Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Somerkos vir samesyn

DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S ADEL FERREIRA

Dek dié somer ’n tafel in jou tuin of op ’n stoep. Of pak ’n piekniek. Hoe ook al, geniet die sonskyn, die soel aande, die samesyn met familie en vriende. En al die heerlike somerbestanddele van die geregte wat jy hier sien.

Somerkos kan sonder veel moeite kleurvol, geurig en gesond wees. Die bestanddele wat nou beskikbaar is, maak dit so maklik! Op ’n mooi dag wil jy juis so min moontlik tyd binne deurbring en liewer buite saamkuier. 

Beplan jou spyskaart 

Die vier resepte in hierdie artikel vorm nie noodwendig ’n spyskaart nie – maar dit kan beslis werk vir ’n lekker lang, uitgerekte somerkuier. Of kies een van die resepte en maak dit deel van jou eie spyskaart. Kry neute, gedroogde vrugte of dukkah vir die tafel – of sommer enigiets wat saam met die geregte geniet kan word. Gebruik dit bloot as peuselhappie, of oor ’n slaai of groente, of saam met die broodjies. 

Die broodjies met kruiebotter, of die songedroogde tamatiepesto met groenterepies, is die perfekte alternatief vir net nóg ’n pak aartappelskyfies voor ete. As die broodjies vooraf geëet word, het die res van die ete boonop nie eens verdere stysel nodig nie. 

Die hoenderslaai is ’n ete opsigself. Of braai iets oor die kole en sit dit saam met die broodjies en ’n groot groenslaai voor. Die pesto en panna cotta kan reeds die vorige dag gemaak word; dan is jou werk op die dag van die ete nóg minder.

SONGEDROOGDE TAMATIEPESTO

Dié pesto is so veelsydig dat jy altyd ’n flessie hiervan in jou yskas sal wil hê. Kyk na die wenke hieronder vir nog maniere om die pesto by etlike maklike somer-etes te geniet. 

Lewer ongeveer 300 ml 

BESTANDDELE:

  • 50 g geroosterde sonneblomsaad of amandelvlokkies (sien wenke) 
  • 1 x 240 g pakkie gemarineerde songedroogde tamaties, met die vloeistof (sien wenke) 
  • 2 knoffelhuisies, gekneus 
  • Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen 
  • 50 basiliekruidblare. Of ’n kruiemengsel, soos Italiaanse pietersielie, origanum en tiemie 
  • 125 ml (½ k) olyf- of avokado-olie 
  • Sout en peper 
  • Suurlemoenwiggies, om mee voor te sit 

METODE 

  1. Plaas die sade of neute saam met die res van die bestanddele in ’n voedselverwerker of ’n glasbak en meng dit met ’n stokmenger tot ’n gladde mengsel. Geur dit na smaak. 
  2. Skep die pesto in ’n skoon, gesteriliseerde glasflessie en bedek dit met ’n dun lagie olyfolie. Dit hou minstens twee weke in die yskas. Gebruik op enige van die voorgestelde maniere soos hieronder aangedui. 

WENKE:

  1. Rooster die sonneblomsade of amandelvlokkies in ’n droë pan oor matige hitte, sonder enige olie. Hou dit mooi dop, want dit brand maklik. 
  2. Songedroogde tamaties kan sommer self gemarineer word. Laat week dit ’n uur of twee lank in sterk Rooibostee, en giet dan die vloeistof af. (Vries die vloeistof sommer vir ’n ander tamatiegereg wat jy later kan berei.) Meng die tamaties met twee dele olyfolie en een deel balsamiese asyn, en skep dit in ’n skoon glasfles om te marineer. Hou dit in die yskas tot jy dit benodig. Terloops, indien daar iets van die oliemengsel oorbly, kan jy dit oor ’n hoender of ’n stuk steak skep voor dit gerooster of gebraai word. Dis heerlik! 

GEBRUIK DIE PESTO SO:

Op ’n somerbord: (sien die foto) Pak ’n bord met die groenterepies wat jy verkies. Jy kan ook klein hoendersosaties of frikkadelle byvoeg om dit ’n ligte ete te maak. 

Op groente: Skep lepeltjies vol op gebakte aartappels, of meng dit met klein aartappeltjies in die skil vir ’n interessante aartappelslaai. Dis heerlik op geroosterde sampioene. 

Op lamsboud of hoender: Smeer van die pesto op ontbeende lamsboud of op lamstjops. Of op hoenderporsies, of ’n heel, oopgevlekte hoender. Braai of rooster dit na smaak. 

Op pasta: Meng ’n paar lepels vol pesto saam met gaar hoender of spek deur warm pasta. 

