Die tyd ná jou aftrede is ’n volwaardige lewensfase, een waaroor jy nou al kan droom. En waarvoor jy vroegtydig moet beplan. Dis ’n tyd vol nuwe uitdagings en ontdekkings waarin jy die kans het om te gee én terug te gee.
Dis ’n statistiese feit dat ál meer mense ál langer leef. Die Wêreldgesondheidorganisasie het dan ook 2020-2030 die “dekade vir gesond ouer word” geoormerk. Dis hierdie fokus op ouer word wat dr Thys Smith op 79 geïnspireer het om meer hieroor na te lees. En oplaas ’n boek te skryf in die hoop dat dit mense sal help. In dié boek, Anderkant 65 – oor aftrede en daarna, raak hierdie afgetrede predikant aan 50 temas wat vir mense in hierdie lewensfase belangrik is.
Ons kuier by sy huis op Wellington, en hy verduidelik dat hy uit die navorsing vir sy boek asook uit eie ervaring tot die volgende insig gekom het: Wanneer jy aftree, tree jy eintlik aan vir ’n nuwe lewensfase. Dis een met sy eie uitdagings, wat ook nuwe geleenthede bied, en volop dinge om te geniet. Thys sê hy het nog lank nie afgetree nie. Inteendeel. Hy bestuur saam met sy dogters ’n “reisende klaskamer”projek vanuit Wellington.
Dr Melodie de Jager staan aan die hoof van die Mind Moves Instituut, ’n organisasie wat op neurowetenskap fokus. Sy is ’n gewilde spreker en skrywer. Sy sê sy geniet wat sy doen, én dit verseker dat sy selfonderhoudend is. Hierdie ouma van agt het in ’n RSG-gesprek met die omroeper Lizelle de Bruin gesê: “Jou aftree-jare kan die tyd wees dat jy jou kleintydse drome uitleef, dié wat jy destyds ver weggebêre het.”
Melodie sê een van die moeilikste dinge wat ’n mens – ongeag jou ouderdom – moet besef, is dat niemand jou enigiets skuld nie. Haar raad is dat jy volle verantwoordelikheid vir jou denke moet aanvaar, en vir jou emosies en jou optrede. As jy dit regkry, én jy is dankbaar, is jy goed op weg na ’n lewe vol interessante verwikkelings. “Dié dinge werk soos ’n magneet: Dit trek gesondheid aan, dit stimuleer positiwiteit, en dit gee bruisende energie om te wil beweeg en betrokke te wees.”
LEES OOK: ‘Ek moes aanvaar dat Kersfees nou vir my ʼn solo-ervaring is – en hier is my wenslysie’
Leon Venter van Pretoria is ’n 60-plusser. Hy sê dit was aanvanklik vir hom moeilik om vrede te maak met sy aftrede. Vandag besef hy dit is eintlik ’n uitnodiging tot ’n nuwe begin. Hy het laat in sy lewe met ’n gesin begin en daarom het hy gereken om te werk totdat hy nie meer kon nie. Hy het ’n bestuursposisie beklee en sy planne was agtermekaar. Maar toe gebeur drie dinge: Hy moes ’n groot operasie ondergaan; sy vrou het ’n nuwe pos gekry (wat beteken het hulle moes verhuis) en sy werk het hom op verpligte verlof geplaas omdat hy op die rand van uitbranding was.
“Wat ek gou geleer het,” vertel Leon, “is dat aftrede veel meer as ’n finansiële of praktiese skuif is; dis ’n lewensoorgang, met sy eie fases en eie uitdagings.”
Beplan vroeg, wees prakties
Die kundiges reken dat jy twee dinge nodig het wanneer jy aftree: genoeg om van te lewe, en genoeg om voor te lewe. As jy al twee het, is jy baie bevoorreg.
Al hoe meer afgetredenes probeer so lank moontlik werk, al is dit as konsultant of mentor op die gebied waarin hulle gewerk het. Vir baie is dit noodsaaklik, finansieel én emosioneel gesproke. Thys sê hy sien elke dag hoe mense verskillende maniere vind om ’n aanvullende inkomste te genereer, selfs ná deeglike beplanning en met ’n goeie pensioenfonds.
