Skerms en die tegnologie is deel van ons, en ons kinders, se leefwêreld. Dit is egter ‘n instrument wat ons met groot omsigtigheid moet toelaat in ons kinders se lewe. Hierdie artikel kyk na die tegnologie en kinders se ontwikkeling, en hoe skerms dikwels meer nadelig is as wat ons dink.
Die skokkende gevolg van te veel skermtyd by kinders en tieners
By kinders word vetsug, diabetes, hoë bloeddruk, slaapsteurings en sigverswakking dikwels as fisieke gevolge van te veel skermtyd aangemeld. Slaapsteurings by volwassenes en kinders word veroorsaak deur die blootstelling aan skerms se blou lig, wat die afskeiding van melatonien (die hormoon wat die liggaam se sirkadiese ritme – of slaap-wakker-siklus – reguleer) verminder, sê dr Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.
“Kinders se oë ontwikkel nog en nabysiendheid (miopia) kan ontwikkel indien hulle nie genoeg geleentheid kry om te oefen om afwisselend naby en ver te fokus nie. Dit belemmer die ontwikkeling van die oogspiere en gevolglik leesvermoë. By tieners en volwassenes hou skermtyd ook verband met swakker slaappatrone en oogspanning, asook hoofpyn, nek- en rugpyn, en postuurprobleme,” sê hy.
Volgens Johan Koekemoer, hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, is daar ’n regstreekse verband tussen skerms en kinders se taalvaardigheid. “Taalontwikkeling is vervleg met kognitiewe ontwikkeling en akademiese vordering. Verskeie studies dui ’n verband aan tussen gereelde skermtyd en laer ontwikkelde taalvaardigheid omdat skermtyd speel, storievoorlees en gesprekvoering inperk. Hoe vroeër kinders aan skermtyd blootgestel word, hoe swakker is hul leesvermoë en taalontwikkeling.
“Ouers besef nie dat die brein nie gemaak is om ongereguleerde hoeveelhede dopamien (’n kragtige neuro-oordragstof wat intense aandag, belangstelling en goedvoel aanwakker) te absorbeer nie. Ons dink ’n kind is rustig en soet met ’n skerm in die hand, terwyl hy of sy eintlik ‘hoog’ is, net soos met dwelmverslawing. Ons moet waak teen ’n kindgesentreerde ingesteldheid waar die lewe om die kind se giere en gemak gerig word.
Lees ook ons artikel oor die tekens van skermverslawing by tieners.
“Kinders se ontwikkeling word juis deur beweging aangevuur, veral tydens vroeë kinderontwikkeling. Kinders moet boom klim en modderkoekies bak!” sê Koekemoer.
Tegnologie en kinders: Meer speel, minder skerms!
Volgens dr Marlena Kruger, stigter en hoof van MindUnique Education en TechnoLife Wise, neurowetenskapkenner en kampvegter vir digitale gesondheid, dra beweging aktief by tot die ontwikkeling van senuweenetwerke, wat die boublokke vorm vir verdere ontwikkeling op alle vlakke. “Oormatige skermtyd is vir seker een van die grootste redes waarom ons ’n ongekende toename in kinders sien wat reeds op ’n vroeë ouderdom met oogprobleme, asook neurologiese en leerversteurings soos Elektroniese Skermsindroom (ESS), aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (AGHV), outisme, en kompulsiewe en onbeheerbare gedrag gediagnoseer word.
“Die Duitse neurowetenskaplike prof Manfred Spitzer het reeds in 2012 na digitale demensie verwys as een van die gevolge van die oorgebruik van skerms en tegnologie ten koste van speel en leer in ’n natuurlike omgewing.
“Babas, kleuters en kinders moet op ’n natuurlike manier speel en hul omgewing in minstens drie dimensies ontdek en ervaar. Hulle moet deurlopend al hul eksterne en interne sintuie gebruik en integreer om hulself in ’n bepaalde ruimte te kan oriënteer, en hulle spiere gebruik om hulself en hul postuur regop te hou en te balanseer,” sê Marlena.
Volgens Hanlie Degenaar, spraak-taalterapeut en kliniese bestuurder van die Centre for Health and Human Performance: Care2Kids aan die Noordwes-Universiteit (NWU) word veral die fondasie vir die ontwikkeling van die pre-frontale korteks verswak. “Die pre-frontale korteks speel ’n belangrike rol in impulsbeheer, besluitneming, probleemoplossing en gedrag. Oormatige blootstelling aan vlietende en vermaaklike skermmedia maak dit moeilik vir jong kinders om hul aandag op belangrike aktiwiteite te fokus waarmee hulle lewensvaardighede en kennis opdoen.
“Roetine-aktiwiteite is belangrike leertyd vir kinders, maar dit ding mee met die kitsopwinding wat skerms in die beloningsentrum van die brein ontketen. Dit lei dikwels tot uitdagende gedrag wanneer roetine-aktiwiteite moet plaasvind of opdragte uitgevoer moet word.
“Hierdie stimulus-respons-beloning-patroon word telkens versterk en geoutomatiseer. Die brein pas by die dopamienproduksie aan en soek telkens meer om dieselfde vlak van bevrediging te ervaar. ’n Smagting na al meer skermtyd ontwikkel en word ’n bose behoeftekringloop wat moeilik gebreek word,” sê sy.
Daar is hoop vir minder skermtyd
Prof Elmari Deacon, hoof van die Skool vir Psigososiale Gedragswetenskappe aan die NWU, beveel die volgende aan:
A – Bewustheid (awareness)
Raak bewus van hoeveel tyd jou kind (of selfs jy!) aanlyn spandeer. Dit stel jou in staat om jou kinders se blootstelling te beperk en te monitor.
B – Balans (balance)
Help jou kind om iets anders te vind om te doen in die tyd wat hy/sy gewoonlik aanlyn deurgebring het. ’n Skermblaaskans is ’n belegging in jou kind se gesondheid én gemoedstoestand.
C – Beheer (control)
Stel vir jou kind riglyne oor skermgebruik, en hou daarby. Vir babas en jong kinders is storievertelling, liedjies, rympies en beurtspel saam met ouers en versorgers ongelooflik belangrik.
- Lees ook meer by www.technolifewise.org en www.mindunique.co.za.
- Hierdie artikel is deur Dawid Brand geskryf en is deel van ’n reeks oor #skermverslawing.