Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Skermverslawing: Hoe beïnvloed skerms ons gesondheid en ons verhoudings?

Skermverslawing – hoe beïnvloed skerms ons gesondheid en ons verhoudings? Tegnologie en gesondheid, en die gevare van skerms op ons welwees word in hierdie artikel bespreek.

Die woord verslawing word meestal met drank- en dwelmmisbruik verbind, maar die onsigbare, ongediagnoseerde digitale kloue van die kuberruim is vandag selfs ‘n groter bron van kommer. Tegnologie en gesondheid, en die gevare van skerms op ons welwees is ’n geldige rede vir ingryping, sê die kenners.

Die invloed van sosiale media op tieners en kinders | Skermverslawing | Digitale welstand

Skermverslawing: Wat sê die statistieke?

Dit is die laaste ding wat ons saans afskakel en die eerste wat ons soggens gryp. Of dit nou ’n slimfoon of televisieskerm is, die syfers skets ’n skrikwekkende prentjie: Suid-Afrikaners spandeer die meeste tyd wêreldwyd voor skerms. 

Volgens die Global Digital Report 2024, bring Suid-Afrikaners sowat nege en ’n half uur per dag voor ’n skerm deur – ’n syfer wat sedert 2013 met bykans ’n uur per jaar toeneem. Ander navorsing toon weer dat dié syfer selfs so hoog soos elf uur per dag kan wees. 

Dit is aansienlik hoër as die wêreldgemiddeld van ses uur en veertig minute. Nie net spandeer ons tot 60% van ons “wakker-tyd” aanlyn nie, maar 49% van kinders tussen die ouderdom van 0 en 2 jaar word reeds aan slimfone blootgestel en 67% van voorskoolse kinders (0 tot 5 jaar) spandeer baie meer as slegs een uur per dag, die perk wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel word, voor ’n skerm!

Tegnologie en gesondheid: Gevaarlike gedragsversteuring

Hoewel skermverslawing nie deur die WGO erken of in die Diagnostiese en statistiese handleiding van geestesversteurings (DSM-5) opgeneem is nie, sê dr. Marlena Kruger, stigter en hoof van MindUnique Education en TechnoLife Wise, neurowetenskapkenner en kampvegter vir digitale gesondheid, dit beteken nie ons moet op ons hande sit totdat dit eindelik eendag gebeur nie.

“Die ongesonde houvas van tegnologie in die geheel behoort, soos in die geval van internetspeletjieversteuring (Internet Gaming Disorder), as ’n gedragsversteuring beskou en behandel te word. Die potensieel gevaarlike uitwerking van tegnologie en die uitwerking wat dit op fisieke en geestesgesondheid kan hê, vereis daadwerklike ingryping. 

“Terwyl ons ontkennend aanlyn snuffel, word enorme skade ongesiens aangerig. Dit gaan egter nog ’n geruime tyd duur voordat skermverslawing aan die groot klok gehang word. Dink net hoe lank het dit geneem voordat die nadelige gesondheidsuitwerking van rook en asbes erken is,” sê sy.

Tegnolgie en gesondheid: Wat van ons kinders?

Hanlie Degenaar, spraak-taalterapeut en kliniese bestuurder van die Centre for Health and Human Performance: Care2Kids aan die Noordwes-Universiteit (NWU), meen toenemende studies en die waarneming van skermgedragpatrone is genoeg rede tot waaksaamheid, veral wat kinders betref.

“Verskeie studies het bevind dat kleuters sowat twee en ’n half uur skermtyd per dag het, teenoor minder as twee uur speeltyd en slegs sewe minute voorleestyd. Ouers is oor die algemeen swak ingelig oor ouderdomstoepaslike digitale inhoud en skerms word dikwels as ’n gerieflike oppasser ingespan,” sê sy.

Volgens haar hoef ’n mens net om jou te kyk om te sien hoe ouers kinders met hul gunstelingvideogreep of musiek besig hou. “Kinders kerm gereeld verveeld om die ouer se slimfoon in die hande te kry; in dagsorgsentrums en kleuterskole is daar dikwels ’n skerm aan om kinders tydens roetinetake soos etenstyd, doeke ruil en rustyd besig te hou.

“Hoewel ’n mens begrip daarvoor het dat ouers soms tyd probeer wen om noodsaaklike take af te handel, behoort tegnologie nie as ’n fopspeen ingespan te word nie. Ongelukkig is slimfone en tablette altyd byderhand, en klein genoeg vir klein handjies. Baie gerieflik, maar ’n slegte keuse,” sê Degenaar.

Tegnologie en gesondheid: Skermtyd beïnvloed ons verhoudings 

Oor die uitwerking van skerms op psigososiale welstand is reeds wyd berig – van angs tot depressie, onttrekking en prikkelbaarheid. “Dit is ’n tweesnydende swaard,” sê Hanlie. “Depressie, gebrekkige emosionele regulering, ’n swak selfbeeld, angstigheid, sosiale isolering, impulsiwiteit en verhoudingsprobleme lei nie net tot skermverslawing nie, maar is dikwels die uitvloeisel daarvan.

“Depressie en emosionele regulering is risikofaktore vir die ontwikkeling van verslawing. Ingeperkte emosionele regulering kan egter ook bydra tot gemoedsteuring en ’n geneigheid om skermtyd as ’n hanteringmeganisme vir emosionele nood te gebruik,” sê sy.

Voeg hierby die digitale skadukant van kuberafknouery, blootstelling aan onvanpaste inhoud, identiteitsdiefstal, privaatheidskending en selfs mensehandel. “Kinders en tieners is al meer slagoffers hiervan en is eenvoudig nie emosioneel opgewasse om verantwoordelike besluite te neem óf die onvoorspelbare en gevaarlike gevolge hiervan te hanteer nie. Daarom is skermtoegangbeheer en oop geprekke en verhoudings tussen ouers en kinders onontbeerlik,” sê Kruger.

Lees ook die artikel, Tegnologie en tieners: Wat is die tekens van skermverslawing?.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.