Die Hippokratiese eed is 2 300 jaar oud en dit word vandag steeds, in verskeie lande regoor die wêreld, deur dokters afgelê. Ook hier in Suid-Afrika gaan die jong dokters se gradeplegtigheid gepaard met eed-aflegging. Dié eed dien as ’n soort baken om geneeshere “op die regte pad” te hou.
Alhoewel die frase “First do no harm” waarskynlik nie in die oorspronklike Hippokratiese eed voorgekom het nie en eerder uit een van Hippokrates se ander geskrifte kom, is dít die frase wat dalk die maklikste herken word. Kortweg kom dit hierop neer: Help ander mense. En moenie deur wat jy doen iemand skade aandoen nie.
Die Hippokratiese eed dien as ’n waarskuwing vir dokters om te waak teen óórbehandeling en geldgierigheid. Dit herinner ons daaraan dat simpatie en verhoudings soms belangriker is as medikasie of die chirurgiese mes. Dit herinner ons daaraan dat ons nie God is nie, en dat ons ons soms moet onttrek en Gods water oor Gods akker moet laat vloei.
LEES OOK: Die natuur laat tyd stilstaan, en dit snoer mense saam
Dit herinner ons daaraan om te erken wanneer ons nie weet nie, en om ’n kundige se hulp in te roep wanneer dit nodig is. Dit herinner ons ook daaraan dat ons ons bes moet probeer om siekte te voorkom, eerder as om dit te behandel wanneer dit wel voorkom. Dit herinner ons daaraan om nederig te bly en die méns voor ons raak te sien, eerder as die probleem of die siekte.
Maar ons kan die Hippokratiese beginsels veel wyer toepas, ook in hoe ons in die algemeen met mekaar omgaan. Dan kan dit só daar uitsien:
Wanneer ons met ons medemens werk, moet ons saggies werk. Soms moet ons, eerder as om aggressief te sny, bloot liggies vryf. Soms moet ons eerder stilbly as om die harde waarheid uit te blaker omdat die ander een nog nie gereed is om dit te hoor nie. Soms moet ons, eerder as om té krities te wees, die ander een opbou wat reeds verslae is. En eerder as om die argument te wen, die verhouding te probeer behou.
Soms moet ons mense keer om iets te doen wat ons weet skadelik sal wees, eerder as om die stukke te probeer optel wanneer iemand gebreek het. Soms moet ons, eerder as om iets vir iemand te doen om ons gewete te sus, hulle leer om selfstandig te wees en om vir hulleself te sorg.
Dit laat my dink aan 1 Korintiërs 10:23-24. Paulus sê: “Daar is mense wat sê: ‘Alles is geoorloof.’ Ja, maar nie alles is heilsaam nie. ‘Alles is geoorloof,’ sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie. ’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.”
Ons optrede kan óf genesing bring óf skade aanrig. Ons kan dinge vir onsself vereenvoudig deur ons af te vra of dit wat ons nou gaan doen tot die ander een se voordeel is, al dan nie.
Daar is wel situasies waar die streep tussen hulp en skade aanrig nié so duidelik getrek kan word nie. Soms doen ons te veel, en soms te min. Ander kere leer ons wel, maar dan uit ons foute.
Jesus se bediening was ’n bediening-van-genesing. Waar Hy ook al gekom het, het Hy gesond gemaak – blindes, dowes, besetenes, en vele ander aanvegtings. Jesusvolgelinge word geroep om, soos Hy, genesing te bring.
Die lewe het my geleer dat ’n mens nie slegs siektes genees nie, maar ook ’n selfbeeld, ’n verhouding, en die geïnternaliseerde trauma van ’n slegte verlede. Jy maak nie bloot gebreekte bene reg nie, maar ook die dinge wat verkeerd gedoen is. Jy werk nie net wonde toe nie, maar jy werk ook weer die stukkies van ’n lewe aan mekaar vas wanneer dit verbrokkel het. Jy verwyder nie slegs mangels, gewasse of blindederms nie, maar ook slegte gewoontes en sonde wat verwydering tussen ons en God bring.
Jy help nooit nét iemand anders nie; elkeen wat jy help, help jou ook. Jy word verander; jy word ook genees.
Ja, die littekens bly – nie net om ons aan die pyn te herinner nie, maar ook aan die genesing van ’n seerplek. Ons verstaan dus waarom Jesus met wonde en al uit die dood opgestaan het, en nie geskroom het om dit vir ander te wys nie.
Dalk moet ons ons meer dikwels en in meer situasies afvra: Wat kan ek hier en nou doen om genesing te bring?
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.