Op broodjies: Smeer dit op die volkoringbroodjies (sien volgende bladsy) of op toebroodjies. En dit smaak hemels op ’n braaibroodjie.

VOLKORINGBROODJIES MET KNOFFEL-KRUIEBOTTER

Varsgebakte brood is altyd ’n lekker be-derf. Dié brooddeeg is vinnig en maklik om te maak, en die kruiebotter maak dit ekstra spesiaal.

Lewer 18-20 broodrolletjies

BESTANDDELE:

Kruiebotter 

  • 3 groot knoffelhuisies, in die skilletjies 
  • 45 ml (3 e) olyfolie 
  • 5 ml (1 t) gekapte, vars roosmaryn 
  • 15 ml (1 e) gekapte, vars Italiaanse pietersielie 
  • 10 ml (2 t) vars tiemieblaartjies 
  • ’n Knippie rooipeper of paprika, of na smaak 
  • 125 ml (½ k) sagte botter 

Broodrolletjies 

  • 750 ml (3 k) volkoringmeel, verkieslik steengemaalde meel 
  • 310 ml (1¼ k) witbroodmeel, verkieslik steengemaalde meel 
  • 30 ml (2 e) bakpoeier 
  • 2,5 ml (½ t) sout 
  • 125 ml (½ k) fyngerasperde, beleë wit cheddarkaas 
  • 2 eiers, geklits 
  • 500 ml (2 k) karringmelk 
  • 50 ml olyfolie 
  • 15 ml (1 e) melk om mee te verf 
  • Vars takkies roosmaryn om mee af te rond 

METODE:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit en besprinkel dit liggies met ’n bietjie ekstra meel. 
  2. Kruiebotter: Plaas die knoffelhuisies in ’n klein, vlak oondvaste bakkie, of ’n klein bakplaatjie. Meng 15 ml van die olyfolie met die roosmaryn en giet dit oor die knoffel. Hou dit eenkant totdat die brooddeeg gereed is, want dit gaan saam gebak en gerooster word. 
  3. Brood: Meng al die meel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Roer die helfte van die kaas by die meelmengsel. Klits die eiers, karringmelk en olie saam.
  4. Roer die vloeistof by die meelmengsel. Sny dit met die agterkant van ’n mes by die meelmengsel in totdat ’n deeg vorm. Pasop om nie te veel te meng nie.
  5. Vorm die deeg in 18-20 balletjies. Druk jou hande in ’n bietjie ekstra meel as die deeg daaraan wil vaskleef.
  6. Pak die deegballetjies op die bakpapier uit, maar sonder dat die balletjies aan mekaar raak. Daar moet steeds plek wees dat dit tot teen mekaar kan uitrys. Pak dit in ’n sirkel, of selfs ’n krans, vir ’n interessante effek.
  7. Verf die broodjies met die melk. Sprinkel die orige kaas en ’n paar roosmarynblare oor die broodjies.
  8. Plaas die bakplaat met die brood en die bakkie (of bakplaatjie) met die knoffel saam in die oond. Rooster die knoffel 15-20 minute lank, of totdat dit sag en goudbruin is. Bak die brood nog 5 minute lank, of totdat dit goudbruin en gaar is. (Die brood sal nou ver genoeg

uitgerys wees sodat die oonddeur oopgemaak kan word sonder dat die brood plat val.)

  1. Om die knoffelbotter te maak: Druk die geroosterde knoffelhuisies uit die skilletjies. Meng die knoffelpulp met ’n lepel of klitser saam met die orige botterbestanddele in ’n mengbakkie. Skep die botter in ’n mooi bakkie.
  2. Plaas die warm brood op ’n groot bord of houtplank saam met die botter. Sit dit as voorgereg of bygereg voor.

HOENDER-EN-AARBEISLAAI

Hier is ’n elegante slaai wat jou somertafel beslis gaan opkikker. Die kombinasie van hoender en aarbeie is absoluut heerlik, en perfek vir ’n warm dag.

Resep is aangepas uit Kos is op die tafel! 

