Vakansies bied ’n gulde geleentheid aan ouers om kwaliteit-tyd saam met hul kinders deur te bring. Só word die ou bande versterk en nuwes geskep. Hier is maniere om kwaliteit-tyd met jou kind te spandeer.
Vir kwaliteit-tyd: Maak die positiewe interaksies meer
Ekstra tyd saam met jou kinders? Dit klink altyd na ’n goeie plan.
Maar hoe gemaak as jy nie eintlik weet wat julle saam kan doen of waaroor julle kan praat nie? Ja, wat kan ouers ná ’n harde skoolkwartaal doen om weer die kommunikasiekanale oop te maak en aan ’n sterk verhouding met hul kinders te bou?
Marietjie Strydom, ’n arbeidsterapeut en maatskaplike werker in Durban, verduidelik hoekom ouers die ekstra tyd wat hulle met hul kinders het behoorlik moet benut: “Om tyd saam met ons kinders op ’n betekenisvolle manier deur te bring, is eintlik die enigste manier waarop ons en hulle weer ’n goeie en positiewe band kan smee.
“Navorsers herinner ons daaraan dat elke negatiewe interaksie vra dat ons ten minste vyf positiewe interaksies met ons kinders moet hê. Vir elke aanmaning en teregwysing en elke keer wat ons koppe stamp, moet ons dus vyf lekker en opbouende belewenisse skep. Vakansietye bied die ideale geleentheid hiervoor.
“In sulke goeie tye bou ons nie bloot aan ’n sterk verhouding nie; ons interaksie beïnvloed ook ons kinders se menswees. Kinders leer mos gedrag aan deur ander na te boots – en indien ons die gedrag, waardes en kwaliteite wat vir ons belangrik is in ons kinders se lewe wil inbou, moet ons beskikbaar wees om die regte voorbeeld te stel.
“En só leer ons hulle beter ken. Om ekstra tyd, soos tydens vakansies, saam met ons kinders deur te bring, gee ons die kans om meer van hul lewe te wete te kom. Om hul onderskeie persoonlikhede, vrese en vreugdes (beter) te leer ken.”
Kwaliteit-tyd vra ‘n dosyn aanrakings per dag
Probeer om minstens 12 fisiese interaksies per dag te bewerkstellig. Gee drukkies en soentjies wanneer julle opstaan, voor julle gaan slaap, wanneer julle tot siens sê, en wanneer julle mekaar weer sien.
Speel jaag-speletjies met jonger kinders. Druk hulle vas totdat hulle hulleself loswriemel. Kyk hoeveel soene jy in 20 sekondes kan gee. Stoei speel-speel op die bed.
Ouer kinders het ook ’n behoefte aan aanraking, selfs wanneer dit nie so lyk nie. Soek na metodes wat vir jou én hulle werk.
Idees vir kwaliteit-tyd
Gebruik die praktiese wenke hier onder om die ekstra tyd tot jul beskikking in kwaliteit-tyd om te skakel.
Kwaliteit-tyd | Wanneer jy 5 minute beskikbaar het
• Gee jou kind ’n drukkie en ’n soentjie. Sê iets soos: “Ek is só lief vir jou! Ek kon nie één minuut langer oorleef sonder een van hierdie lekker drukkies nie.”
• Verras jou kind met ’n beker warm sjokolade.
• Hou ’n kussinggeveg.
• Dans saam op maat van jul gunstelingliedjie.
• Hou ’n staar-kompetisie: Kyk wie kan die langste in die ander een se oë staar sonder om te lag.
• Kyk wie die langste in ’n kielie-kompetisie kan oorleef.
• Kyk in mekaar se oë en probeer raai wat die ander een dink.
• Steek ’n boodskap of lekkertjie in jou kind se kamer weg.
• Begin ’n storie en laat die kinders om die beurt daaraan toevoeg.
• Dink saam ’n nuwe einde uit vir bekende stories of sprokies.
• Maak ’n toebroodjie met nuwe vulsels.
• Vrae “wat as?”-vrae. Byvoorbeeld: “Wat sal jy doen as jy een oggend met groen hare wakker word?” Of: “Wat sal gebeur as al ons meubels van kaas was?” Of: “Hoe sal ons lewe ánders wees as troeteldiere kan praat of vlieg?” Laat jou kinders hul eie vrae uitdink.
Kwaliteit-tyd | Wanneer jy 30 minute beskikbaar het
• Maak ’n klein vuurtjie en braai malvalekkers.
• Bou saam lego. Kyk hier vir lekker idees hieroor.
• Bak pannekoek of versier gemmerkoekmannetjies.
• Trek soos jul gunsteling-sprokieskarakters aan en laat die ander raai wie jy is.
• Hou ’n skattejag in jul huis of tuin.
• Leer om met balle te goël of om ander kulkunsies te doen.
• Verf mekaar se gesigte.
• Vra 20 vrae. Op hierdie manier kan jy speel-speel agterkom hoe jou kind oor sekere dinge voel. Kies ’n tema, byvoorbeeld: 20 vrae oor jou beste/slegste dag. Of 20 vrae oor jou droomwerk of droomhuis.
