Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Soms groei die mooiste dinge uit ons moeilikste seisoene’ – pyn dwing kunstenaar om nuwe uitlaatklep te vind

In Junie 2021 het ek ’n prosedure ondergaan vir karpale tonnelsindroom – iets wat as ’n relatief eenvoudige operasie beskou word. Maar niemand kon voorsien wat daarna sou volg nie. Wat veronderstel was om ’n roetine-herstelproses te wees, het my en my gesin totaal onverhoeds betrap.

Kort ná die prosedure is ek aan my linkerskouer geopereer. Ná die operasie was ek vol pyn. Dit wou nie skietgee nie. Inteendeel, dit het mettertyd erger geword. Ons het verskeie spesialiste geraadpleeg in ’n poging om antwoorde te kry, en maande se onsekerheid en frustrasie het gevolg.

Toe, in Oktober 2021, het ons uiteindelik ’n naam gekry vir wat fout was: komplekse regionale pynsindroom (CRPS). Dis ’n seldsame maar besonder pynlike neurologiese toestand wat dikwels ná trauma of ’n operasie ontwikkel. Die senuweestelsel oorreageer op ’n besering en selfs nadat ’n wond genees het, kan die pyn voortduur. En dan selfs erger as met die oorspronklike besering. Simptome sluit intense brandpyn in, en swelling, sensitiwiteit vir aanraking en ’n verlies aan beweging. Die seer hou net nie op nie. Dit word dikwels beskryf as van die mees uitmergelende pyn denkbaar.

Gelukkig was die CRPS nie in my dominante regterarm nie. Ek het hande vol medikasie gebruik om die pyn te probeer beheer. Soms het ek gevoel ek funksioneer soos ’n zombie vanweë al die medisyne, en dit bloot om deur die dag te kom.

LEES OOK: Vrou praat ná jare oor disleksie: ‘Haal die label af en kyk wat God van jou sê’

Dis ook in sulke tye, het ek vasgestel, dat jy besef wie werklik langs jou staan. My gesin se liefde en ondersteuning het my deur daardie donker dae gedra.

’n Ellendige terugslag

Vyf maande ná die diagnose het ek en my man Hendrik besluit om ons huweliksherdenking in die Karoo te gaan vier. Een oggend het ons gaan stap, en ná sowat twee kilometer het ons teruggedraai.

Toe struikel ek oor ’n klip.



Die pyn was onmiddellik en intens. Ek kon skaars opstaan. My man het teruggehardloop om die kar te gaan haal. Hy het met my na die naaste hospitaal toe gejaag. Daar het dit geblyk dat ek ’n vierpunt-breuk in my regterskouer opgedoen het. Dis die arm wat ek gebruik wanneer ek skilder.

Die volgende dag is ek geopereer en daar is ’n plaat in my skouer geplaas.

Dit was ’n geweldige slag. Skilder is vir my meer as bloot ’n stokperdjie; dis hoe ek my uitdruk, hoe ek sin maak uit die wêreld. Met hierdie besering het dit vir my gevoel asof daardie deel van my lewe eensklaps tot stilstand gekom het.

Die maande daarna was emosioneel uitputtend. Ek het min geslaap en was depressief. Ek was gefrustreerd en vol woede. Deurentyd was die pyn intens.

Maar iewers in daardie donker tyd het iets begin verander. Iets kleins, het ek aanvanklik gedink: Ek het begin om met sensoriese “fidgets” te eksperimenteer. Dis klein voorwerpe wat ’n mens kan vashou, draai en bevoel. Dit het my gehelp om vir kort oomblikke my fokus te verskuif, weg van die pyn af.

Maar iets wat as ’n persoonlike hulpmiddel begin het, het gou ander mense se belangstelling gewek. Vriende en familie het gesien hoe dié eenvoudige voorwerpe my help, en hulle wou dit ook uittoets.

Só is Purple Fidgets gebore.

Vandag help hierdie sensoriese hulpmiddels mense met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), downsindroom, demensie en Alzheimer se siekte. Dis ook nuttig vir mense wat besig is om te herstel ná ’n operasie, of wat sukkel met emosionele en/of konsentrasieprobleme.

Kosbare insig

In 2025 het ek weer swelling en ’n verlies aan funksie begin ervaar, en dié keer in my dominante regterhand. ’n Spesialis het bevestig dat die CRPS na my regterarm versprei het.

Weer eens moes ek by ’n nuwe werklikheid leer aanpas.

CRPS het my lewe verander op ’n manier wat ek nooit sou kies nie. Maar dit het my ook geleer dat veerkragtigheid soms in die kleinste dingetjies lê. Ek kon nie meer skilder soos voorheen nie, maar my kreatiwiteit het steeds ’n manier gevind om tot uiting te kom. Waar daar eens verf en ’n kwas was, is daar nou klein handgemaakte voorwerpe wat rustigheid en troos vir baie mense bring.

Soms groei die mooiste dinge juis uit ons moeilikste seisoene. En as my storie vandag slegs één mens kan inspireer om aan te hou hoop, selfs wanneer die pad vol duwweltjies is, dan het die laaste woord toe nie aan daardie pyn behoort nie.

Dié Paulus-woorde in Filippense 4:6 het my nog altyd gedra: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

  • Surietha woon in Malmesbury in die Wes-Kaap.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF