Met Moedersdag wat wink, vier LiG vandag die kosbare, uitdagende en buitengewone rol wat ’n ma in haar kinders se lewe speel. Sommige ma’s, juis ook dié wat hul getuienis met LiG gedeel het, se storie slaan jou stom.
Daar is die ma wat 16 jaar lank haar werk as karwag gedoen het ten einde vir haar drie kinders te sorg; die ma wie se gestremde dogtertjie ’n hele bediening aan ander gestremde kinders nagelaat het (hooffoto); en die ma wat reeds 53 jaar lank haar drie verstandelik gestremde kinders versorg.
Dawn van Heerden van Kimberley dink terug aan die dag toe sy uit ’n huwelik gestap het waarin sy en haar kinders mishandel is.“Ek het met my klere in ’n inkopiesak daar uitgestap. Ek het niks gehad nie en moes van voor af begin.”

Sy het besef dat sy voortaan die broodwinner vir haar en die drie kinders sou wees. Die enigste werk wat sy kon kry, was dié van ’n karwag.
“Winter was vir my die ergste,” onthou sy. “Kimberley se koue sny deur murg en been.” Die somermaande was wel nie veel beter nie. Daardie deel van die Noord-Kaap is immers bekend vir sy uiterste temperature.
Dawn vertel dat haar lippe een keer so verbrand het dat sy gesukkel het om te eet. Maar ten spyte van alles het sy geniet wat sy doen. Veral die interaksie met die Kimberley-mense was vir haar kosbaar. “Ek onthou hoe ’n tannie, vir wie ek gereeld oor die weg gehelp het, op ’n dag ’n koevertjie met R500 in my hand gestop het. Barmhartigheid soos dié het my kinders se skoolgeld betaal.”
Sy het liggaamlik en emosioneel swaargekry, maar deurgebyt en Kimberley se wind en weer getrotseer, 16 jaar lank.
Uiteindelik het al drie Dawn se kinders matriek geslaag. En haar harde werk het vrugte gedra: Sy het in ’n #liggetuienis vertel hoe die winkeleienaar haar werk raakgesien het, sodat sy vandag die bestuurder by drie winkelsentrums is.

Huipie van Wyk van Windhoek se dogtertjie Elandri is met ’n seldsame soort gestremdheid gebore: Haar klein lyfie was feitlik deurentyd in ’n spasma, ’n toestand wat slegs een uit elke 100 000 kinders tref.
Elandri was die eerste drie jaar van haar lewe feitlik deurentyd in die hospitaal, met haar ma langs haar bed. In 2015 het Huipie saam met Sandra Hollweg van die organisasie Side by Side begin werk sodat sy kon leer hoe om te sorg dat Elandri ’n gehaltelewe lei.
Sy vertel: “Namibië het destyds nie oor sulke rehabilitasiesentrums beskik nie. En ek het as ’t ware oornag van ’n boekhouer na ’n gesondheidwerker verander. Ek het letterlik onder begin – plat op die grond in ’n klein plakkershut in ’n baie arm buurt in Windhoek. Maar hier is ek geleer hoe om Elandri lief te hê, net soos sy is.”
Hoewel die dokters gereken het dat Elandri slegs ’n jaar oud sou word, was sy nege toe sy op 5 Oktober 2022 oorlede is.
Kort ná haar dogtertjie se dood het Huipie aan LiG vertel: “Elandri was nooit ’n las nie. Dit was nie moeite om alles rondom haar behoeftes te beplan nie. Sy het saam gaan kamp en visvang. Sy was langs die hokkieveld en in die gimnastieksaal saam met haar sussies, langs die rolbalbaan saam met haar mamma en pappa. In die tuin saam met haar ouma, en op die plaas saam met haar oupa tussen die bokke. Ons mis haar, ons mis alles aan haar.”
Huipie is steeds by Side by Side betrokke. Dié sentrum is Elandri se nalatenskap. “Ek weet nie wat van die gestremde kinders in Namibië sou geword het sonder dié sentrum nie. Hulle verdien om raakgesien te word. Hulle verdien om gehoor te word. My kind het aan my ’n doel in die lewe gegee. Sy was my inspirasie.”
Isabella Bezuidenhout het heel onlangs haar storie in ’n #liggetuienis vertel en onder meer gesê:“My drie kinders het die intellektuele vermoë van ’n vierjarige. Alles moet vir hulle gedoen word. Hulle beskik oor geen besluitnemingsvermoë nie en moet voltyds onder toesig wees, selfs wanneer hulle eenvoudige takies uitvoer.”

Isabella en haar man Gerrie het ’n bitter moeilike pad gestap. Hulle het verwerping beleef en moes die afgelope 53 jaar, sedert die geboorte van hul eerste kind, heel dikwels alleen oor die weg kom. Daar was ook erge finansiële uitdagings omdat die onderrig vir gestremde mense baie duur is.Intussen het Isabella kans gesien om ’n seuntjie aan te neem wat nie ’n heenkome gehad het nie.
Uiteindelik het Isabella en Gerrie in 1994 ’n heenkome vir gestremdes in Uitenhage, Oos-Kaap tot stand gebring. Huis Minette bied vandag blyplek vir mense wie se ouderdom wissel tussen 18 en 76 jaar.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















