Sy is uit haar ouerhuis ontvoer toe sy vyf jaar oud was. Daarna is sy mishandel en seksueel misbruik. Sedert sy en haar ouer suster die 4 000 km uit Midde-Afrika na Suid-Afrika te voet afgelê het, moes Popina Khumanda ook hier ’n baie lang pad stap om vastigheid en uiteindelik genesing te vind. Én Jesus Christus as Verlosser.
Popina Khumanda was ’n gelukkige vyfjarige dogtertjie in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toe haar vreedsame kinderlewe wreed omvergewerp is. Rebelle het in die vroeë 2000’s hul dorpie Zongo binnegeval. Sy en haar 21-jarige suster YaZiana* was van die ontheemdes wat deur die soldate as seksobjekte misbruik is. YaZiana wou haar sussie ten alle koste beskerm, maar vandag dra Popina steeds die littekens van talle aanrandings.
Soldate wat haar kinderliggaampie verkrag, staan haar steeds helder voor die gees. Popina vertel: “Terwyl hulle my verniel het, het ek met ’n soort helderheid geweet: Dis nie wat ek bedoel is om te wees nie; ek is nie hiérvoor gemaak nie.”
Toe YaZiana een nag droom dat Popina voor ’n groot gehoor staan en vertel van die onreg wat die DRK-mense ly, was die ouer suster geïnspireer: Hulle moet vlug, het sy geweet. Hulle moet vry word!
4 000 km te voet
Popina was tien jaar oud toe die sussies ontsnap het, vyf jaar ná hul ontvoering. Sy onthou: “Ons het weggehardloop terwyl die soldate agter ons gil. Ons moes maande lank stap en probeer oorleef.

“Twee dinge van ons staptog staan vir my uit: Die wonderwerk dat geen wilde dier ons aangeval het nie, en YaZiana wat my deurentyd aangemoedig het. Sy het aanhoudend gesê dis belangrik dat ek geleerdheid kry sodat ek vir die wêreld kan vertel hoe wreed ons mense mishandel word.
“Wanneer ek moedeloos was, het sy my vertel van die lekker kos en ’n veilige plekkie wat in Suid-Afrika op ons wag.”
LEES OOK: Gebroke ‘kinderhuiskind’ vind vrede: ‘Dis my kans om terug te gee nadat ek soveel seën ontvang het’
YaZiana het soms ’n prentjie van ’n skoolbank geteken en Popina daarvan oortuig dat so ’n bank haar vriend is, haar voertuig na geleerdheid.
Vandag besef Popina dat daardie uitmergelende staptog die eerste treë na haar eie heling was. Dit het haar ook ’n motto besorg wat haar steeds deur elke dag se uitdagings dra: “If I could walk it, I can do this.”
Ontnugtering
Maande later en byna 4 000 km verder, toe die sussies in Johannesburg aanland, het daar egter ’n ontnugtering op hulle gewag: Niemand het hulle juis met ope arms verwelkom nie; die swart Suid-Afrikaners het hulle kil behandel.
Kommunikasie was ’n groot probleem. Die plaaslike inwoners het nie hul moedertaal Lingala verstaan nie, ook nie hul tweede taal Frans nie. En hulle twee het van Engels en isiXhosa en Afrikaans niks geweet nie.
“Daar was soveel hoë geboue, en groot rygoed, en vreemde mense!” Vir die eerste keer in haar lewe het Popina wit mense gesien. Sy vertel: “Toe die hitte ’n blonde vrou se wange pienk kleur, was ek verstom. Hoeveel kleure mense kry jy dan …?
“’n Sogenaamde barmhartige Samaritaan, wat vir ons blyplek gegee het, was in werklikheid iemand wat hawelose mense in Johannesburg uitbuit.” En omdat dié twee sussies toe weer so misbruik is soos dit in hul eie land die geval was, het Popina ontsnap toe sy die kans kry. Maar dié keer was sy sonder YaZiana, en sy het op straat beland.
NG Kerk-kinderhuis
Uiteindelik het die Amerikaanse sendeling Aimey Brown haar gered en sy is maande lank gehospitaliseer. Toe Aimey na Port Elizabeth oorgeplaas is, wou sy nie die jong kind in Johannesburg alleen laat nie. En só het Popina in ’n NG Kerk-kinderhuis in Despatch beland.
