Moenie daardie blare weggooi nie
Baie mense hark die blare in die tuin bymekaar, tel dit op en gooi dit in die asblik. Dan ry hulle kwekery toe om kompos vir hul beddings te gaan koop. Hark eerder daardie blare in die beddings in. Die blare sal mettertyd ontbind, en dit sal nie net jou grond en plante voed nie, maar ook ’n habitat vir klein insekte skep. Uiteindelik word voëltjies op dié manier na jou tuin gelok. Die oortollige blare kan op die komposhoop ’n tuiste vind, of bloot op ’n hoop in die hoek van jou tuin kom.
- Onthou van die badkamer
Dis die moeite werd om ook ’n mooi houer vir jou badkamer aan te skaf. Al gebruik jy (nog) nie die meer volhoubare produkte soos bamboestandeborsels nie, kan jy steeds die hare uit jou borsel of elektriese skeermes komposteer, en moenie van naelknipsels vergeet nie.
- Skenk jou kompos
Indien jou komposstelsel meer produseer as wat jy self kan gebruik, skenk dit aan ’n ouetehuis, kinderhuis, tuinklub of kerk. Jy kan dit ook op ’n sosiale media-groep adverteer.
- Aanlyn aankope
Die pandemie het ons geleer om baie meer inkopies aanlyn te doen. Die plastiekverpakking waarin baie produkte gekoerier word, kan nie herwin word nie. Daar is wel baie oulike komposteerbare verpakking beskikbaar, byvoorbeeld Mieliemailer wat 100% komposteerbaar is. Wanneer jy dus ’n aanlyn bestelling plaas, doen navraag oor die verpakkingmoontlikhede. Die enigste manier waarop sakeondernemings enigiets aangaande verpakkingmateriaal gaan doen, is indien verbruikers daarop begin aandring.
Die mees algemene foute by oop komposhope
- Versuim om kompos om te woel
’n Komposhoop kan nie hitte genereer sonder genoeg suurstof nie. En sonder hitte word organiese materiaal baie stadig afgebreek. Deur jou komposhoop gereeld met ’n tuinvurk om te woel, vul jy die kern van die hoop met suurstof, wat dan die verrotting aanhelp. Volgens kenners is dit ideaal om dit elke dag te doen, maar minstens een keer per week.
- Te veel of te min water
Vog is ook ’n kritieke element in die verrottingproses. Maak dus seker jou komposhoop is altyd klam. Dit moet nie té nat wees nie, aangesien te veel vog ook ’n negatiewe uitwerking op ’n komposhoop se suurstofvlak kan hê. Volgens die kenners behoort ’n komposhoop soos ’n klam maar uitgedrukte spons te voel.
- Vleis en olierige produkte
Vermy vleis, bene en olierige produkte. Nie net kan dit peste lok en jou komposhoop laat stink nie, maar dit breek ook baie stadig af. Indien jy sulke dinge wel wil komposteer, kry ’n stelsel wat dit kan hanteer.
- Siek plante
Moenie siek plante uit jou tuin op die komposhoop gooi nie. Sommige oop komposhope se kern word nie warm genoeg om hierdie siektes dood te maak nie.
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik
’n Klompie moontlike komposstelsels waaruit jy kan kies
“Tumbler”-stelsel
Dié komposstelsel kos sowat R4 000. Jy gebruik klein hoeveelhede tuinafval maar geen vleis, bene, suiwel of hondemis nie. Die nadeel is dat dit peste lok en lomp is omdat dit moeilik is om om te woel wanneer dit vol is.
Keëlstelsel
Dis relatief goedkoop en sal jou sowat R1 000 uit die sak jaag. Dié komposstelsel bevat slegs hondemis, vleis, bene en suiwel wat beteken dit lok ook peste. Die stelsel hoef slegs elke 2 tot 3 jaar leeggemaak te word, maar dis morsig om leeg te maak. Jy benodig soms die poeier wat verrotting aanhelp.
Oop komposhoop
Dié komposstelsel bevat slegs tuinafval en is gratis om in stand te hou. Jy moet dit egter gereeld omwoel en nat hou.
Wurmplaas
Dié komposstelsel bevat tuinafval, maar nie houtagtige materiaal nie. Jy gebruik ook hondemis, maar moet dit apart hou. Die goeie nuus is dat dit nie peste lok nie. ’n Wurmplaas sal jou tussen R600 en R2 500 uit die sak jaag. Vermy knoffel, uie en takkies. Onthou om jou wurmplaas binne toe bring in baie koue weer.
Bokashi-stelsel
Dié komposstelsel bevat tuinafval (maar te min om werklik prakties te wees), hondemis (apart), vleis, bene en suiwel. Die stelsel sal jou tussen R500 en R2 500 kos. Jy benodig bokasie-mengsel om die stelsel te laat werk. Onthou ook die eindproduk moet met grond of kompos gemeng word om bruikbaar te wees.
Ons kyk terug
Ek kan byna nie glo ons is aan die einde van @plastiekvryejulie nie! Die uitdaging om Bea Johnson se 5 R’e in ons lewe te integreer, is op sy einde. Maar die veranderings wat ons aangebring het, sal altyd deel bly van ons huishouding en leefwyse. Ons het so baie in die afgelope maand ervaar en geleer.
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #4: Herwin! Herwin! Herwin!
Hier is, ten slotte, ’n klompie dinge wat ons altyd sal bybly:
- ’n Groter bewustheid. Ek het in die afgelope maand anders begin kyk na alles wat ek in my huis inbring. Ek het skielik bewus geword van die groot klomp verbruikersgoedere wat ons in ons huis het, en hoe baie daarvan ons eintlik nie gebruik of benodig nie. Ek is ook intens bewus van die hoeveelheid enkelgebruikplastiek wat deel van ons lewe vorm. Dis vir my moeilik om by ’n winkel in te stap en al die plastiekverpakking te sien en te weet dat ’n groot deel daarvan nie herwin kan of gaan word nie.
- Om meer volhoubaar te leef, en plastiekvry(er), is in sekere opsigte maklik en in ander onmoontlik. ’n Mens kan maklik moedeloos Ons het geleer om elke verandering en oorwinning, hoe klein ook al, te vier.
- Daar is fantastiese alternatiewe vir plastiek. Ons was verstom oor al die kreatiewe en vernuftige moontlikhede.
- Een van dié maand se wonderlikste ontdekkings was die talle klein eko-vriendelike sakeondernemings wat ons pad gekruis het. Hier is enkeles: https://therefillery.co.za/ ; https://naturallife.co.za/ ; https://theunwrappedco.co.za/
- Ons het ook geleer dat ons nie alleen is nie. In ’n wêreld wat deur ’n verbruikerskultuur oorheers word, kan die reis na ’n meer volhoubare leefwyse ’n eensame tog wees.
Daarom, baie dankie aan almal wat gedurende die afgelope vyf weke saam met ons gereis het. Dankie vir elke boodskap en wenk, en vir almal wat iets vertel het van waarmee hulle besig is. Dis lekker om te weet dat ons deel is van ’n groter gemeenskap vir wie die bewaring van ons planeet belangrik is.
Reis gerus verder saam met ons op Instagram of op Facebook by Enroutefoodie. Of gaan loer na my blog by https://enroutefoodie.co.za/