“Wat is ’n reënboog, Mamma?”
Elke ma hoor hierdie vraag wanneer sy saam met haar kinders na die kleurvolle boog in die lug staan en kyk. Wanneer my kinders dit vra, probeer ek my bes om ’n wetenskaplike verduideliking te verskaf op ’n manier waarop hulle dit kan verstaan.
Maar later betrap ek my dat ek weer dink aan hoe ek die wetenskap en my geloof met mekaar kan versoen.
Ons word in die Genesisverhaal vertel hoe korrup en vol geweld die aarde in God se oë was. Elke mens op aarde se lewe was verrot. Toe die Here gesien het hoe groot die verdorwenheid was en hoe die mens net slegte dinge bedink, was Hy spyt dat Hy die mens gemaak het. Die mens se optrede het Hom diep gegrief (Gen 6:5-6, 11-12).
Toe besluit Hy om die mens van die aarde af weg te vee. Maar Hy begenadig een man en sy familie, en ná afloop van die vernietigende vloed sluit God ’n verbond met Noag. “Toe het God gesê: ‘Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde’” (Gen 9:12-16).
LEES OOK: Wat kan ék doen om genesing te bring?
Terug na die wetenskap: ’n Reënboog is gekleurde lig wat ontstaan wanneer die son se strale, terwyl dit reën, teen ’n waterdruppel skyn. Wanneer die wit lig, deur middel van ligbreking, in die volledige kleurspektrum opbreek. Ligbreking is die verandering in die voortplantingsrigting van ’n energiegolf (in hierdie geval ’n liggolf) wanneer dit sydelings deur die oppervlak tussen twee mediums van verskillende digthede beweeg (byvoorbeeld die lig en ’n waterdruppel).
Een ligbundel word in bundels verskillende kleure gebreek, met verskillende golflengtes en verskillende frekwensies. Die ligbreking (of refraksie) van ’n liggolf vind plaas op die grens tussen die twee mediums, dit wil sê die plek waar die waterdruppel en die lig aan mekaar raak.
Volgens die Genesisverhaal stuur God die reënboog as ’n teken van sy nuwe verbond met die mens. Ons leer ook in die Bybel dat God Lig is. Om ’n reënboog te vorm, moet lig eers in die verskeidenheid kleure gebreek word. Die reënboog, kan ons maar sê, is ’n visuele voorstelling van hoe God se hart deur ons sonde gebreek word. Sonde bring skeiding tussen ons en Hom. Maar die ligbreking vind juis plaas op die plek waar die twee mediums aan mekaar raak. Daar waar God en mens mekaar ontmoet.
So word die verbond dan ook voltrek wanneer Jesus uiteindelik as God se Lig vir die wêreld na ons toe kom en Homself vir ons kom breek, sodat sonde ons nooit weer van God sal skei nie.
Ja, God breek Homself vir ons, sodat ons kan weet dat ons eendag die ewige lewe sal hê, en kan besef dat niks ons ooit weer van sy liefde sal skei nie.
Jesus sê wel ook in Matteus 5:14 dat óns die lig vir die wêreld is. Dit impliseer dat ons ook soms sal breek sodat iemand anders die reënboog kan sien. Wanneer lig gebreek word, is dit juis wanneer die hoop vir die toekoms sigbaar word in ons lewe.
Dalk moet ons twee keer dink oor wat ons te doen staan wanneer dit voel of ons breek. Dalk lê daar, verskuil in die gebrokenheid, ’n skat aan die einde van die reënboog.
Mag die reënboog jou daaraan herinner dat daar, selfs in gebrokenheid, hoop skuil, en die belofte van herstel.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.