Met meerendeels wit personeellede en bruin en Xhosa-kinderhuiskinders om haar, het sy dikwels eensaam gevoel. Maar sy was veilig, dié kind wat toe reeds te veel gesien en te veel beleef het.
“Ek was 12 toe ek die eerste keer in ’n skoolbank ingeskuif het. Die onderwysers was baie ondersteunend. Gisela Ferreira het vir my na-uurs Engelse lesse aangebied. En dikwels, wanneer ek min moed gehad het, sou ek voor ’n spieël in die kinderhuis gaan staan en myself moed inpraat. Ek sou iets sê soos: ‘Ek is Popina Khumanda van die DRK. Ek is in Suid-Afrika met ’n doel. Ek het hande, arms, bene en voete. Kry jou geleerdheid! ‘If you could walk it, you can make it.’”
Onlangs vertel Gisela Ferreira uit Despatch dat die onderwysers nooit die volle agtergrond van die kinderhuiskinders geken het nie. Sy was wel beïndruk deur Popina se leergierigheid en hardwerkendheid en haar vasberade geaardheid.
En weldra het Popina die agterstand ingehaal. Sy het geleer om Afrikaans, Engels en isiXhosa te praat en te skryf. Later sou sy ’n top tien-leerling in haar skool word.
Toe die kinderhuispersoneel oplaas besef hoeveel Popina na haar ousus verlang, is YaZiana met behulp van welsynorganisasies in Johannesburg opgespoor. Sy het intussen die naam “Diana” aangeneem, sy is ’n kombuiswerker in ’n restaurant en het self kinders. Die sussies behou kontak met mekaar, maar omdat Diana nooit berading en behoorlike ondersteuning ontvang het nie, is hierdie 40-plusser sieklik en asmaties.
‘Drome word wel waar’
Nadat Popina matriek in 2013 geslaag het, het sy vir ’n graad in inligtingstegnologie by die Nelson Mandela-universiteit in Gqeberha ingeskryf. “Drome word wel waar,” het sy op haar gradedag gesê. “Ek het in Suid-Afrika gekom met slegs drome, hoop en vasberadenheid. Vandag voel ek oorweldig en dankbaar.”
Maar kort ná die gradeplegtigheid was Popina baie onseker oor haar pad vorentoe. Sy het geweet dat daar ’n boek in haar broei wat geskryf moes word, maar sy het nie geweet waar om te begin nie. Mettertyd het sy mense teëgekom wat haar gehelp om die boek oor haar lewe ’n werklikheid te maak. En so is The Smallest Ones in Junie 2025 deur Penguin Random House uitgegee.
Die weldoeners wat haar met die boek gehelp het, het haar werkgewers geword. Sy het toe ook ’n spesialiskursus in kubersekerheid by die Universiteit van Kaapstad voltooi.
Ná 25 jaar woon en werk Popina deesdae in Kaapstad. Verlede jaar het een van haar gemeentevriende haar gelei om haar lewe voor Jesus Christus neer te lê. “Ek was in daardie stadium so moedeloos. Maar vandat Jesus my ontmoet het, het dinge verander. Ek is gedoop en het vrede gevind.
“Ek ontmoet gereeld vlugtelinge wat, soos ek destyds, ontwortel is. Wanneer ek hulle ondersteun, help dit ook vir mý helingsproses.
“Nadat ek Jesus as my Verlosser aanvaar het, het God vir my Genesis 12:1-3 gegee, die woorde waarmee Hy Abram op ’n nuwe pad gestuur het.”
Popina sê sy hou van mooi aantrek, en uitgaan saam met haar vriendinne. En op 31 het sy nou die eerste keer ’n spesiale vriend. Sy sê: “Baie mans trek hul neus op vir ’n meisie wat verkrag is; hulle reken sy is ’n ‘left-over’. My kêrel voel gelukkig anders hieroor; hy wil my ondersteun.”
Sy is Popina Khumanda, wat tree vir tree haar lewensroeping probeer uitleef. Al sal sy die trauma van haar kindertyd altyd saam met haar dra.
*YaYa beteken “ouer suster”; Popina beteken “Poppie”.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















