Mooi herinneringe is soos ’n goedgebruikte padkaart: Dit vertel die storie van ons reis. ’n Herinneringsboks is ’n manier om hierdie reisverhaal sigbaar en tasbaar vir jou kinders te maak. Dit gee hulle bakens en rigtingwysers.
Daardie handgeskrewe briefie in ’n onderste lêer, ’n foto, ’n spesifieke reuk. ’n Spesiale liedjie …
Daardie babakousie wat skielik uitval wanneer jy ’n ou laai regpak. Die toegangskaartjie wat uit die dieptes van jou handsak uitdop. Binne oomblikke voer dit jou terug na ’n ander plek en ’n ander tyd. Mooi herinneringe, wat ’n vaal en vervelige dag op ’n onverwagse wyse inkleur.
Hoekom herinneringe koester
“Op ’n manier skep mooi herinneringe ’n plek waarheen jy kan teruggaan wanneer jy sleg voel.” Só sê Riza Uys, spelterapeut en lewensafrigter in die Paarl.
“Meer nog: Dit bevestig jou identiteit. Dit anker jou. In moeilike tye laat dit jou veilig en geborge voel. Dit laat jou ‘behoort’.
“En wanneer jy weet wie jy is en waar jy behoort, kan jy veranderinge en ander uitdagings baie makliker trotseer.
“Natuurlik is nie alle herinneringe positief nie, en ons kan nie noodwendig die hartseer oomblikke keer óf kies nie. Tog kan ons baie doen om mooi en kosbare herinneringe te skep.”
Help jou kinders onthou
“Die skep van mooi herinneringe geskied nie toevallig of per ongeluk nie,” sê Riza. “Ons moet doelbewus besluit om ons kinders se geheuebank met kosbare herinneringe te vul.”
En dis nie moeilik nie, sê sy. “Die klein rituele, die gewoontes en gebruike wat ’n gesin kenmerk, kan uiteindelik kragtige herinneringe word. Die manier waarop die gesin verjaardae, Kersfees en Sondae vier. Die gereelde teepartytjies op Vrydae, tuisgemaakte pizzas op Saterdae of stories voor slaaptyd. “Dit alles is klein gebare wat uiteindelik groot betekenis inhou.”
Riza moedig ouers en kinders aan om meer bewustelik te lewe. “Help jou kinders om die mooi in elke dag raak te sien en om ’n positiewe emosie aan hul ervarings te koppel.
“Vra hulle: ‘Wat was vir jou so lekker by die pretpark? Wat het jy gesien en gehoor? Wat sal jy van die dag by die see onthou? Hoe smaak die koekies wat jy self gebak het? Hoe voel jy wanneer jy hierna kyk?’
“Laat die kinders ook hul eie herinneringe deur middel van foto’s, tekeninge en dagboekinskrywings vaslê. En praat soms met mekaar oor wat julle van vorige vakansies of ’n kuier saam met familie en vriende onthou.”
Die geheue van geure
Geure en reuke roep dikwels baie sterk herinneringe op. Anders gesê: Nostalgie gedy deur die neus!
Geleerdes sê die reuksintuig het ’n baie sterker verband met emosies en herinneringe as enige van ons ander sintuie. Dié feit kan teruggevoer word na die biologiese werking van die brein: Die ander sintuie stuur prikkels na die talamus, die sentrale gedeelte van die brein, van waar dit na ander toepaslike dele in die brein gestuur word.
Die reuksintuig is egter regstreeks met die sogenaamde reukbol verbind – ’n deel wat verband hou met emosies en herinneringe. Daarom leer ons om sekere reuke met sekere gebeure en emosies te assosieer.
Die geur van varsgebakte speserykoekies kan duidelike beelde van jou ouma se kombuis oproep, terwyl die reuk van gesnyde gras jou onmiddellik terugneem na sport op laerskool (laasgenoemde méér so as wat ’n foto of ’n video byvoorbeeld sal regkry).
Gebruik dus gerus reuke en geure om jou kinders se mooi herinneringe te versterk. Bak pannekoek wanneer dit dié winter te koud of nat is om park toe te gaan, drink geurige warmsjokolade wanneer julle stories of gedigte lees. En steek gegeurde kerse aan wanneer julle bordspeletjies speel of stories vertel.
Maak ’n boks vol onthou
’n Herinneringsboks is ’n versameling aandenkings wat jou kinders se lewe vier en wat hulle in jul gesin en familie se storie anker. ’n Herinneringsboks moet aan jou kinders sê waarvandaan hulle kom en tussen wie hulle grootgeword het. Dit vertel meer oor die mense wat hulle liefhet.
