Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jong seun sterf kort ná ma se diagnose: ‘Ek vind vrede in die wete dat Liam my kankerpad gespaar is’

Soms slaan die lewe jou met dubbele slae, soos die 42-jarige Marietha Rheeder van Stilbaai kan getuig. Sy is met graad 4-kanker gediagnoseer, maar voordat haar behandeling kon begin, moes sy haar 12-jarige seun Liam Claassen aan die dood afstaan. Vandag beur sy voort omdat sy haar seun belowe het sy sal aanhou baklei.

Liam is in 2023 met tipe 1-diabetes gediagnoseer. Hy was ’n klein vegtertjie en het by die nuwe leefwyse aangepas; gou-gou was dit deel van sy daaglikse bestaan. Hy het self sy suikervlakke onder beheer gehou en het dit self daagliks getoets. Hy het ook die insulien self ingespuit.

“Sy siekte het hom nooit teruggehou nie,” sê sy ma. “Hy het voluit geleef. Sy diagnose het uit die bloute gekom; ek het eerder ’n gebreekte been by hom verwag as hierdie siekte. Hy was baie energiek en versot op die buitelug.

“Hy kon met oud en jonk identifiseer. Hy het mense na hom toe aangetrek en  almal op die dorp het geweet wie Liam is. Hy was baie sportief en het sy liefde vir rugby, visvang en gholf passievol uitgeleef. Hy is dikwels in Stilbaai se strate gesien terwyl hy die dorp op sy fiets verken.”

Marietha en Liam het ’n besonderse band met mekaar gehad omdat sy hom as enkelma grootgemaak het.

“Liam was perfek in God se skepping; hy is slegs aan my geleen. Hy het ’n hart van goud gehad. Hy het my verstaan, in alle fasette van wie ek is. Hy was my vertroueling. Hy het sóveel liefde en warmte aan my gegee en het ongekende begrip getoon vir iemand van sy ouderdom. Ek sal dit wat hy was vir ewig koester.

“Toe ek siek geword het, was Liam vreesbevange dat ek sou doodgaan. Hy het gevra of ek my hare gaan verloor. En of ek sou sterf. Dit het hom baie diep geraak. Hy het my telkens, sonder vooraf waarskuwing, in sy arms toegevou.

“Hy was so sterk, en tog so weerloos. Albei my ouers is oorlede en dit was net ons twee. Hy het altyd geluister as die dae vir my swaar was.”

’n Kankerdiagnose

Marietha se siekte het met ’n pyn in haar kuit begin. In Februarie 2025 het sy besef dat daar groot fout is. Sy is na verskeie dokters toe, wat verskillende scenario’s geskets het.

Dit was die een diagnose ná die ander. Aanvanklik is die seer kuit aan ’n geskeurde kuitspier toegeskryf. Of vog wat opgebou het, of ’n bloedklont, of bloeding in die kuit. Tot in Meimaand kon die dokters nie bevestig wat verkeerd was nie.

Sy onthou: “My kuit het al hoe groter geword. Die pyn was onhoudbaar. In Junie het ek, uit nood en ten spyte van die geweldige pyn, na die staatshospitaal in Riversdal gery. Die eindelose rompslomp om my in die stelsel opgeneem te kry het my byna laat moed opgee.

“Uiteindelik is ’n biopsie gedoen. Ek moes ’n paar weke wag voordat ek weer die dokter kon spreek. Op 12 Julie 2025 is pleomorfiese sarkoom, ’n seldsame soort kanker, by my gediagnoseer. Dié kanker ontstaan gewoonlik in die spiere, vetweefsel en bindweefsel, en verskyn dikwels in die bene. Dit word as ’n hoëgraadse sarkoom beskou, wat beteken dat dit vinnig groei en versprei indien dit nie vroegtydig behandel word nie.

LEES OOK: ‘My kind se selfdood, my winter van ma-wees’

“Die dokters het my in November 2025 ingelig dat die kanker reeds in fase 4 was en na my longe en kliere versprei het.”

Toe, onverwags …

Maar voor Marietha met die behandeling kon begin, moes sy haar enigste seun groet. Dit was ’n naweek soos enige ander, en ’n maat het by Liam gekuier.

Marietha vertel: “Liam het onverwags in ’n diabetiese koma verval en op 15 September in die hospitaal gesterf. Dit het oor ’n naweek gebeur. Hy het glad nie siek gevoel nie. In daardie stadium het hy hom elke drie ure met insulien ingespuit.

“Hy en sy maatjie het nog lekker gespeel en fiets gery. Toe hy die Sondagoggend sy bloedsuiker toets, was dit te hoog. Ook ná sy inspuiting het die telling hoog gebly. Ons is na Riversdal-hospitaal, en hy is van daar na George oorgeplaas. Die dokters het alles gedoen om die suikertelling te stabiliseer, maar niks wou werk nie. Hy is die Maandagoggend vieruur oorlede.”

‘Hy is veilig’

“Vandag vind ek vrede in die wete dat Liam my pad met kanker gespaar is. Hy is ook nie meer weerloos in ’n wêreld wat soveel lelik het nie; hy is veilig.

“Tog weeg dié versekering soms nie swaar genoeg te midde van die ontsettende verlies nie. Ek verlang elke dag, dit sit in my lyf.

“Ek en Liam was baie lief om foto’s te neem en daarna te kyk. Vandag is ek baie dankbaar dat ons soveel herinneringe kon vasvang. Dis vir my ’n kleinood op hierdie moeilike pad.

“Aanvanklik was ek kwaad, bitter kwaad. Ek was bitter oor my seun se dood en opstandig oor die Groot K in my lewe. En ek kon nie by my ouers gaan aanklop vir troos nie …

“Maar ek glo dat God se reis vir my nog volbring sal word.

“Met die verlies van Liam en my terminale siekte, het ek besef dat môre nie gewaarborg is nie. Dat ek niks as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Die lewe is vlietend. My geloof dra my terwyl ek voetjie-vir-voetjie voortbeur.

“Ek is ’n alleenloper wat energie in myself vind; Liam was die ekstrovert in ons klein gesin. Maar ek het wel ’n klomp gelowige vriende wat my daagliks ondersteun.”

’n Lang en uitdagende pad, maar …

Marietha vertel van nog ’n groot terugslag wat haar intussen getref het: “Ek moes op 10 Maart vanjaar my been laat amputeer. Die dokter was aanvanklik gekant teen so ’n drastiese stap. Hy het my moed ingepraat en gesê dat daar alternatiewe is. Ongelukkig het dit nie so uitgewerk nie.

“Ek het hom later ernstig versoek om asseblief die been te verwyder. Ek kon nie meer met die pyn saamleef nie. Ek het my fisiek en geestelik op die amputasie voorberei.

“Dit is ’n lang en uitdagende pad so sonder my been, maar ek is sonder pyn.

“En ek het Liam belowe ek sal aanhou baklei. Daarom is opgee nie vir my ’n opsie nie.

“As ek nou terugkyk op Liam se lewe, is ek oorweldig deur die oorgawe waarmee hy geleef het. En deur al die liefde en begrip wat hy op sy brose ouderdom uitgedeel het, daardie 12-jarige seun met die denke van ’n grootmens.

“As hy kon deurdruk, kan ek ook. Ek skuld hom minstens dít.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF