Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Govan – eerlik en eg

As die TV-programme Carte Blanche en Govan Ontbloot op jou kyk-lysie is, het jy dalk al gewonder oor die mens agter die skerpsinnige multimedia-joernalis Govan Whittles. Waar kom hy vandaan? Hoe lyk die uitdagings wat hy beleef? En wat laat sy hart vinniger klop?

Hy is ’n joernalis, TV-aanbieder en inhoudvervaardiger. Govan Whittles het ’n bekende teenwoordigheid in duisende huishoudings geword.

Tydens ons gesprek in ’n gesellige koffiewinkel kom goeie oordeel ter sprake, waarop Govan sê: “Ek is maar ’n gewone ou. Soms wonder ek of my oordeel goed is.”

Hy is diep gewortel in sy mense, sy waardes en sy geloof, en hy is deeglik bewus van die kompleksiteit van ons bestaan. Hy neem die lewe nie op sigwaarde nie, maar bevraagteken en verken en reik na begrip. Terselfdertyd is sy lag nooit ver nie, veral wanneer sy familie en vriende naby is.

Govan is ’n Oos-Kaapse boorling. Soos hy self sê: “Daar gebore, daar grootgeword en daar skool geloop.”
Hy en die drie manne, Curtis Russell, Roland Fourie en Ethan Carelse – wat nou nog sy beste vriende is – het in King William’s Town (deesdae Qonce) grootgeword. “Ons het in die bos gespeel en in die rivier geswem. Ons het vrugte gesteel en rugby en straatkrieket gespeel.

“Ek het tot in standerd 9 (deesdae graad 11) kaalvoet geloop en eers in matriek ’n selfoon gekry. Ek sê altyd ek het my kinderjare voluit geniet. En ek het dit kláárgemaak.”

Govan se neef en goeie vriend Elgan het hom aan hip-hop voorgestel. “Ek is ’n rapper – en dis regtig wie ek toe was!” Hulle het aan talentkompetisies deelgeneem en oral opgetree.

Later het Govan ook sy buiging voor Pretoriase en Johannesburgse gehore gemaak, maar deesdae is daar nie meer tyd om hom só uit te leef nie.

Sy werk en sy geloof

Hy lag toe ek vra hoekom hy ’n joernalis geword het. “Ek kom uit ’n familie van storievertellers,” vertel hy. “En ek het joernalistiek gekies vanweë my liefde vir stories vertel. Of dalk ook oor die politiek, want my pa kom uit die politiek.

“Eintlik was daar ’n heel vreemde aanloop: Ek is na die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria omdat ek gedink het die kampusradiostasie sou my help om my rap-loopbaan vlerke te gee. Dit was ’n dom idee, maar dis hoe die Meester dit vir my bepaal het.”

Die kerk is onlosmaaklik deel van Govan en sy mense se lewe. “My oupagrootjie was ’n evangelis, my oupa het gepreek, my pa preek steeds, my ma was ’n jeugleier. Ek en my vriende is in verskillende kerke, maar verwys na mekaar as ‘broers’.
“As jong manne is ons dopgehou en ons moes ons voorbeeldig gedra. Maar ons het nie altyd nie,” sê hy met ’n vonkel in die oog. “Ons is wie ons is, maar ons is kinders van die Here en trots om dit te sê.”

Hoe rym Govan se geloofslewe met sy werk?

“Ek glo ek is gekies om te doen wat ek doen. Ek gebruik my werk as verskoning vir my luiheid om nie méér betrokke te wees by die kerk hier in Johannesburg nie. Ek sê altyd my werk is my preek.

“Toe ek by Newzroom Afrika gewerk het, het ek soggens in my stiltetyd gesê: ‘Oukei, Meester, hier gaan ek nou uit as u dienskneg. Maak die harte sag sodat die mense kan weet ek kom om u werk te doen.’

“Ek doen dit steeds voordat ek moeilike onderhoude vir Carte Blanche moet voer.

“Ek vra ook vir ’n wag voor my mond, dat ek sal stilbly en eers op die regte tyd sal praat. Dis wat jy doen as jy onseker is oor die lewe. Al lyk ek dalk vol selfvertroue op TV, is ek dikwels onseker.

“Ek het ’n diploma in joernalistiek en het verskeie kursusse oorsee voltooi, maar baie van my kollegas het meer geleerdheid as ek.

“Ek is ’n baie senuagtige mens. Maar ek loop in geloof. Die Here het my tot hier gebring.