Lewer 4-6 porsies

BESTANDDELE

Slaaisous 

  • 60 ml (¼ k) olyfolie 
  • 30 ml (2 e) appel-, framboos- of ander vrugtige asyn 
  • 10 ml (2 t) korrelmosterd 
  • 10 ml (2 t) heuning 
  • 5 ml (1 t) vars tiemieblaartjies 
  • Sout en peper na smaak 

Slaai 

  • 6-8 hoenderborsfilette 
  • 10 ml (2 t) olyfolie 
  • 150-200 g dun groenboontjies 
  • 70-100 g roket of gemengde slaaiblare 
  • 300 g aarbeie, gehalveer 
  • 1-2 sprietuie, in diagonale skyfies gesny 
  • Eetblare blommetjies (opsioneel) 

METODE:

  1. Slaaisous: Klits al die bestanddele saam en geur dit na smaak. Giet 45 ml van die slaaisous oor die hoender en laat dit 10-15 minute lank marineer. 
  2. Slaai: Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die filette, met die marinade, aan albei kante tot goudbruin. Verlaag die hitte en laat prut dit 5-7 minute lank met ’n deksel, of totdat dit net gaar is maar steeds sappig. Geur na smaak en hou dit eenkant. Die hoender kan warm of teen kamertemperatuur gebruik word. 
  3. Plaas die boontjies in ’n vlak bak en giet kookwater oor. Laat dit ’n paar minute staan, totdat die boontjies heldergroen maar steeds bros is. Dreineer en spoel dit met koue water af. Dreineer deeglik en druk dit droog. 
  4. Hou die filette heel, of sny dit in dikkerige diagonale skyfies. Plaas die slaaiblare met die hoender, boontjies en aarbeie op ’n groot opdienbord. Sprinkel die sprietuie oor, garneer dit met die eetbare blommetjies en sit dit voor saam met die orige slaaisous. 

WENK:

Vervang die aarbeie met perskes, mango of druiwe wanneer dit hul seisoen is. Avokado, aspersies of selfs komkommer kan saam met die vrugte, of as plaasvervanger, gebruik word.

ROOSWATER-PANNA COTTA MET GEROOSTERDE AARBEIE

Hierdie fluweelsagte panna cottas is min-der ryk as gewoonlik, want die jogurt (of karringmelk) is ’n lekker alternatief vir net nóg room. Die geroosterde aarbeie gee ’n baie spesiale geur aan die nagereggies.

Resep is aangepas uit Maak vyf

Lewer 4-6 porsies

BESTANDDELE

  • 250 ml (1 k) melk 
  • 125 ml (½ k) room 
  • 60 ml (¼ k) strooisuiker 
  • ½ vanieljepeul, oopgesny en die saadjies uitgekrap. Of 2,5 ml (½ t) vanieljepoeier 
  • 30 ml (2 e) water 
  • 15 ml (1 e) gelatienpoeier 
  • 175 ml ongegeurde jogurt of karringmelk 
  • 15 ml (1 e) rooswater 

Geroosterde aarbeie 

  • 250 g aarbeie, gehalveer 
  • 10 ml (2 t) strooisuiker 
  • vars kruisementblare vir garnering 

METODE:

  1. Verhit die melk, room, strooisuiker en vanielje oor matige hitte in ’n kastrol. Roer totdat die suiker opgelos is. Verhit dit tot net onder kookpunt; die mengsel moenie kook nie. 
  2. Verwyder dit van die stoof en laat dit effens afkoel. As dit te warm is, sal die jogurt (of karringmelk) skif. 
  3. Giet die water in ’n bakkie en sprinkel die gelatien oor. Laat dit ’n paar minute staan om te spons, en maak seker daar is geen droë stukkies nie. 
  4. Roer die jogurt (of karringmelk) by die melkmengsel. Haal die vanieljepeul uit nadat dit gebruik is. Hou aan roer, selfs al lyk dit of die mengsel wil skif. Roer die gelatien by totdat dit heeltemal opgelos is. 
  5. Voeg die rooswater by, en giet dit in ses afsonderlike glas- of ander bakkies van ongeveer 180 ml elk. Bedek en laat dit 3-4 ure (of oornag) in die yskas om te stol. 
  6. Aarbeie: Voorverhit die oond tot 220 °C en voer ’n bakplaatjie met bakpapier uit. 
  7. Plaas die aarbeie op die bakplaat en strooi die suiker bo-oor. Rooster dit 5-10 minute lank, of tot net sag. Skep die aarbeie en die pansappe uit en laat dit afkoel. 
  8. Hou die panna cottas in die yskas tot net voordat dit opgedien word. Sit dit yskoud voor, saam met die aarbeie en vars kruisement. 
  • Heleen Meyer is ’n koskonsultant met ’n filosofie van lekker, gesond en maklik. Sy is dol daarop om in die natuur te wees. Tyd saam met haar gesin is vir haar baie kosbaar. Haar hoop is ’n wêreld waar elke mens erken en gerespekteer word. Kuier saam met Heleen by www.heleenmeyer.co.za, of @heleenmeyerfood op Instagram.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.