DEUR FOURIE ROSSOUW
Ons was op pad parkie toe om ons onderskeie honde hul daaglikse oefening te gee.
Ons het net so in die verbyloop vir mekaar geknik.
Jare gelede sou ons blad geskud en foonnommers uitgeruil het. Dié ontmoeting sou selfs op ’n kuier uitgeloop het. Daar sou drankies geskink word en ons kinders sou wegkruipertjie of straatkrieket speel. Ons eggenotes sou oor en weer reëlings tref vir ’n opvolgkuier. Ek en hy sou mekaar gereeld raakgesels, terwyl daar steeds gesukkel word om op ’n datum te besluit.
Die kinders sou egter nie op hulle laat wag het nie. Agtermiddae sou hulle saam stokkies gedraai het, en oor naweke op ontdekkingsreise gegaan het. Dit sou onder meer vrugte steel, toktokkie speel en kleilat-oorloë ingesluit het.
Dit alles sou gevolg het op daardie eerste bladskud – maar op daardie koel wintersdag het dié hartlike groet tussen my en hom ontbreek.
Ons is nie kwaad vir mekaar nie. Sy honde pla my nie. Ook nie sy alewige grassnyery op ’n Sondag nie. Dalk het dinge net te veel verander …
Dalk lê daar nou bloot die jare se stadige verweer van ’n gedeelde medemenslikheid tussen ons.
Miskien het dit alles in die laat jare negentig begin toe die eerste hoë heinings in ons woonbuurt opgerig is. Ons al twee het ons huis so gekom kry, maar ons weet dat ons ook daardie heinings sou oprig.
Heel onlangs het ek ekstra alarms om ons huis laat aanbring, en ek sien hom gereeld aan sy veiligheidshek peuter.
Dalk kan ek die ding genaamd “Slaapdorp” hiervoor dank. Ons werk nie meer waar ons woon nie. Voeg die Kaapse verkeer hierby, en jy het ’n resep vir swak buurmanskap.
Ek weet nie van hom nie, maar wanneer ek uiteindelik my kar in die motorhuis geparkeer het, die honde vir hul stappie geneem het en die kinders in die bed gekry het, bly daar weinig tyd of lus vir bladskud oor.
Al wat ek voor kans sien, is ’n inkennige knik.
Soos baie mense, het ek in ’n ander wêreld as dié een grootgeword. Ek het ’n plek en ’n tyd geken waar bure mekaar nog hand gegee het as hulle groet. Ons kinderdae was onbevange, heiningloos. Ons het sonder valhelms, sitplekgordels en diefwering oor die weg gekom.
Op pad van die skool af het ons kortpad deur ander mense se agterplaas geloop. En dikwels het ons langs die pad by iemand anders se pa ’n pak slae op die lyf geloop.
Daar was kleurryke karakters in ons dorp. Sommige het jy vermy, en ander het jou vermaak. Hulle het almal name gehad, sommige selfs byname, en hulle was gereeld deel van die stories wat om die kombuistafel vertel is.
Ons het gereeld sonde met die bure gehad, maar ons sou ons nie ’n wêreld sonder hulle kon voorstel nie.
Hier, in die Kaapse metropool, belowe elke nuwe ontwikkelaar dieselfde ding: Jou kinders sal in die strate kan speel, en vreemdelinge (asook jou vreemde bure) sal jou nie pla nie.
Ons woon nie in een van daardie uitbreidings nie. Ons bly in ’n ou huis in ’n ou deel van die dorp. Nou die aand gaan ons alarm aan ’t skel. Ek spring uit die bed en sien op die rekenaarskermpie dat iets of iemand die straal by ons kamervenster gebreek het.
Ek wag dat die sekuriteitsmaatskappy moet bel, maar my foon lui nie. Ek skakel weer die alarm aan – en sekondes later raas dit weer. Hierdie keer is die moeilikheid op ons voorstoep.
Steeds lui my foon nie. Ek herhaal die prosedure, en weer kom die lawaai. Steeds van die voorstoep af.
Ek loer by die venster uit. Ek sien niks.
’n Entjie verder sien ek wel ’n lig agter my buurman se muur. Hy is seker besig om reg te maak vir werk.
Pleks ek het nou die dag sy blad geskud en sy foonnommer by hom gekry …
- Fourie Roussouw is \’n predikant in Somerset-Wes. Hy is \’n pa en ook \’n blogger en \’n digitale bemarker.