Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Prostitusie-bediening: ‘God verander straatvroue se hooplose lewe op wonderbaarlike maniere’

DEUR CONETTE LE ROUX

’n Vrou wat in ’n struktuurtjie langs die treinspoor woon en haar inkomste met prostitusie verdien; ’n Zimbabwiese vrou wat haar lyf verkoop om vir haar familie in haar geboorteland te sorg; ’n Nigeriese meisie wat deur ’n mensehandelsindikaat onder vals voorwendsels na Kaapstad gelok is en nou haar skuld op straat afbetaal.

Dié tragiese verhale is maar ’n druppel aan die emmer vol hooploosheid wat Madri Bruwer die afgelope 27 jaar gehoor en gesien het. Sy het in 1995 as bloedjong jeugwerker by Straatwerk in Parow aangemeld, en spesifiek die bediening aan prostitute.

“Ek wil graag hier wees,” sê Madri steeds. “Ek is opgewonde oor wat die Here doen, en ek is dankbaar vir die wyse waarop Hy my roeping hier bevestig.”

Madri vertel hoe Pietie en Annette Victor ongeveer 60 jaar gelede die middestadbediening in Kaapstad met ’n geleende kombi begin het. “Oom Pietie het altyd gesê dat prostitusie die rommelhoop van die samelewing is.

Nie die ménse nie, maar die misbruik, die morele waardes, die verval …

“Maar ná alles wat ek gesien en ervaar het, was daar nog nooit iemand wat nie deur die Here gehelp is nie. Dat ons egter geduldig moet wees, dat ons Hom moet vertrou, dat die pad moeilik is en dat dit lank is – dít is ook waar.”

“Dis nét die Here wat mense se lewe kan verander,” sê Madri Bruwer wat die afgelope 27 jaar by prostitusiebediening betrokke is. Foto: VrydagNuus

Bestemming: Hoop

Ons gesels op ’n Woensdagoggend by Straatwerk se kantore. Woensdag is een van die twee dae in die week dat vroue wat voorheen hul brood en botter op straat verdien het hier bymekaarkom. Hulle skakel in by Journey of Hope, ’n oorbruggingsprogram waar die vroue holisties begelei word om dissipels te wees, om agente van verandering te word.

LEES OOK: ‘Al wat ek van hom kon sien, was sy voetjies’

Tans is daar nege vroue wat vir ’n beter lewe gekies het. Dit sluit ’n 22-jarige Nigeriese vrou in wat uit die kloue van ’n mensehandelsindikaat ontsnap het, ’n 26-jarige Suid-Afrikaner wat besig is om in selfstandigheid en mawees te groei, en ’n 32-jarige Zimbabwiese vrou wat Family Business-take doen om haar gesin te versorg. Family Business behels die vervaardiging van verskeie items wat die vroue dan in hul gemeenskap gaan verkoop.

By Journey of Hope ontvang die vroue onder meer terapie, berading en geestelike begeleiding. Hulle leer ook lewens- en beroepsvaardighede aan. Madri verduidelik dat die terapeutiese span interdissiplinêr saamwerk. Die span sluit ook ’n arbeidsterapeut in, en ’n beroepsafrigter wat vroue gereed maak om hul plek in die beroepswêreld vol te staan.

Volgens Madri het die vroue baie emosionele skade opgedoen, hoofsaaklik vanweë verskeie disfunksionele verhoudings. “Die wortel van hul probleem lê amper altyd by misbruik en verwaarlosing op ’n jong ouderdom, in ’n tyd toe hulle onvoorwaardelike liefde moes ervaar.

“Die een kant van trauma is om nié te ontvang wat nodig is nie; die ander kant is dat dinge met jou gebeur wat nooit moes gebeur het nie. Jong meisies beland dikwels in prostitusie omdat hulle van ’n tragiese gesinslewe wil ontvlug en desperaat op soek gaan na wat hulle nodig het.”

Aan Journey of Hope se hart lê liefdevolle verhoudings waarin die vroue kan heel word en groei. Madri sê: “Iemand wat op straat staan, word genooi na ’n familie vol vrede, liefde en geduld. Ons wil die vrug van die Gees uitleef. Ons almal glo dat ons die Here nodig het vir enige transformasie om plaas te vind. Die liefde van God dring ons.

LEES OOK: ‘My lesse langs ander se sterfbed’

“Die besef dat almal uit ’n lewe van prostitusie na ’n lewe van aanbidding genooi word, verander die manier waarop ’n mens na vroue kyk wat in prostitusie vasgevang is. Daar is inderdaad hoop vir ons almal!”

Gemaklik met ongemak

Die groepie vroue wat vanoggend vir hul take en vir lofprysing aangemeld het, het nie vanself op Straatwerk se stoep beland nie.

Madri verduidelik hoe daar, behalwe vir die Journey of Hope-program, ook spanne so ver soos Athlone en Stellenbosch werk wat na prostitute uitreik. Vrydagaande, en soms helder oordag, bring die mense van Straatwerk hul boodskap van God se liefde. Met die hoop dat die vroue hulle sal kontak vir hulp.

“Die vroue moet self die keuse maak om van prostitusie weg te stap. Hulle moet dan eienaarskap van hul situasie neem. Elke vrou is ’n individu, en so wil ons die pad saam aanpak.

“Dis ’n holistiese proses: Ons ondersteun die betrokke vroue op allerlei praktiese maniere. Soms is detoks ná dwelmmisbruik ’n kritiese stap in die opgee van dié leefwyse. Ander kere moet ’n vrou na ’n nagskuiling verskuif word, of sy het ondersteuning nodig om huur te betaal en vir basiese behoeftes.

“Die kerk het reeds alles wat op dié pad nodig is. In ons hande en in ons hart is die gawes en die vrug van die Gees. En dis presies wat elk van daardie vroue nodig het, en wat elkeen van ons benodig.”

Ons gesels oor die lewe op straat. “Vroeër jare was baie vroue wat in prostitusie vasgevang is in die Kaapse hawe bedrywig,” vertel Madri. “Deesdae tref ons hulle hoofsaaklik in Langstraat aan, in Woodstock, Brooklyn en Soutrivier.”

Volgens haar is dit nie gevaarlik op straat nie. “Jy moet wel gemaklik wees met ongemak, en vertrou dat die Here jou in al die verskillende situasies sal lei.

Daar gebeur soms vreemde dinge. Jare gelede was ons besig met persoonlike gesprekke toe ’n man daar aankom en sê: ‘I want to kill somebody.’ Ek het net gesê: ‘Sorry sir, we are not available.’ En hy het omgedraai en weggestap.”

Madri lag. “Deur al die jare is ek net een keer raakgeslaan. En dis omdat ’n vrou die een wat sy éintlik wou bykom, misgeslaan het.”

Hoewel die lewe van mense op straat feitlik altyd hooploos lyk, kry dit Madri nie onder nie. “Dis nét die Here wat mense se lewe kan verander,” sê sy. “En Hy doen dit op wonderbaarlike maniere. Hy is ons wonderbaarlike Hoop.”

‘Net deur die Here se genade’

Een van die vroue wat Madri sowat 17 jaar gelede op straat leer ken het, het jare lank die straatwerkers se boodskap van hoop geïgnoreer. “Ek was nooit lus vir hulle nie,” sê Karen*. “Ek het altyd gesê: ‘Julle gaan my kliënte afskrik!’

Dié 48-jarige vrou met haar moderne rooi haarstyl en stylvolle rok kom kuier vandag weer by die Journey of Hope-span. Die afgelope drie jaar werk sy nie meer as prostituut nie; sy het dit prysgegee om ’n versorger vir ’n 80-jarige vrou te wees.

Karen vertel dit was ’n lang rehabilitasie-pad, wat ’n kursus in die versorging van verswakte bejaardes ingesluit het. “Twee jaar gelede het ek nog tik gerook. Deesdae is ek vet, noudat ek nie meer dwelms gebruik nie.” Sy wys na een van die skraal vrouens wat tans die Journey of Hope-program volg. “Ek was altyd so maer soos sy.”

Daar was traumatiese ervarings in haar jare as prostituut. Karen onthou: “Ek was nog in my twintigs toe ’n kliënt my eendag oplaai en my na ’n stuk oop veld neem. Hy het gesê dat hy my nie gaan betaal nie. Hy het my verkrag, en toe begin hy ’n graf grawe. Ek het nou nog ’n merk op my bors waar hy my met die agterkant van die graaf geslaan het.”

Sy onthou hoe sy gehuil en gesmeek het. En hoe hy skielik van plan verander het. Hy het haar uiteindelik gaan aflaai waar hy haar vroeër opgelaai het. “Ek glo dat die Here daar sy eerste wonderwerk vir my gedoen het,” sê sy.

Karen se dwelmverslawing het haar egter jare lank in dié vernietigende beroep gehou. Sowat drie jaar gelede het daar egter ’n keerpunt gekom. Sy vertel: “Albei my ouers was reeds oorlede, en my dogter wou niks met my te doen gehad het nie.”

Karen het die straatwerkers onthou, vir Madri gekontak en die Journey of Hope-program begin volg. Daar het sy tot bekering gekom. “Ek besef my redding was net deur die Here se genade.”

Sy sê dat haar dogter steeds geen kontak met haar wil hê nie. “Maar ek hou aan bid …”

*Karen verkies om anoniem te bly.

  • Raak betrokke by Straatwerk deur gebed, deur jou tyd te gee, of om geld of ander skenkings by te dra. Kontak Madri by madri@straatwerk.org.za of skakel 072 179 8378.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.