“Ek dink nederigheid is die fondament van Christenskap. En dis nie so ’n slegte ding om die minste te wees nie. Wanneer iets gebeur wat my klein laat voel, onthou ek dat Jesus vernedering geken het.”

Govan en sy vrou Zakirah, met Ezekiel Nesta op ma se skoot, en Azania Rumi by pa.

’n Ma wat bid

Govan praat graag oor sy ma, Rosemary, wat in 2023 oorlede is. “Voor haar dood het ek haar gevra wat sy van my stories dink. Toe sê sy: ‘Ek kan sien jy is nie bang om mense te konfronteer nie. Jy het dit by my geërf.’

“My ma het gebid dat ek ’n pos by Carte Blanche kry – en toe bied hulle my die werk aan! Net so, uit die hemel uit. My ma kon ’n ding raakbid.

“By haar begrafnis het die predikant vir my gesê: ‘Al die deure wat toe was vir jou, sal nou oopgaan.’ En dit was so. Dis eintlik surrealisties.”

Wat van sy werk by Carte Blanche is vir hom uitdagend?

“Alles is uitdagend! Selfs die lekker stories. As ons in die hitte skiet, sê hulle vir my: ‘Boeta, jy blink! En jy verander van kleur.’ Dis omdat ek so vinnig tan.”

“Ek neem my werk baie ernstig op. As die Here dit so wil hê, sal ek Carte Blanche vir die res van my lewe wil doen.”

’n Moeilike program

Vanjaar kon Govan ook sy hand waag aan Govan Ontbloot, die kykNET-reeks waarin hy gewone mense met buitengewone stories aan die kykers bekendstel. Hy is nie net die program se aanbieder nie, maar ook die inhoudvervaardiger.

Hieroor sê hy: “Dis heeltemal anders as Carte Blanche. Die program trek my uit my gemaksone omdat ons met temas en gemeenskappe werk wat my uitdaag. Soos die episode oor die swingers. Ek glo dat elke mens in Suid-Afrika die reg het om hulle storie op TV te vertel. En ek, en hopelik ook die kykers, moet dapper genoeg wees om nie te oordeel nie.

“Ek waarsku die deelnemers dat die TV-blootstelling selde tot ’n verandering in hul omstandighede sal lei. Indien iets wel verander, is dit net deur die Here se genade.

“Dis ’n moeilike program om te maak, maar ons visionêre uitvoerende vervaardigers, Rudi Botha en John Webb, verleen stabiliteit aan die reeks. Ek hoop baie mense sal daarna kyk, ook na die heruitsendings, sodat hulle kan sien watter soort stories ons vertel.”

Govan sê oor Zakirah: “Sy is uitgesit vir my.”

‘Jy’s uitgesit vir my’

“Govan Ontbloot voel nie na werk nie; dit kom natuurlik. Maar al die rondritsery weeg swaar op my gesin. Ek en my vrou Zakirah het twee kleingoed, Azania Rumi (6) en Ezekiel Nesta (2).”

Govan lag: “Hulle het name gekry wat hulle kan gebruik wanneer hulle eendag op die verhoog beland!”

Govan en Zakirah het saam grootgeword. Hul onderskeie gesinne was vriende, maar dié twee was in verskillende skole. “Ek dink ons is vir mekaar bedoel,” sê Govan. “Soms kyk ek na haar en ek dink: ‘Hei, jy’s uitgesit vir my.’

“Zakirah is ’n Moslem. Ons kinders is in die Metodistekerk gedoop, en Zakirah is die een wat Sondagoggend opstaan en sê: ‘Kom, dis tyd om kerk toe te gaan.’

“Kort voor my ma se dood, op haar 60ste verjaardag, het sy voor almal wat daar bymekaar was gesê: ‘Govan, jy moet jou vrou koester. Jy het ’n goeie vrou gekies.’

“Ek leer nog om my vrou beter te koester. Sy gee baie om vir my en sorg vir my, veral in dié tyd wanneer ons so besig word. My swaer het by ons ingetrek om te help, wat ek baie waardeer. My kinders het nie ’n oupa of ouma of tannie, wat hulle elke dag kan sien, soos ek gehad het toe ek ’n kind was nie.”

Govan sê hy kuier dolgraag om die braaivleisvuur, en hy speel gholf wanneer hy die kans kry. Maar dit wat hom die naaste aan die hart lê, beskryf hy só: “Ek speel met my kinders, dis my lewe. Ja, my lewe is my vrou, my kinders, my werk en my kerk.”

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF