Tina van Deventer vertel in dié uittreksel uit Die hart van ’n ma (Naledi) hoe sy en haar man dit oorleef het om 12 kinders groot te maak. Ja, Tina het aan al twaalf geboorte geskenk. Ja, mense gaap hulle soms aan. Sy gee toe – dit is nie altyd maklik nie, maar dit is ’n seën en ’n voorreg!
Deesdae groei die Van Deventer-gesin selfs verder as ’n dosyn plus twee ouers. Van die oudstes is getroud en daar is reeds ’n eerste kleinkind, ’n seuntjie wat na sy oupa vernoem is. “Ons is baie trots daarop en hy is te pragtig. Ek sê vir my kinders: Van almal is hy die mooiste!” lag Tina. Die jonger kinders geniet veral die baba, omdat hulle self nie kan onthou dat daar ’n baba in die huis was toe hulle klein was nie. Haar twaalf kinders is oor byna twee dekades gebore, met ’n ouderdomsverskil van 18 jaar tussen die oudste en jongste. Tina was 21 toe sy trou en 22 toe haar eerste kind gebore word, en teen die tyd dat die jongste gekom het, was sy 40. Sy het ook drie miskrame gehad en besef dat sy vir ’n groot deel vanhaar volwasse lewe swanger was of ’n baba versorg het. Hoewel sy altyd geweet het sy wil graag ’n ma wees, het sy nooit voorsien dat haar gesin só groot sou word nie. Sy het self uit ’n gesin van ses gekom, terwyl Francois se blootstelling aan groot gesinne beteken het dat die idee hom nie afgeskrik het nie. Van vroeg af was hulle eens oor hul uitgangspunt: “Ons sien kinders as ’n seën van die Here. Eendag gaan ons, behalwe ons kinders, niks met ons kan saamvat hemel toe nie,” benadruk sy. Die eerste jare, veral toe daar ’n handvol kleintjies gelyk was, was uitdagend. Tog sê Tina dat dinge met tyd makliker geword het, omdat daar ’n ritme in die huis ontstaan het en die ouer kinders begin help het. “Die Here het ons regtig geseën met goeie gesondheid. Hy voorsien ook in middele dat ons hulle kan grootmaak. Alhoewel dit sy uitdagings het – die lewe is nie net ’n maklike afdraande pad nie, daar is opdraandes ook – is dit lekker en ons geniet ouerskap en ons groot gesin. Ons maak regtig die beste daarvan,” sê sy.

Praktiese uitdagings in ’n groot gesin eis kreatiwiteit en eenvoud. Tina glo ’n mens moet die lewe vir jouself so maklik moontlik maak. Babas het byvoorbeeld dikwels langs haar geslaap om nagte rustiger te maak, en daar was tye wat kinders saam in een kamer op matrassies of komberse geslaap het sodat almal genoeg rus kon kry. “So maak jy die lewe vir jouself makliker. Ons kon nie te veel oor struktuur gepla wees nie,” sê sy. Kosmaak is ’n logistieke waagtoertjie wanneer daar ’n dosyn monde is om te voed. Aandete word vooruit beplan, kos word vooraf ontdooi, en groot potte eenpotgeregte, bredies en rysgeregte is deel van die Van Deventer-roetine. Goedkoper proteïene soos eiers en lensies was gereeld op die spyskaart. “Ek dink vandag wil my van my oudste kinders nog steeds nie lensies eet nie, want hulle het oorgenoeg daarvan onder my dak gehad!” lag sy. Sy bak ook graag brood om honger tienerseuns te versadig en terselfdertyd geld te spaar. Ten spyte van groot behoeftes, bly haar getuienis eenvoudig: “Die Here het ons nog altyd genoeg gegee om te kan oorleef.”
Die kinders is tuis onderrig, ’n besluit wat sy en haar man saam geneem het. Hierdie pad bring uitdagings, veral omdat elke kind uniek leer. ’n Vroeë poging om kinders twee-twee saam ’n graad te laat doen, het gou gewys hoe verskillend hulle is. “Ons konsentreer nou eerder individueel op ’n kind in terme van sy talente,” sê Tina. Wanneer ekstra hulp nodig is, word tutors ingespan.Haar oudste seun se pad illustreer dit goed. Sy het aanvanklik gehoop hy sou akademies vorder, maar wiskunde was nie sy sterk punt nie. Uiteindelik het hy eerlik vir haar gesê: “Mamma, wiskunde maak my naar, maar dreine maak my nie naar nie.” Hy het ’n loodgieterkursus gevolg en is vandag ’n suksesvolle besigheidsman, terwyl ’n ander kind meer akademies ingestel is en vir die bediening studeer. Vir Tina bly dit belangriker dat elke kind sy plek vind, ’n passie ontwikkel en ’n bydrae lewer. Lees speel ’n groot rol in hul huis. Hulle het selfs ’n “boekwurmgroep” in hul tuisskoolgemeenskap begin om ’n liefde vir boeke aan te wakker. Sy lees vir die kinders voor en help met remediërende programme waar nodig. Sommige kinders lees makliker as ander, maar sy glo die woordsaadjies wat gesaai word, ontkiem dikwels later. Met soveel kinders bly een van haar grootste bekommernisse om genoeg individuele aandag te gee. Die gesin het op ’n stadium ’n buddy-stelsel gebruik waar ouer kinders jongeres help met praktiese take, wat baie druk verlig het. Tog besef sy emosionele aandag gebeur nie vanself nie. “Jy hanteer die kinders dikwels saam in ’n groep en dan is dit so dat individuele aandag kortkom. Mens moet daarop let en jy moet dit aanspreek,” sê sy. Soms kom ’n kind laat in die aand stil op die bed sit vir ’n geselsie, en daardie oomblikke is vir haar besonder kosbaar.
LEES OOK: Jacques Papenfus se verhaal (deel 1): ‘Die donker nadat my gesin gesterf het …’
Dissipline en konflikhantering bly deel van enige gesin. Sy glo kinders moet soms self hul verskille uitwerk, maar wanneer dit handuit ruk, word dit rustig bespreek en aan Bybelse beginsels gekoppel. “Soms is dit goed om hulle te los, dat hulle dit self onder mekaar uitsorteer, maar as dit rof raak, praat jy mooi daaroor en ons haal spesifiek uit die Bybel aan,” verduidelik Tina. ’n Traumatiese rooftog by hul huis ’n paar jaar gelede, het haar oortuiging oor gehoorsaamheid en geloof versterk. Die gesin is vasgebind terwyl ’n rower met ’n vuurwapen wag gehou het. Ten spyte van die spanning het die kinders kalm gebly, geluister en saam met haar gebid. Niemand is fisies beseer nie, en sy kyk terug met diepe dankbaarheid: “Ons prys die Here daarvoor.”
Haar lewe is ook deur persoonlike verlies geraak toe haar ma oorlede is. Sy was ’n anker op wie Tina baie staatgemaak het, veral met die tuisskool. Later het haar pa en ’n niggie ook gesterf. Tog ervaar sy dat sulke tye hul geloof verdiep het. “Die Here beproef ons, maar mens hou vas aan sy beloftes wat Hy vir ons gee in sy Woord en saam dra Hy ons daardeur,” sê sy. Ten spyte van uitdagings bly hul huis ’n plek van lewe en geselligheid. In die voortuin is ’n kuierstoep waar familie en vriende gereeld saamkom. Die kinders noem hul vriende sommer die aangenome kinders van die huis. Daar word speletjies gespeel, flieks gekyk en eenvoudig saam tyd geniet. Vir Tina en Francois bly hulle huwelik die fondament van hulle gesin. “Ek dink jou belangrikste verhouding, buiten die een met jou Here, is die een met jou man,” sê sy. Hulle maak doelbewus tyd vir mekaar, al beteken dit ’n oppasser of dat die kinders vir ’n aand by ouma en oupa bly. Sy glo ’n sterk huwelik bring stabiliteit vir die hele gesin.
Wanneer mense besef al die kinders behoort aan een gesin, is reaksies uiteenlopend, van verbasing tot onvanpaste kommentaar. Sy het geleer om ’n dik vel te ontwikkel en dit met humor te hanteer. Soms vra mense op plekke soos wynplase of by hul hek of dit ’n skoolgroep of speelgroep is, en sy aanvaar dit met ’n goeie skeut humor. Vir die Van Deventer-kroos self voel hul groot gesin normaal. “Hulle geniet die geselskap, ondersteuning en die feit dat daar altyd iemand is om mee te praat,” vertel Tina oor die twaalfstuks. En al woon hulle in ’n gewone drieslaapkamerhuis (met bykomende buitekamers) probeer die ouers steeds vir die ouer kinders meer privaatheid gee, terwyl hulle almal leer om te deel en aanpasbaar te wees.
As sy terugkyk oor die jare sedert sy op 21 hierdie pad begin stap het, sien Tina hoe baie sy self verander het. “Om geduldig te wees, om van jouself te gee, diensbaar te wees, om jou eie lewe neer te lê vir jou kinders,” reflekteer sy. Vir haar is dít ’n praktiese uitleef van geloof. “Elke keer, met die Here se genade, kon ons die kinders nog by Hom hou en kan hulle behoue bly vir sy koninkryk. Kinders is werklik ’n seën van die Here, wat ons graag eendag vir Hom sal teruggee.”
- Tina van Deventer se merkwaardige storie is ’n uittreksel uit Die hart van ’n ma – Essays uit die podsending ’n Ma & ’n Mikrofoon (Naledi) en kan hier bestel word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















