Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Pannekoekbesigheid nie ’n ‘aardse sukses,’ vertel ma wat operasie befonds

“Ons grootste verwagtings is oortref!”

Só vertel ’n dankbare Sarisha du Plessis uit Amerika nadat haar driejarige seun Markus se spierspasmas tydens ’n operasie verwyder is.

Ná maande se wag, is Markus uiteindelik op 24 Junie 2022 deur dr TS Park by die Center for Cerebral Palsy Spasticity by die St Louis-kinderhospitaal in St Louis, Missouri in die VSA geopereer. Foto verskaf

‘Soos ’n dolk in ons hart’

Sarisha vertel sy het reeds agt maande ná haar seun se geboorte vermoed dat iets drasties verkeerd is. Markus kon nog nie sit nie, en hy het oor die vloer geseil of homself vorentoe gesleep as hy iets in die hande wou kry.

LEES OOK: ‘My moeilikste keuse: ’n operasie met slegs ’n 50%-kans op oorlewing’

“Ek het net aangevoel daar is fout,” sê dié ma. En kort daarna is Markus met serebrale verlamming gediagnoseer. Hy was maar 14 maande oud.

“Ons was baie hartseer. Ons moes ons drome vir hom aanpas. En toe die dokters boonop sê hy sal dalk nooit kan loop nie, was dit soos ’n dolk in ons hart.”

Die siekte het verlamming tot gevolg, asook spierspasmas en soms ongewenste bewegings. Sarisha sê die spasmas het hom snags wakker gemaak, en sy bene het sonder ophou gepyn.

Geborg
Links is Sarisha du Plessis, die ma met ‘n pannekoek-plan wat almal se verwagtinge oortref het. Hier is die Du Plessis-gesin in St Louis, