Kersfees is ʼn tyd om stil te wees. ʼn Tyd om die koffers vol onthou af te stof en uit te pak. ʼn Tyd om griewe te begrawe en mekaar lief te hê. Om barmhartig te wees teenoor die vreemdeling in jou poorte. Dis ʼn tyd vir sinvolle oordenking en nuwe onthou.
Jesus is vir ons gebore om ook in ons ʼn nuwe skepping tot stand te bring. Sy nederige aankoms was sonder glans. Tog het die engele gesing.
Al die opwinding, wat reeds sedert Oktobermaand in die winkels te bespeur is, laat my dink aan nóg ʼn Kersfees wat ek alleen sal deurbring. Ek is 65 jaar oud, en ek kon baie jare lank Kersfees saam met my kinders vier.
Toe “gebeur die lewe”. Dis kinders het grootgeword en elkeen het nou ʼn eie gesin. Ek moes dus noodgewonge leer aanvaar dat Kersfees soms ʼn solo-ondervinding is. En elke jaar beweeg ek nader aan my eie alleen-Kersboom. Baba-treetjies, maar darem.
Ek sien hulle in elke Kersfees-ster
My jongste krummel woon oorsee, en ek het ʼn paar jaar gelede die voorreg gehad om geskenke onder hul boom oop te maak. In ʼn koue, nat, ouwêreldse dorpie in Wallis. Hier kon ek deel hê aan dit wat ek in elke Kerstyd so baie mis – my mense.

Familie is ook in Wallis baie belangrik, en die samehorigheid tydens Kersfees was iets om te beleef.
Maar sedertdien kry my Walliese kleinkinders elke jaar ʼn onpersoonlike aanlyn geskenkie. Al sou ek dit so graag anders wou hê, moet ek eenvoudig my hart in watte toedraai totdat Kersdag verby is.
Ek wil egter hê dat hulle dié dag as iets spesiaals sal ervaar. My wens is dat hulle sal onthou dat dit ʼn Christusfees is. Ek sien my kinders daar ver se gesigte in elke blink Kersfees-ster. Ek mis hulle só …
LEES OOK: ’n Brief vir Simeon op Oukersaand: ‘Hoe lewe ons sonder jou?’
Wanneer die Kersfees-oproep kom, hoor ek die opgewonde gekwetter: “Kyk wat het Kersvader vir mý gebring!”
My gesprek met my dogter, 10 000 kilometer ver, getuig van ons verlange na mekaar. Ek druk haar Kerswense teen my hart. Ek besef telkens dat die band tussen ʼn ma en haar dogter nie deur afstand verswak word nie, inteendeel.
My seun en sy gesin bring hul Kersfees gewoonlik by die see deur, by die ander ouma en oupa. My gemis aan ʼn Kersfees saam met hulle is minder fel, omdat ek hulle darem dikwels sien.
My behoeftes, en my lysie
Ek het in die Kerstyd ʼn groot behoefte aan stilte. Maar neffens my beskeie nessie is ʼn groot winkelsentrum waar dit nooit regtig stil word nie. Ek sit en kyk na die winkeltrollies wat rondgestoot word deur moeë mense wat klaarblyklik ʼn kleurvolle Kersfees beplan.
In die middel van die sentrum sit ʼn rooiwang-Kersvader op ʼn groot, goue stoel. Voor hom is ʼn versameling grootoog-peuters wat verwonderd na hom staar. Die glinsterende kindergesiggies kom pluk aan my hartsnare.
Ek moet erken ek was nooit eintlik ʼn “Kersfees-kind” nie. Ek het nie in ʼn tradisionele huisgesin grootgeword nie en kon nooit die krip in die stal met Kersvader se takbokke en slee vereenselwig nie. Die bekoring daarvan het by my verbygegaan.
Maar ek het geleer dat Kersfees sonder familie soos koekstruif sonder regte room is.
Wat wens ek vir myself?
Miskien is my behoeftes so kompleks dat dit nêrens in ʼn winkel te kry is nie. En dalk is dit bloot ʼn goeie boek waarmee ek my op my rusbank sal opkrul. Tussen die bladsye ontdek ek altyd ʼn padkaart vir ʼn nuwe reis.
Ek besef daar is nie ʼn pakkie wat groot genoeg is om my wenslysie te akkommodeer nie. En nie ʼn lint wat lank genoeg is om ʼn strik daarom te bind nie.
Maar hier, vir wat dit werd is, is my wenslysie vir dié Kersfees. Dalk is daar iemand wat hierby aanklank vind:
- My Walliese dogter voor my deur;
- Al my hartsmense om my;
- My kinders, weer klein, in my arms;
- Genoeg towergom om al die gebrokenheid om my te herstel;
- Emmers vol gesondheid vir my kosbares;
- ʼn Josefskleed met groot genoeg-sakke vir die mense van my asem;
- ʼn Laaste gesprek met my pa;
- En, bowenal, ʼn spesiale plekkie om in stil te word.
Sal dit my nou reeds beskore wees? Dalk volgende jaar?
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















