Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

’n Oordosis pille, ondervoeding en ernstige hiperaktiwiteit – ma getuig oor God se wonderwerke

In hierdie tweede aflewering vertel Talita Swarts van Kaapstad verder watter intense pad sy en haar man Danie met die Here stap nadat albei hul seuns met presies dieselfde psigiatriese toestande gediagnoseer is. “Hy weet waar ek vandaan kom en wat vir ons wag. Hy is getrou, en Hy hoor ons gebede,” sê sy.

Alles rakende my swangerskap met ons tweede seun, Francois, was moeilik. Weens placenta previa – met die plasenta wat te laag aan die baarmoeder heg en soms bo-oor die baarmoedernek lê – was ek die laaste trimester van my swangerskap aan my bed gekluister.

Kort voor Francois se geboorte is ons oudste, Adriaan, gehospitaliseer weens onophoudelike diarree en ’n derm-obstruksie. Ek moes by hom in die hospitaal bly en snags op ’n hospitaalstoel slaap. Toe het die dokter vasgestel Adriaan het bordkryt geëet. Ons kon dit tuis verder behandel.

Ek was pas tuis toe my water breek. Ná ’n vinnige terugrit hospitaal toe het ons vasgestel dat my ginekoloog uitstedig was. Die aflosdokter het getwyfel waar presies om te sny, en boonop was die hospitaal se bloedbank feitlik leeg.

Toe Francois uiteindelik in my arms lê, was Adriaan (toe vyf) se eerste woorde: “Hy is so cute!”

LEES DEEL 1: ’n Sterwende baba, ’n vrees vir kos en erge AGHS* – ’n ma getuig oor wonderwerke by haar oudste

Kort daarna het Francois al die GERD-simptome getoon wat ons reeds by Adriaan leer ken het, en daarom kon ons dit dié keer beter hanteer as destyds.

Francois is, soos sy ouer broer, op vier met outismespektrum-versteuring gediagnoseer, asook aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom, sensoriese integrasie-afwykings en angsversteurings.

Daar het ons toe twee seuns met identiese diagnoses …

Ons het net-net oorleef, terwyl derduisende rande na toetse, terapie en medikasie gevloei het.

Francois kon doodgewoon nie stil sit nie. Hy het ál om die sitkamerbank gehardloop terwyl hy TV kyk. Hy kon niks behoorlik eet en nie ordentlik leer nie, want hy kon nie stil sit nie. Saans het hy net tot bedaring gekom nadat ons hom soos ’n worsie in sy beddegoed toegerol het. Een aand het hy ’n handvol van my hare uit my kop gepluk terwyl hy baklei het om tog nie so toegerol te word nie.

Toe sy medikasie ernstige newe-effekte meegebring het, was mediese CBD-olie ons enigste uitweg. Uiteindelik! Toe kon hy 30 minute lank stil sit, en dit het ’n rustigheid in ons huis gebring wat nie voorheen daar was nie.

Ons vriende het hardop gewonder of die CBD-olie regtig nodig is, en ek het dit die volgende dag gestaak. Daardie dag het Francois ure lank gesê: “Veni vidi vici” (Julius Caeser se “I came, I saw, I conquered”). Hy het so kwaad geword omdat ek nie sy Latyn verstaan het nie dat hy sy kop teen die tafel gekap het. Toe ek probeer keer, het ek met ’n gebreekte neus bly sit.

’n Oordosis pille

Tydens 2020 se streng Covid-19-inperkings het ons op ’n keer by my ouers in Ventersdorp gekuier. Net nadat ons terug was by die huis, het Francois ’n houer met 100 slaappille gegryp en alles in sy mond geprop. Ek was te laat om te keer en het besef dat daar nie tyd was om ’n ambulans te bel nie. Danie het hom gegryp en na die naaste ongevalle-afdeling gejaag.

Op pad hospitaal toe het Francois sy bewussyn verloor.

Te midde van ’n ses uur lange resussitasie het Danie gebel en gepleit dat ons moet bid. Net toe het ’n mamma uit Adriaan se speelskooldae gebel en gevra waarvoor sy vir ons kan bid. Daarop het ons twee saam gebid, sommer so oor die foon.

Iemand het my hospitaal toe geneem.