• Pak saam ’n kas reg in jou kind se kamer. Besluit wat julle kan weggee.
• Maak ’n speelding vir jul troeteldier. Google gerus vir idees.
• Bou ’n hindernisbaan in die huis of tuin. Gebruik stoele, tafels, lakens en hoepels. Laat elke kind ’n beurt kry om dit te beplan.
• Skryf briewe aan familielede.
Kwaliteit-tyd | Wanneer jy ‘n halwe dag of langer beskikbaar het
• Leer jou kind om skaak te speel of ontwerp jul eie bordspeletjie.
• Skuif en versier jou kind se kamer.
• Maak daardie stukkende stoel reg of pak ’n ander kreatiewe projek aan.
• Stel jou kind aan jou stokperdjies bekend. Hou jy van foto’s neem, tuinmaak of oefen in die gimnasium? Laat jou kind dit saam met jou doen en verduidelik hoekom jy daarvan hou.
• Vra jou kinders om jou aan hul stokperdjies bekend te stel. Bou saam aan daardie boustel of werk saam aan die kunsprojekte wat hulle so geniet.
• Vra jou kind om op die internet te soek na ’n lekker bestemming wat julle vir die dag kan besoek. Of doen navorsing oor moontlike vakansiebestemmings.
• Skryf en illustreer saam ’n storie.
• Maak ’n fotoalbum van jul vorige vakansie. Daar is baie moontlikhede. Gaan soek gerus op die internet.
• Besoek iemand wat alleen is, of iemand wat julle lanklaas gesien het.
• Verf ’n T-hemp.
• Maak jul eie papier.
• Gaan na jul plaaslike biblioteek en laat elke kind ’n boek vir voorlees uitsoek. Of kies ’n klassieke boek, of een wat jy uit jou kinderjare onthou. Voorlees sorg nie bloot vir wonderlike herinneringe nie; dit verbeter ook kinders se woordeskat en skep moontlikhede vir vele gesprekke.
Kry hier 21 aktiwiteite wat jou kind kan doen tydens vakansietyd.
Wat as my kind nie wil gesels nie?
Almal weet tog dat dit nie altyd maklik is om ná ’n moeilike klompie maande in die skool weer die onderlinge bande te versterk nie. Dat dit soms harde werk vereis.
Marietjie sê: “Kinders se negatiewe reaksie op ons toenadering moet eintlik as aansporing dien. Dit wys ons hoe hulle ons verhouding interpreteer. Indien hulle ervaar dat daar nie ’n betekenisvolle band bestaan nie, is die kanse baie goed dat hulle negatiewe gedrag sal gebruik om ons aandag te trek.
“Indien jou kind dus voortdurend in ’n bakleierige bui is of knaend jou gesag uitdaag, is dit veral belangrik dat jy doelgerig aan ’n positiewe band sal bou.
“En dit is nie so moeilik nie. Positiewe en betekenisvolle interaksie is ’n belangrike deel van die antwoord: Gebruik byvoorbeeld jou hele lyf wanneer jy met jou kind praat of speel. Sit jou foon neer, maak oogkontak, wys deur jou lyftaal dat jy jou volle aandag gee. Glimlag. Beaam wat jou kinders sê. Skakel die motorradio af wanneer hulle met jou praat. Ja, wýs dat jy luister.
“Ons raas maklik met ons kinders wanneer hulle nie na ons luister nie, maar dan hou ons self een oog op die rekenaar of selfoon of televisieskerm wanneer hulle met ons praat. Jou kinders sien dit raak. Hulle weet baie gou wanneer jy ophou luister …”
Bogenoemde wenke geld ook vir kinders wat nie maklik hul gevoelens deel nie. Vir hulle kan jy iets sê soos: “Ek kan aan die buitekant sien dat jy kwaad/geïrriteerd/hartseer is. Ek wonder wat alles aan die binnekant gebeur wanneer ek dit sien …”
Probeer dan fyn luister sodat jy jou kind se gevoelens kan verstaan.
Of vra iets soos: “Hoekom dink jy dat ek dink jy is wonderlik?”
Hiérdie vraag bring dalk heelwat inligting na vore en kan tot baie lekker gesprekke aanleiding gee.
Verdere wenke vir onwillige praters
• Kom ons speel hier kom ’n bekende joernalis wat vrae vra soos:
– Wat is die beste ding in graad 4?
– Waarvoor sou jy wens as iemand jou drie wense gee?
– Wat is jou drie grootste vrese?
• Baie kinders skram weg van ’n ernstige “onder vier oë”-gesprek. Probeer eerder geselsies aanknoop wanneer julle iewers heen ry of saam aan ’n projek werk.
• Ontmoet hulle op hul vlak. Speel saam met jou kind sy gunstelingrekenaarspeletjie. Of kyk saam na daardie fliek wat sy so gereeld kyk. Gesels oor dié dinge wat hulle geniet.
• Gee jou kind die geleentheid om ’n gesprek te begin. Luister dan sonder om raad te gee of te oordeel of vinnige gevolgtrekkings te maak. Sê iets soos: “Nou verstaan ek wat jou pla. Dit moet moeilik wees.”
Lees hier verder oor kinders wat nie wil praat nie.