Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die blinde sanger Vernon Barnard: ‘Ons doel is nie om ’n ideale lewe te lei nie, maar om te weet dat ons gered is’

Die blinde sanger Vernon Barnard moes van jongs af groot uitdagings trotseer. Met sy deelname aan The Voice én ’n platekontrak in sy sak is een van sy groot drome verwesenlik. In 2020 het hy tot bekering gekom, en toe besef dat hy op God moet vertrou en nie op wat God vir hom kan gee nie.

“Die Here seën nie noodwendig met welvaart en voorspoed nie. Tog begeer soveel van ons dit van Hom.”

Aan die woord is die 32-jarige Vernon Barnard wat in 2016 met groot sukses aan die TV-musiekwedstrydprogram The Voice deelgeneem het.

Die keerpunt, en ’n groot droom word verwesenlik

Hy vertel: “Ek het in 2020 my hart vir die Here gegee. Al het ek in ’n Christelike huis grootgeword, was ek slegs ‘kultureel gesproke’ ’n Christen. Dit beteken ek het van die Here geweet, maar ek het nie ’n lewende verhouding met Hom gehad nie.

“Ná my deelname aan The Voice in 2016 het ek ’n klompie verkeerde besluite geneem wat my verkeerde afdraaipaaie laat kies het. Ek het in ’n verkeerde soort leefwyse beland wat negatiewe gevolge gehad het. My gewete het my aangekla. Maar ek het dit probeer regverdig …

“Die dag toe ek ’n totale oorgawe aan Hom gemaak het, was dit vir my ’n oomblik van volledige gebrokenheid. En toe kom die trane. Ek het besef ek het teen Hom gesondig en sy genade misbruik. Hierdie erkenning en belydenis was lewensveranderend. Ek het besef dat ek die Here moes leer ken as die almagtige Vader, en nie net vir wat ek van Hom wou hê nie.”

Vernon vertel dat hy nie van jongs af gesing het nie. “Ek het eers ná skool by sang betrokke geraak. Aan die einde van my matriekjaar het ek aan ’n talentkompetisie deelgeneem. Hierna het verskillende mense my genader en voorgestel dat ek my sang ’n trappie hoër neem.”

LEES OOK: ‘Met genade kán jy in moeilike omstandighede groei,’ sê blinde vrou wat duisende inspireer

Optredes by ouetehuise en ander funksies het gevolg, en Vernon het gou agtergekom dat dit presies is wat hy wou doen. Toe The Voice oor sy pad kom, het hy dit as ’n uitdaging beskou, wel een ver buite sy gemaksone.

“Ná ’n lang dag in ’n lang ry het my oudisie begin. Die beoordelaars sit met die rug na jou toe en beoordeel jou slegs op wat hulle hoor. Na afloop van die oudisie het hulle my besonderhede gevra.

“Ek moes ’n paar weke wag. Toe kom die nuus dat ek deurgedring het. Ek was baie opgewonde oor dié nuwe reis.

“Met my eerste optrede kon ek natuurlik nie sien wanneer die beoordelaars hul onderskeie stoele omdraai nie. Maar die gehoor se applous het my telkens ’n aanduiding gegee. Ek het tot in die finale ronde gevorder, en toe vir Bobby van Jaarsveld as my afrigter gekies.

“Daarna het ek ’n vier jaar lange platekontrak by Universal Music losgeslaan. ’n Groot droom is verwesenlik.”

Kleintyd se hartseer

Voordat hy ses jaar oud was, het Vernon reeds 16 oogoperasies ondergaan. Al hierdie operasies was onsuksesvol, en hy het gou die sig in sy linkeroog verloor. In daardie stadium het hy nog net 5% sig gehad. Die beelde was vaag, maar hy kon tog nog saam met sy pa na die krieket op die televisie kyk. Hy kon ook trappe en mure uitken.

Hy was, vandat hy ses geword het, in die Pionierskool vir siggestremdes op Worcester. Dit was vir dié klein seuntjie bitter moeilik om so ver van sy ouers af te wees.

“Veral die eerste vyf jaar in Worcester was baie sleg. As my ma-hulle nagelaat het om saans te bel, het ek my hart uitgehuil.

“As ek naweke tuis was, was Sondae vir my bitter erg. Ek het geweet ek moes teruggaan koshuis toe. Op ’n keer het my ouers my by die bus gaan aflaai, waarna ek skelmpies uit die bus geklim het en weer terug is motor toe. Op 12 het ek by my ouers gepleit om my na ’n skool in die Strand te laat oorplaas. Dit was natuurlik buite die kwessie.”