Ons lewe doodeenvoudig te lank … en soms word jy gedwing om vroeër op te hou werk as wat jy beplan het. Leon sê daar was veral twee dinge wat hom in daardie moeilike tyd gehelp het. Die eerste was dat hy vir die Neuro Coach Method-kursus ingeskryf het. Dit het hom nuwe vaardighede geleer, dinge wat hy vandag gebruik om ander te help wat besig is om ’n oorgang in hul lewe te bestuur. Leon sê dit gee hom hoop dat hy op hierdie manier iets vir ander kan beteken. Die tweede ding wat hom gehelp het, was dat hy ’n kamera aangeskaf het. Sodoende kan hy nou sy liefde vir fotografie uitleef. Leon se raad is dat ouer mense inkomstestrome moet bou uit dit wat hulle reeds weet of wat hulle voorheen gedoen het.
Hy sê daar is verskeie kreatiewe maniere om twee of selfs drie sulke inkomstebronne te skep. Hou die volgende in gedagte, sê hy:
• Gebruik jou kennis en ervaring. Word ’n mentor; rig jonger mense af; bied ekstra klasse aan; word ’n konsultant.
• Bou jou stokperdjie uit tot ’n sakeonderneming. Verkoop jou handgemaakte produkte aanlyn of op markte; beoefen tuinbou en verkoop die opbrengs in jou omgewing; bak of kook op bestelling of vir ’n plaasmark.
• Gebruik tegnologie op ’n slim manier. Doen aanlyn verkope via Facebook Marketplace, Takealot of Etsy; skep eenvoudige video’s oor iets wat jy besig is om aan te leer; help met tikwerk of redigering. Beplan vroeg, wees prakties Die kundiges reken dat jy twee dinge nodig het wanneer jy aftree: genoeg om van te lewe, en genoeg om voor te lewe. As jy al twee het, is jy baie bevoorreg.
• Lewer diens in die gemeenskap. Pas kinders of troeteldiere of selfs huise op; help ander met vervoer of inkopies.
• Gebruik jou huis of eiendom. Verhuur kamers aan studente of jong werkendes. As jy in ’n toeristebestemming bly, registreer by Airbnb en verhuur kamers aan gaste. Verhuur jou sleepwa, grassnyer of gereedskap.
• Sluit vennootskappe met jonger mense. Die reëling is eenvoudig: Jy bring die kennis en ervaring, en hulle bring die tegnologie en lewenskragtigheid. Byvoorbeeld: Jy bak brood en jou kleinkind verkoop dit.
’n Positiewe ingesteldheid
Melodie sê ’n mens moet onthou dat dit ’n voorreg is om te kan oud word. Sy gee die volgende wenke wat jou kan help om jou dag op ’n positiewe noot te begin:
• Wees dankbaar dat jy wakker geword het.
• Jy moet ’n plan hê vir dié dag. Besluit op ’n bederfie vir jouself. Besluit na wie jy vandag gaan uitreik, of wat jy vandag gaan verskuif, regmaak of poets. Die stelselmatige afmerk van sulke doenbare dinge skei goedvoel-hormone af wat jou gesondheid ’n hupstoot gee.
• Kry jou sintuie wakker. Vryf jou ore. Draai jou oë in alle rigtings voordat jy jou bril opsit.
• Omring jou met mense wat léwe!
Elke mens se aftrede-storie is uniek. Thys sê hy het wel besef daar is bepaalde dinge wat by ongeveer almal voorkom. Een van die vernaamste hiervan is ingesteldheid. “Ongeag watter groot besluit geneem moet word, ons geluk sal in ’n groot mate afhang van wat ons self met so ’n besluit of keuse maak.”
Die belang van verhoudings
In die meeste beroepe is dit so dat jy mense om jou het. Thys sê hy kom agter dat mense wat aftree die gemis aan hierdie soort kontak as ’n groot leemte ervaar. Hy vertel dat die ouer mense tydens sy boekpraatjies (altesaam 37 praatjies binne ses maande!) hom vra om jonger mense op dié leemte te wys. Om hulle aan te raai om voor hul aftrede moeite te doen om, ook buite die werkomgewing, vriendskappe te bou en verhoudings te vestig.
Hy wys op die Nuwe Testament-verhaal van die ryk jong man (onder meer in Lukas 18:18-30) en hoe Jesus die noodsaak van verhoudings onderstreep. Hoe Hy die jong man vertel dat die belangrikste verhouding dié tussen jou en jou Here is. En dat jy moet sorg dra dat jou verhouding met jou medemens gesond is.
* Dr Thys Smith se boek Anderkant 65 – oor aftrede en daarna is beskikbaar by CLF (R230). Koop dit aanlyn by www.shop.clf.co.za of by enige CLF-boekwinkel of stuur ’n e-pos aan order@clf.co.za.

















