2 Maart 2021
Sprankelend is sy gewis, veelsydig ook. In die grendeltyd word sy landwyd bekend as aanbieder van Anzél in die Boland. Haar passie vir die stories wat sy vertel, is aansteeklik. En die TV-kykers kan gerus wees: Daar is nog báie wat sy wil vertel.
DEUR DEONETTE DE KOCK
“Ek glo hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen. As ek nou op my lewe terugkyk, is daar reeds soveel hoogtepunte wat ek kan koester.”
Anzél Stofberg Rabie is die dogter van die oud-Springbokrugbyspeler Theuns Stofberg. Sy is 29 jaar oud, maar het al heelwat om op terug te kyk.
Dié donkerkop is boonop ’n slimkop, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat in Kanada en die VSA as ouditeur gewerk het. Sy is ’n voormalige Mej SA-finalis. Sy het reeds twee agtereenvolgende kere die Comradesmaraton voltooi. Sy het selfs die Ystermankompetisie aangedurf.
En sy is ’n wêreldreisiger. Sy en haar man Stephanus, TV-regisseur en programvervaardiger, het reeds 21 lande saam besoek.
‘My grootste bewonderaars’
Anzél het in Welgemoed grootgeword, een van Kaapstad se noordelike voorstede. Haar ouers is geskei toe sy nege jaar oud was en sy het saam met haar ma Stellenbosch toe verhuis.
Dit was baie moeilik om twee ouerhuise te hê, vertel sy. Sy het egter vroeg reeds besluit dat sy openlik oor dié deel van haar lewe gaan praat. Sodoende het sy baie van haar maats gehelp wie se ouers ook aan ’t skei was.
LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel
Sy vertel oor haar Springbokkaptein-pa: “Ek sal hom as ’n ‘gentle giant’ beskryf. Hy is saggeaard, hy stel homself altyd tweede. En hy wil net die beste vir ons hê. Ek bewonder sy passie vir mense, hoe goed hy vir ander is.
“Hy het my geleer dat roem nooit na jou kop toe moet gaan nie; jy is nooit beter as enigiemand anders nie. En hy was nog altyd een van my groot ‘fans’. Ek onthou hoe hy my langs die pad ondersteun het toe ek die Comrades gehardloop het, sy senuwees aan flarde.
“En ek is niks sonder my ma nie. Sy is ’n wonderlike vrou met die grootste omgeehart denkbaar. Sý is dalk my grootste aanhanger.”
‘Die wonderlikste mens’
Anzél blom as sy oor haar man Stephanus praat. “Ons het saam grootgeword,” vertel sy. “Ek was maar ’n dogtertjie, agt jaar jonger as hy, toe hy as ’t ware na my omgesien het, hy het vir my voorgelees.
“Ná my ouers geskei is, het ons mekaar 18 jaar lank nie gesien nie. Maar toe ons mekaar daarna raakloop, was dit behoorlik ‘love at first sight’!
“Hy is sonder twyfel die wonderlikste mens wat ek ken. Hy is my heel beste vriend. Ons sê gereeld vir mekaar dat ons mekaar se grootste geskenk is.”
‘My rots’
Oor haar geloof praat sy graag. “Die Here is my rots. Dis my liefde vir Hom wat my deur elke dag dra. Hy het my al só geseën, meer as wat ek ooit kan verdien. Hy het my hart gesond gemaak wanneer dit baie seer was, en my geleer hoe belangrik dit is om te vergewe. Dat vergifnis ’n mens vry maak om ’n vol lewe te kan lei.
LEES OOK: VIDEO: Onderhoud met skrywer van ‘Die klip in Lisa se borskas’
“Die bekende Jeremia 29:11 is die Bybelvers waaraan ek vashou. Dit lui só: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.’
“Die Here se wil vir my lewe en sy tydsberekening is perfek.”
Bolandse skatte
Anzél in die Boland het sy ontstaan aan die koronavirus te danke. Een van die kykNET-programme kon as gevolg van die inperking nie voltooi word nie, en Stephanus en Anzél het die uitdaging aangegryp om binne ’n maand ’n TV-produksie aan mekaar te slaan.
Die program was feitlik dadelik ’n sukses. Anzél se sprankelende persoonlikheid het groot aanklank by die kykers gevind.
Sy vertel: “Dis ’n groot voorreg om die stories van dié geweste met die kykers te deel. Hier is soveel ware karakters, en soveel versteekte skatte! Dit was wel ’n groot uitdaging om te midde van ’n pandemie TV-programme te probeer maak. Ons moes dikwels ons planne aanpas en selfs heeltemal verander wanneer iemand siek geword het.”
Daar word reeds aan ’n tweede reeks gewerk.
LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap
Anzél vertel van die reuse-impak wat die pandemie en die gepaardgaande verbod op drankverkope asook die aanvanklike verbod op uitvoer op die wynbedryf gehad het. “Ons kom op plase aan en sien die bokse en bokse wyn wat daar staan. Dis koste wat reeds aangegaan is en waarskynlik nie verhaal gaan word nie. Duisende mense het hul werk verloor. Dis hartverskeurend.”
“Ek is besonder bevoorreg,” sê Anzél, “dat ek steeds werk het. Daarom gryp ek alles wat oor my pad kom met albei hande aan.”
Sy het groot planne vir die toekoms. Ná Anzél in die Boland wil sy ook ander plekke in ons land gaan verken. En as sy kan, ook daardie stories met die kykers deel.
Hierdie veelsydige, sprankelende jong vrou se dae is vol, en vir seker te kort. Daaroor is sy opsigtelik dankbaar.