Daar het ek vasgestel dat die personeel toe steeds na ’n hoësorgsaal vir Francois gesoek het; daar was te veel Covid-19-pasiënte wat so ’n saal nodig gehad het. Uiteindelik, in Netcare Blaauwberg se tydelik-ingerigte hoësorgsaal, kon ek die pediater vra wanneer Francois sal wakker word.

Die dokter se reaksie?

As hy wakker word …”

Die dokter was daarvan oortuig dat Francois hoogstens vier slaappille ingekry het, anders sou hy vir seker gesterf het. By die huis het ons huishulp vertel dat sy slegs sewe pille op die vloer gevind het.

Kon Francois 93 slaappille gesluk het?

In die middel van daardie nag het Francois my wakker gemaak met ’n reusekabaal: Hy wou marshmallows hê!

Toe die dokter ons die volgende oggend besoek, mét ’n klompie marshmallows vir Francois, is hy ontslaan; Francois was honderd persent reg. 

Wat ’n wonderwerk! Sy hart het nie gaan staan nie; hy het uit die koma ontwaak; daar was geen breinskade nie. Alle eer aan God!

Die probleem-eter

Toe Francois met verloop van tyd as ’n problematiese eter gediagnoseer is, het dit ure se terapie gekos om dié probleem te beredder. Hy wou slegs sekere soorte kos eet, en ook net spesifieke kos-reekse.

Toe sy voedsel-inname in 2024 verder verswak en hy ná elke happie van maagpyn begin huil het, het talle nuwe toetse (en emmers vol trane) tot ’n diagnose van ’n chroniese immuunsiekte gelei: Witbloedselle bou in die slukderm op en veroorsaak pynlike inflammasie.

Hiervoor moes Francois ’n spesiale dieet volg. Ek moes baie navorsing doen, ter wille van ’n spyskaart sonder melkprodukte, meel, eiers en soja.

Die derde wonderwerk

Vroeg in 2025 het Francois steeds ná ’n enkele happie kos gekrul van die pyn. In die middel van 2025 het hy heeltemal opgehou eet.

Die gastro-enteroloog was baie bekommerd: Francois was besig om van honger dood te gaan. Snags huil ek, en bid: “Ag, Here, hoe kan my kind van honger sterf in ’n huis wat vol heerlike kos is?

Een nag in Augustus het die Heilige Gees my wakker gemaak met die opdrag om vir Francois te bid. Nie my gewone gebed om genesing nie; Hy het my gedring om te bid dat, as dit sy wil is, Francois gesond sal word. Dit was die moeilikste gebed denkbaar: As my kind sou sterf, moes ek dit so aanvaar.

Maar ek het gebid soos Hy my aangesê het en ek het besef: Ek maak nou honderd persent staat op sy liefdevolle genade.

Die volgende oggend het Francois viér skons geëet!

Deesdae eet hy weer eiers, meel, melk- en sojaprodukte en kla nooit meer oor maagpyn nie. God het ons kind volkome genees. Ek moes daardie Septembermaand twee keer vir hom groter klere koop, en in November weer.

Volkome oorgawe

Ek dink gereeld aan wat oorgawe regtig beteken. Ek en Danie loop ’n intense ouerskap-pad en daar is baie uitdagings. Maar elke dag sien ons hoe ons seuns, elk met ’n unieke persoonlikheid, groei en ontwikkel. Francois, die mededeelsame kind, is besonder goed met wiskunde, wetenskap en ontwerp; Adriaan is ’n ware kunstenaar en ’n omgee-mens.

Ek is steeds aan die leer hoe om my vooropgestelde idees oor my lewe en hulle lewe aan die Here oor te gee. Net Hy weet wat vir ons voorlê. Hy is getrou aan sy Woord en aan sy beloftes. En Hy verhoor vir seker ons gebede. 

Ek en Danie koester soveel tekste, onder meer Miga 7:7: “Ek, daarenteen, sien met verwagting uit na wat die Here gaan doen. Ek wag in vertroue dat God my moet red. God sal my vir seker verhoor!”

Ook Efesiërs 3:20 beteken vir ons baie: “Hy moet geprys word; Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.”

*Talita is ’n kunslektor. Sy doen navorsing oor kunswerke en bied kunstoere aan. Danie is ‘n konstruksie-projekbestuurder in Kaapstad. Hulle het onlangs ’n derde seun, Siya, aangeneem. Hy is twee jaar oud en bring baie genesing op Danie en Talita se ouerskaproete.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF