“Maar Mamma, dit was nie ek nie!”
Ek staan by my seuntjie se kamerdeur. Die kamer is omgekrap, want sy maatjies het kom speel. Ek wonder heimlik of daar nog ’n vloer is, want ek kan dit nie sien nie …
“Was jy hier?” vra ek.
“Ja, Mamma.”
“Is dit jou kamer en jou speelgoed?”
“Ja, Mamma.”
“Het jy jou maatjies gevra om jou te help opruim?”
“Nee, Mamma.”
“Wel, dan is dit ongelukkig jou verantwoordelikheid om nou hier skoon te maak.”
LEES OOK: Die maklike en die moeilike pad
Onder groot protes moes hy toe sy kamer aan die kant maak.
Ek het onlangs ’n klompie boeke oor die Tweede Wêreldoorlog gelees. Dit is verstommend dat iets so gruweliks in die wêreld kon afspeel. Hoe kon dit gebeur? Navorsers wys daarop dat onreg nie net gedy vanweë sommige mense se boosheid nie, maar ook vanweë die stilte van dié wat kon praat maar nie het nie.
Een van die hoofredes hoekom so iets kon gebeur, is nie bloot omdat daar slegte mense was wat slegte dinge gedoen het nie, maar eerder omdat daar so baie goeie mense was wat die slegte dinge toegelaat het. Hulle het anderpad gekyk. Gemaak of hulle niks weet nie. Solank dit net nie met mý gebeur nie … Solank ék net veilig is.
Sulke dinge gebeur nie sommer oornag nie. Dis soos die stadige kruip van ’n rankplant: loot vir loot, blaar vir blaar, totdat die muur uiteindelik agter ’n digte groen gordyn verdwyn.
Is stilbly altyd die beste antwoord?
En so is dit vandag nog. Suid-Afrika se grondwet is van die mees progressiewe in die wêreld wat menseregte betref. Vra enigiemand of hy of sy in menseregte glo, en die antwoord sal ja wees. Tog kyk ons anderpad terwyl die mense om ons se regte geskend word. Terwyl kinders sonder onderrig grootword. Terwyl siekes sonder die mees basiese gesondheidsorg moet klaarkom. Terwyl korrupsie en diefstal ons toekoms steel. Maar ons kyk anderpad … solank ons net nie daardeur geraak word nie. Ons bly tjoepstil … terwyl die omstandighede ons roep om uit te skreeu.
Ek probeer my kinders leer wat verantwoordelikheid is. Want dalk, as hulle dit vroeg genoeg leer, sal hulle eendag besef dat jy verantwoordelikheid moet aanvaar vir jou plek en vir wat daar gebeur.
Jou plek is egter nie slegs jou huis nie; dis ook jou gemeenskap, jou dorp en jou land. En die wêreld waarin jy tuis is. Want, nee, my verantwoordelikheid eindig nie by my onmiddellike omgewing nie.
Dit is die mens se natuurlike instink om hom-/haarself te probeer beskerm wanneer gevaar dreig. Soms reken ons dat stilbly die beste antwoord is wanneer ongeregtigheid botvier. Maar Jesus het ons ’n ander moontlikheid gewys, iets wat dalk vir ons vreemd is, iets wat net die Heilige Gees ons kan leer: Jesus het sonde en skynheiligheid uitgewys. Hy het dit wat verkeerd was, veroordeel. Hy het nie stilgebly nie. Hy het die tempel “skoongemaak” en die kwaaddoeners verjaag. Ons lees in Matteus 21:12-13: “Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi en vir hulle gesê: ‘Daar staan geskrywe: My huis sal ’n huis van gebed wees, maar julle maak dit ’n rowersnes.’”
Die tyd waarin ons leef
Jesus verwag dat onreg ons ook ongemaklik maak. Kwaad kan net seëvier wanneer goeie mense stilbly. En ons kan skuldig wees aan die kwaad deur na te laat om op te tree.
Ons leef in ’n vreemde, onrusbarende tyd. Mense praat van ’n volgende Koue Oorlog en selfs ’n Derde Wêreldoorlog. Daar is genoeg kwaad om ons. Dalk het dit tyd geword om onsself af te vra: “Is ek hier? Hier waar kwaad die botoon voer en sonde seëvier? Is dit my kamer dié? En mý gemeenskap, mý land en mý wêreld?
As ons verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie kamer en ons eie omgewing en dit in die volle sin van die woord opruim, kan ons die dorp en stad en land en wêreld ’n beter plek maak. Hier is ’n sleutelteks uit die Ou Testament: “Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ’n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes” (Jes 58:1).
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

















