Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Pornografie en seks op my kind se selfoon

Kinders kyk nie meer pornografie in ’n weggesteekte tydskrif nie ... Toegang tot selfone en WiFi het alles veander. Maar daar ís maniere om jou kind te beskerm en te help.

Nee, kinders kyk nie meer pornografie in ’n weggesteekte tydskrif nie. Daar is baie makliker moontlikhede, en boonop spotgoedkoop. Daardie rekenaar in die kamer, en veral die selfoon waaraan hulle so verknog is en waarmee hulle so vaardig is …

Meer as twee dekades gelede het die Amerikaanse Justisiedepartement in ’n verklaring gesê: “Nog nooit in die geskiedenis van telekommunikasie in Amerika was daar soveel onbetaamlike en onwelvoeglike materiaal so geredelik vir kinders beskikbaar nie.” Dit was ’n paar jaar nadat die internet ’n werklikheid geword het, lank voor slimfone of WiFi.

Toegang tot pornografie

Deesdae maak selfoontoegang die beskikbaarheid van onder meer pornografie so maklik soos die druk van enkele knoppies. Een van die wêreld se voorste porno-vervaardigers beweer dat 52% van die VSA-gebruikers van hul “produkte” die toegang daartoe deur selfone verkry. En ’n verdere 10% gebruik hul tablette daarvoor.

Ongeag die persentasies en beweerde persentasies, is dit ’n feit dat moderne tegnologie die toegang tot pornografie oneindig vergemaklik, en dan boonop waar en wanneer die “gebruiker” wil. En boonop anoniem. En, so weet almal, amper elke kind het ’n selfoon …

Die Amerikaanse statistieke is angswekkend

In Amerika is die volgende bevind:

  • 90% van die seuns en dogters tussen 13 en 14 het gesê dat hulle reeds ten minste een keer aan pornografie blootgestel is;
  • 35% van die seuns het gesê dat hulle dit al meer kere gekyk het as wat hulle kan onthou;
  • 70% van die seuns en byna 25% van die dogters het gesê dat hulle al ten minste een keer langer as 30 minute na aanlyn­pornografie gekyk het.

Suid-Afrikaanse jeug en pornografie – Wat sê die statistieke?

Dr Antoinette Basson, ’n sielkundige verbonde aan die jeugnavorsingseenheid by Unisa se Buro vir Marknavorsing, sê dat aanlynpornografie ook onder die Suid-Afrikaanse jeug ’n groot probleem is. ’n Studie deur dié eenheid fokus sedert 2010 op die aanlyngedrag en -veiligheid van Suid-Afrikaanse kinders tussen 12 en 18 jaar.

In 2016 is daar spesifiek op pornografie en seksuele uitbuiting gefokus. Die studie onder 2 890 leerders in Gauteng het getoon dat meer as die helfte van die leerders reeds blootstelling aan pornografiese materiaal gehad het.

Die meeste van hierdie blootstelling was aanlyn, dikwels wanneer die kinders op soek was na vermaak of inligting vir skoolprojekte. In ander gevalle is hulle deur vriende daaraan bekendgestel. Die studie het ook bevind dat kinders aan ’n wye verskeidenheid pornografie blootgestel is.

Pornografie is ’n verslawing

Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige in Garsfontein, Pretoria, werk met kinders wat aan trauma of mishandeling blootgestel is. Sy bevestig dat pornografie ’n baie groter probleem is as wat die meeste ouers en onderwysers van bewus is.

“Pornografie is verslawend, en kinders word dikwels van jongs af deur hul selfoon en ander tegnologie daaraan blootgestel. Soms is dié blootstelling toevallig en ander kere geskied dit doelbewus.

“Sommige kinders neem selfs naak­foto’s van hulleself of van mekaar en stuur dit dan aan ander deur hul selfoon. Of hulle pers mekaar daarmee af. Kinders so jonk soos graad R is al na my gebring omdat hulle aan pornografie verslaaf is.

“Die blootstelling aan pornografie het ’n groot invloed op kinders se liggaamsbeeld en hul begrip van seksualiteit. Vir baie kinders is die internet die plek waar hulle van seks leer en waar hul nuuskierigheid bevredig word.

“Gemanipuleerde foto’s skep vals beelde en verwagtings van seksuele verhoudings. Dit beeld veral vroue op ’n afbrekende wyse uit.“

“Boonop word baie kinders met verkragtingspornografie gekonfronteer – en dan assosieer hulle seks met geweld. Navorsing deur CIET Africa het byvoorbeeld bevind dat baie kinders daarvan oortuig is dat dogters alle soorte seksuele aggressie geniet.”

Ouers is heeltemal onbewus

Volgens Marita is baie ouers heeltemal onkundig betreffende die beskikbaarheid van pornografie en die potensiële uitwerking daarvan op hul kinders. Hulle weet nie wat die kinders met hul selfoon doen nie en word dikwels erg ontnugter wanneer hulle uitvind.