Namate die tyd aangestap het, is die verlange getemper deur goeie vriendskappe en groter volwassenheid. 

Talle uitdagings, selfs in ’n restaurant

Vernon vertel dat hy reeds van sy geboorte af probleme met sy sig gehad het. Hy is met gloukoom gebore, en die gevolg was dat sy linkeroog in 2014 verwyder is, en in 2024 sy regteroog.

Hy verduidelik wat gloukoom is: “Dit het te doen met die sirkulasie van vog in jou oë. Die oë neem nou meer vog in as wat dit afskei. Dit veroorsaak drukking agter die oog terwyl die oogbal hard word. Normale drukking is ongeveer 16%-20% terwyl myne tot 60% was. Dit het erge migraine, spierspasmas en ander probleme tot gevolg gehad.”

Al die komplikasies het ’n groot invloed op sy lewe gehad. “Daar is deur die jare heen etlike kere aan my regteroog geopereer. In die jaar voor die uiteindelike verwydering is nie minder nie as drie operasies aan die oog gedoen. Daar is onder meer ’n klep ingeplant om te help met die sirkulasie van die vog. Dit het egter ekstra wonde op die oogbal veroorsaak. In 2024 het ek besluit dat ek nie meer vir die pyn en ander slegte simptome kans sien nie, en ek het toe self besluit dat die oog verwyder moet word.”

Dié besluit is nie ligtelik geneem nie en die emosies het soms hoog geloop. Tog was hy nog nooit kwaad oor sy gebrek nie, wel gefrustreerd.

“Ek is ’n mens wat van onafhanklikheid hou, en nou moet ek op ander staatmaak as ek iewers heen wil gaan. Ek het al vir die Here gesê dat dit soms vir my te veel word. Ek het egter nooit vol aggressie by sy voete gaan sit nie, al voel ek kwesbaar.

“Mense hanteer my dikwels ‘anders’ omdat ek blind is. Ek verstaan hulle ongemak; dis nie altyd maklik om met ’n blinde mens oor die weg te kom nie. Omdat ’n blinde nie die vermoë tot oogkontak het nie, maak dit ander ongemaklik.

“Maar my gehoor is baie goed. Dit is, om die waarheid te sê, selfs óórontwikkel. Dit bring soms uitdagings mee as ek in ’n restaurant gaan eet: Al die agtergrondgeluide kom in hoëtrou na my toe aan!

“Solank mense my naam noem as hulle met my wil gesels en terselfdertyd sê wie dit is wat met my praat, werk dit. Ek is nooit ontoeganklik nie. Soms sal ’n kelner my ignoreer en iemand anders aan die tafel vra om die bestelling namens my te plaas. Dit is frustrerend, maar ek sal die kelner vriendelik benader deur te sê dat hy my gerus kan vra wat ek wil eet. Ek begryp dat sulke optrede aan onkunde te wyte is, en dit pla my nie regtig nie.”

‘Ek dank die Here vir die lewe wat Hy my gegee het’

Vernon word gekoester deur sy pa, Vernon sr (59), sy ma Beneta (58), sy broer Charl (29) en sy geliefde ouma Griet (80). Beneta ly aan gevorderde Parkinson se siekte en ouma Griet, Vernon sr se ma, hou die gesin se leisels styf vas. Sy woon reeds 15 jaar by hulle. Die spesiale rapport tussen haar en die jonge Vernon is feitlik tasbaar.

“Ek weet die Here is altyd by my, naby genoeg dat ek my hart by Hom kan uitstort. Ek mag al my laste voor Hom werp. Ek besef ook dat al sou ek steeds kon sien, my lewe vol probleme sou wees. Ek weet ek ervaar elke dag uitdagings, maar ek weet ook dat ek die Vader by my het, Hy en sy ewige beloftes.

“Mense is soms verbaas omdat ek die Here dank vir die lewe wat Hy my gegee het. Maar in sy Naam werk alles altyd ten goede uit.

“Ja, ek dink soms, al is dit net ’n oomblik lank, aan mense wat nie my soort uitdagings het nie. Maar dan spreek die Here my deur die Heilige Gees aan en lei my na ’n magiese plek van dankbaarheid.

“Jou doel op hierdie aarde is tog nie om ’n ideale lewe te lei nie, maar om te weet dat jy gered is.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF