As jy tien jaar gelede vir Izette Dreyer sou sê dat sy vandag haar eie velsorgreeks gaan bemark, sou sy dit nie kon glo nie. Maar dié vasberade sakevrou het dit reggekry, en in die proses etlike uitdagings oorkom.
Tien jaar gelede het Izette Dreyer begin om granaatolie te vervaardig. Sy wou haar wynmaker-pa Sakkie Kotzé, wat velkanker gehad het, se droë vel daarmee behandel.
In daardie stadium het niemand in Suid-Afrika dié olie vervaardig nie. “Ek het baie navorsing gedoen,” vertel Izette, “en onder meer uitgevind dat granaatolie my pa inderdaad sou help met die droë kolle wat ná chemoterapie en bestraling op sy vel was. Sy vel het ál dunner geword en die kolle het soos erge sonbrand gelyk.
“Ongelukkig is my pa oorlede voordat hy dit kon gebruik.”
Izette het egter voortgegaan met die werk wat sy begin het. Gewapen met ’n sonhoed en ’n hark het sy elke dag, twee maande lank, van die Paarl na Wolseley gery. Daarvoor moes sy die kronkelende Bainskloofpas aandurf. In Wolseley het sy derduisende granaatpitte self oopgegooi en omgehark sodat dit behoorlik kon droog word.
Uiteindelik kon sy die pitte pars om die olie daaruit te kry en só haar droom verwesenlik.
LEES OOK: Pannekoekbesigheid nie ’n ‘aardse sukses,’ vertel ma wat operasie befonds
Sy het dié moeisame proses ’n hele paar jaar lank volgehou. “Ek het besef hoe stresvol dit is om ’n boer te wees,” vertel sy vandag. “Want as daar iewers iets skeefloop, moet jy tot volgende jaar se oes wag …”
Swaarkry, uithouvermoë, hoop
Izette se onderneming staan vandag in die Paarlse hoofstraat. ’n Ou, spierwit gebou huisves Royale Afrique du Sud, met ’n stukkie Paarlberg wat agter uitloer. Dié uitsig herinner haar daagliks aan die berge wat sy moes baasraak om te kom waar sy nou is.
Izette sê: “Soos Paulus ons in Romeine 5 leer, het ook ek dit oor die afgelope klompie jare ondervind: Swaarkry kweek uithouvermoë, en uithouvermoë kweek karakter. En dit is dít wat uiteindelik hoop in jou hart laat groei.”
Izette vervaardig nie meer self die granaatolie nie; dis vir haar makliker om dit nou vanaf Israel in te voer.
Sy is wel besig om ’n nuwe droom na te jaag, ’n jare lange een om ’n velsorgreeks te vervaardig. Al haar drome staan vandag letterlik voor jou uitgepak as jy by Royale Afrique du Sud se deur inkom: koningsblou glasbotteltjies met ’n goue afwerking wat haar kosbare granaatolie bevat; ander natuurlike produkte soos ’n masker waarby granaatskil-poeier gevoeg word; en, in ’n roomkleurige verpakking, ’n verfrisser met granaatskil-ekstrak daarby gevoeg.
‘God se saak’
Wanneer sy op die afgelope tien jaar terugkyk, sien Izette veral twee hoogtepunte raak: “Hoewel ek te laat was om my pa te help, kon ek wel talle vroue met ’n probleemvel help nadat hulle chemoterapie en bestraling moes ondergaan. Hulle kom dan terug na my toe en vertel hoe die produkte hulle gehelp en uiteindelik genees het. Dit gee my die krag om vol te hou.
“Ek is ook baie trots op die toekennings wat ons vir ons produkte ontvang het. In 2024 en 2025 het ons Women & Home Beauty-toekennings gekry, onderskeidelik vir die beste velbevogtiger en vir die beste kleimasker. Dis héérlik om bevestiging te kry dat die produkte werk!”
Dié ma van drie vertel dat Royale Afrique du Sud uit die staanspoor “God se saak” was. “Ek is daarvan oortuig dat Hy die droom om ’n velsorgreeks te begin om ’n rede in my hart geplaas het. Ek het baie jare lank gebid vir ’n lewensdoel.”
Sy is daarvan oortuig dat jy nie jou verhouding met God kan skei van jou lewe as sakevrou nie. Sy sê sy leef met Spreuke 3:5-6 as lewensmotto: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
“Ek sien God se hand in alles wat ek gedoen en bereik het. Ek stap elke dag saam met Hom en ek praat met Hom oor alles, ook oor die groot uitdagings op my pad. Ek dank Hom vir al die wonderwerke wat Hy in my lewe gedoen het.
“Wanneer ek troos of bemoediging nodig gehad het, het Hy dit vir my gestuur. Kyk dan net dié perseel, en die mense wat hier werk!”
Nog ’n droom
Izette stel twee susters, Lucy en Busi Ngada, aan my voor. Dié twee vroue plaas die voltooide produkte in die aangewese bottels en bring die etikette daarop aan. Lucy is ook die verkoopdame én sy verrig administratiewe take.
Izette vertel hoe sy deur een van haar vriendinne van die twee sussies te hore gekom het. Sy sê God het hulle oor haar pad gestuur.
Sy koester tans nóg ’n droom: “Ek is opgewonde oor wat God vir die toekoms beplan. Ek wil graag ’n bediening vir vroue by hierdie plek begin. Dit moet ’n ruimte wees waar vroue kan rus, waar hulle genesing kan vind en bedien kan word. Ek reken ons is reeds op pad daarheen …”
Izette se wenke vir ’n suksesvolle sakeonderneming
- Bly na aan die Here. As jy alleen voel, praat met Hom. Stort jou hart uit by Hom. Hy is jou beste vriend, Hy sal nooit jou hand los nie.
- Die Here het met ’n rede jou droom in jou hart geplaas.
- Kommunikeer gereeld met ander sake-eienaars en entrepreneurs.
- Moenie jare en jare aan beplanning afstaan nie. Jou planne hoef nie perfek te wees nie; om te begin is die belangrikste. Mettertyd groei daar ’n sakemodel uit al jou harde werk.
- Weet dat uithou en aanhou jou voorland is.
- Moenie die uitdagings wegwens nie; beskou dit as ’n leerskool.
- Moet nooit hoop verloor nie.
- As jy glo in die produk, en jou produk is werklik goed, sál jy bo uitkom.
- Moenie jou ooit met iemand anders vergelyk nie; jy is ’n unieke mens.
Besoek www.royalesa.com vir Izette se produkte en vir verdere inligting.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