“Baie van die kinders se blootstelling aan pornografie geskied agter ’n toe kamerdeur, in ’n badkamer of by die skool. In baie gevalle kyk kinders snags, wanneer die huismense slaap, op hul slimfoon na pornografie.

“Kinders kry dit soms reg om hulle skool se WiFi-kode te ontsyfer en gebruik dan daardie data om na pornografie te kyk. En natuurlik het baie winkelsentrums en restaurante gratis WiFi. Hulle leer baie vinnig om hul aanlyngeskiedenis uit te wis en selfs om ’n ander aanlynprofiel vir hulleself te skep.”

Hoe om jou kind te help

Marita vertel dat baie ouers ongelukkig eers die waarheid agterkom wanneer hul kinders begin om ontoepaslike gedrag te openbaar, seksuele gedrag met ander kinders inisieer of ’n seksuele verhouding aanknoop. In ander gevalle kan kinders eensklaps begin sleg slaap, hulle kry nagmerries of hulle bring skelm tyd op hul selfoon deur.

“Bly kalm,” is Marita se raad aan ouers. “Baie kinders bly juis stil omdat hulle bang is dat hul ouers baie kwaad gaan wees. Indien jy agterkom dat jou kind aan pornografie blootgestel is of gereeld daarna kyk, het hy of sy jou hulp nodig.

“Moenie jou kind verskreeu of verkleineer nie. Verduidelik aan hom of haar dat dit verkeerd is, maar dat julle die probleem as ’n span gaan aanpak. Soek professionele hulp, veral as dit al meer as een keer gebeur het.”

Beskerm jou kind só

  • Ouers moet weet wat hul kinders met hul selfoon doen. Stel saam met jou kinders ’n onderneming op dat jy na hul selfoon mag kyk. Praat rustig met hulle indien jy iets daar vind wat nie reg is nie, en vertel hulle waarom jy daaroor bekommerd is. Gee hulle die vaardighede om self te kan onderskei.
  • Kinders moet teen die tyd wat hulle skool toe gaan, weet wat pornografie is. Verduidelik aan jou kinders dat sekere mense kaalfoto’s neem en versprei, dat dit verkeerd is en moedig hulle aan om jou dadelik te kom vertel indien hulle met so iets gekonfronteer word.
  • Sorg dat julle sagteware aflaai wat verdagte webwerwe kan identifiseer en blokkeer. Die meeste slimfone het gratis sagteware beskikbaar wat kinders kan beskerm. Besoek CovenentEyes en Kaspersky Safe Kids vir meer inligting.
  • Beperk die tyd wat jou kinders met ’n selfoon of ’n rekenaar deurbring. Kinders moet openlik, en in ’n plek soos die huis se sitkamer, die internet gebruik. Moenie ’n rekenaar in jou kind se kamer toelaat nie en moenie toelaat dat hy of sy saans met ’n selfoon kamer toe gaan nie.
  • Kinders onder tien moenie die internet sonder toesig gebruik nie. Ook ouer kinders het steeds ’n verantwoordelike volwassene in hul omgewing nodig.
  • Kinders moenie toegelaat word om sonder toestemming toepassings (apps) op hul foon af te laai nie. Vergewis jou van die spesifieke toepassing voordat jy toestemming daartoe verleen.
  • Leer kinders van kleins af om eers vir die betrokke persoon of persone toestemming te vra wanneer hulle foto’s met hul selfoon neem of aanstuur.
  • Sorg vir ’n oop verhouding met jou kind en bemagtig hom of haar met die regte inligting oor seks. Maak seker jou kinders weet wat God se plan met seks is. Kinders is baie nuuskierig hieroor, en wanneer hul ouers nie bereid is om daaroor met hulle te praat of om hul vrae te beantwoord nie, gaan soek hulle op die internet na inligting – en dan meestal met katastrofiese gevolge.

Verdere feite oor kinders en pornografie

Kenners is dit met mekaar eens: Pornografieverslawing moet met dieselfde erns en omsigtigheid as dwelmverslawing hanteer word. Net soos met dwelmgebruik, word dopamien en endorfiene vrygestel wanneer iemand na pornografie kyk. En net soos met dwelms, bereik die gebruiker gou ’n versadigingspunt, sodat meer en “harder” pornografie nodig is om dieselfde gevoel van bevrediging te bereik.

Antoinette sê: “65% van die kinders wat in ons studie ondervra is, het aangedui dat blootstelling aan pornografie hulle aangemoedig het om seksueel aktief te wees, 59% het gesê dat hulle nuuskieriger oor seks geword het en 37% dat die pornografiese materiaal hulle op ’n ander manier na mans en vroue laat kyk het. Ná die aanvanklike blootstelling het 48% van die kinders voortgegaan om na pornografie te kyk – en boonop weekliks of selfs daagliks.”

LEES OOK MEER HIER:

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.