Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

LiG-redaksielede skryf ’n boek oor ma-wees: ‘Tussen krummels en karstoeltjies deur draai ons na die Koning’

Wat begin het as terapie, het vir twee van LiG se redaksielede na ’n boek oor ma-wees gelei.

Jy is ’n ma duisend is nou beskikbaar by Bybel-Media teen R160.

Maryke Hansen, inhoudvervaardiger by LiG, verduidelik: “My grootste struikelblok as ma van twee is dat ek altyd wonder of ek goed genoeg is. Daarom het ek begin om op die kombuisvloer of langs die krummels ná ete te gaan sit en skryf oor my belewenisse en bekommernisse as ouer.”

Francine Prins, die gedrukte LiG se redakteur, sluit hierby aan: “Die boek het begin as ’n soort terapie wat ek gekies het om die frustrasies en die verrassende ontdekkings van ma-wees neer te pen.”

Hulle het gou besef dat vele LiG-lesers waarskynlik ook hierby sal aanklank vind. En nadat hulle baie van die essays op sosiale media geplaas en positiewe terugvoer ontvang het, het Jy is n ma duisend die lig gesien.

Jy is ’n ma duisend (Bybel-Media) bevat 31 skryfstukke waarin dié twee ma’s eerlik en op ’n lighartige en dikwels humoristiese manier vertel hoe ma-wees hulle vervul, maar hulle soms ook herinner aan hoe ondankbaar dié reusetaak is.

LEES ‘N RESENSIE: Oor die wel en wee én chaos van ma-wees

’n Klompie beskrywings uit hierdie twee ma’s se onderskeie huise laat jou dikwels hardop lag, maar soms vee jy ook ’n traan af. Soos die keer toe Maryke moedeloos op die kombuisvloer gesit het met twee kleuters wat nie weet aandete is sesuur nadat Mamma nog tot vyfuur gewerk het nie. Of die dag toe Francine spontaan begin lag het nadat haar vierjarige “ek moet ook alles in hierdie huis doen!” uitgeroep het.

Francine en Maryke sê hul grootste raadgewer tydens hul ouerskapreis is God. Francine: “Ma-wees, wat my betref, is baie nou verweef met my begrip en belewenis van God as Versorger en van sy koninkryk wat aan ’t kom is. Dis daarom dat ek probeer om in die alledaagsheid van ma-wees tekens van God se vingerafdrukke raak te sien. En soms lyk daardie vingerafdruk kompleet soos ’n vuil handjie teen my nuwe broek.”

Maryke vertel: “Ma-wees is ’n proses wat die Here elke dag gebruik om my te vorm. Soms is ‘opdaag’ al wat ek kan doen, en ander dae is daar ruimte vir meer. Soms is die skaafproses seer, en ander kere loop my hart oor van vreugde. Maar nog elke keer, tussen die krummels en die karstoeltjies deur, kon ek my na die Koning draai vir wysheid.

“Ek glo dat die Here my reeds toegerus het om ’n ma duisend te wees, al voel dit nie elke dag so nie.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF