My oudste seuntjie het die afgelope ruk ’n vreemde nuk as hy aantrek: Hy wil nie hê daar moet iets van sy vel uitsteek nie. Daarom trek hy sy moue tot oor sy hande, en hy knyp die materiaal toe in sy vuiste. Daarby wil hy ’n kappie op sy kop hê, en hy móét kouse en skoene dra.
Ja, sy hele kop moet bedek wees, én sy hande en voete. “Want,” sê hy, “dan is ek soos Spiderman!”
Ek moes toe eers weer gaan loer hoe lyk Spiderman, want ek is nie heeltemal op hoogte van superheld-sake nie. Dit blyk toe my seuntjie is reg: Spiderman is inderdaad van kop tot tone bedek.
Onlangs vra die kind my: “Mamma, hoekom is dit so dat daar niks van Spiderman se vel uitsteek nie?”
Ek antwoord toe dat Spiderman seker nie wil hê die mense moet hom herken nie. Hy is mos eintlik Peter Parker (dis nog iets wat ek moes naslaan). “As mense weet wie hy is, gaan hulle mos weet waar om hom in die hande te kry. En dink net hoe hulle hom gaan lastig val!”
LEES OOK: Om weer die pleister op te plak …
Om van kop tot tone bedek te wees
Peter Parker is ’n doodgewone mens in ’n doodgewone huis met ’n doodgewone werk. Maar wanneer hy sy Spiderman-pakkie aantrek, word hy ’n superheld.
Peter Parker sal nie uitgeken word nie, want sy kleredrag maak hom heel anders as gewoonlik. Én sy optrede. Hy kry bonatuurlike kragte. Hy red lewens, en soms red hy die hele wêreld.
Ek lees onlangs ’n gedeelte in Galasiërs – en toe dink ek aan Peter Parker: “Want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ’n kleed aangetrek” (Gal 3:27). En ek dink aan hoe dit is om Christus soos ’n kleed aan te trek. Om van kop tot tone deur Hom bedek te word. Hy word dan die eerste en die enigste ding wat mense sien wanneer hulle na jou kyk.
Verstommend! Net soos Peter Parker in sy Spiderman-pak verdwyn, is Simone eensklaps wég … en dis slegs Christus wat sigbaar is. Alles wat Simone is, word toegemaak, dit word bedek.
Wanneer ons Christus aantrek, kry ons ook bonatuurlike krag. Dit kom nie uit onsself nie, en dit stel ons in staat om dinge te vermag wat ons nie gedink het moontlik is nie.
‘Ek is tot alles in staat …’
Maar ons vergeet dikwels om Christus aan te trek wanneer ons by die deur uitgaan. Ons gryp sommer die naaste ding wat in die kas hang. Dalk daardie ou baadjie wat ons al jare lank het en wat so gemaklik aan ons sit. Die een vol vlekke en vuil kolle wat ons nie meer raaksien nie.
Ja, hoe maklik is dit om al die ou gewoontes en gebruike voort te sit sonder om twee keer daaroor te dink. Die alternatief is ongemaklik, en dít maak die keuse moeilik. Jy weet wat is reg, maar jy weet ook dit vra opofferings.
Mag die Here ons help om vandag reg te kies. Mag sy Gees ons inspireer om na die bonatuurlike krag te streef wat die bekleding met Christus ons gee. Dalk kan ons vandag, op die een of ander manier, daarmee ’n lewe red.
Paulus het immers ook gesê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil 4:13).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.