Dit kan ’n heerlike vakansie-aktiwiteit wees wat jy en jou kinders saam hierdie vakansie aanpak. Lees ook ons artikel met nog idees om herinneringe vas te vang.
Hoe om ‘n herinneringsboks te maak:
Gebruik ’n klein krat, boks of laai vir elke kind en laat almal, die onderskeie kinders inkluis, elke af en toe en soos dit nodig word iets daarby voeg.
Kreatiewe kinders kan gerus hul boks versier om iets van hul persoonlikheid te weerspieël.
- Begin met foto’s wat meer van julle as gesin en familie vertel. Troufoto’s van ouers en grootouers, babafoto’s en doopfoto’s vertel ’n belangrike storie. Laat die kinders hierdie foto’s in albums of tuisgemaakte raampies plaas.
- Praat met mekaar oor die mense op die foto, wat julle van hulle onthou en hoekom hulle vir julle belangrik is. Maak notas; kinders herken nie noodwendig familielede op foto’s van dertig jaar gelede nie.
- Briefies, dagboekinskrywings en vertellings van ouers, grootouers en ander familielede dra herinneringe op ’n unieke manier oor.
- Skryf ook gunsteling-familieresepte, liedere en tradisies neer. Vertel hoe julle, die ouers, mekaar ontmoet het, hoe julle gevoel het toe jul kinders gebore is en wat julle van hul babadae onthou.
- Skryf aan jou kinders ’n brief op spesiale dae soos ’n eerste skooldag, die begin van die tienerjare of die eerste dag van die laaste skooljaar. Grootouers en ooms en tannies kan iets van hul eie kinderdae en geskiedenis vertel.
- Hierdie stories kan kinders help om te verstaan hoekom Oupa altyd ’n broodjie eet terwyl hy koffie drink, en hoekom Ouma nie winkelbeskuit voor haar oë kan verdra nie.
- Skryf jou gebede vir jou kind neer. Ook die Skrifgedeeltes wat vir julle baie beteken het in jou kind se grootwordtyd. Dis ’n groot seën om eendag te kan beleef dat jou ouers en familie reeds kleintyd vir jou gebid het – vir jou toekomstige beroep, ’n lewensmaat, jou vriendekring.
- Moedig jou kinders aan om komplimente wat hulle ontvang het neer te skryf. Ons is so dikwels geneig om net die slegte dinge te onthou wat ons oor onsself hoor. Komplimente is ’n goeie teenvoeter hiervoor.
- Skryf kinders se oulike sêgoed, grappies en kwinkslae neer.
- Kies items vir die boks wat spesifieke herinneringe oproep: ’n eerste teddiebeer, ’n skoentjie, ’n verjaardagkers of ’n klein kombersie. Dit alles vertel iets van ’n tyd in hul lewe wat die kinders nie noodwendig kan onthou nie.
- Laat die kinders self dinge kies en bêre wat hulle met sekere geleenthede assosieer. ’n Spesiale storieboek, ’n eerste vliegtuigkaartjie, ’n toegangskaartjie na ’n konsert, ’n mooi skulp.
- ’n Herinneringsboks kan tye waarin groot veranderinge plaasvind of afskeid geneem moet word draagliker maak. Bêre ’n klippie uit jul vorige tuin, ’n briefie van ’n maatjie wat getrek het of ’n halsband van ’n geliefde gestorwe troeteldier om erkenning aan hierdie herinneringe te gee.
Maak die herinneringe sigbaar
Plaas herinneringe aan kosbare familietyd, prestasies en snaakse oomblikke in jul huis waar almal dit kan sien. Plak briefies, kaartjies, nuwe foto’s en prente in die huis op, teen die yskas of rondom die spieëls. Skryf teksgedeeltes en aanhalings wat julle inspireer op ’n witbord. Laat ’n briefie of kompliment op ’n gesinslid se kussing, of sit dit in ’n kosblik.
“Komplimente is monumente”
Riza sê: “Ons identiteit is volkome omdat Christus ons geskep het. Niemand kan dit verander nie. Ons kan dit wel vir mekaar bevestig. ’n Goeie en opregte kompliment kan jou ver dra. Dis ’n monument langs jou pad, ’n teken dat mense jou binnekant raakgesien en jou talente en waarde bevestig het.
“Moedig jou kinders aan om sulke komplimente neer te skryf en dit dan te bêre. Sodat hulle dit weer kan opdiep in daardie dae wanneer hulle nie goed oor hulleself voel nie.”
Geskryf deur Susan Goosen.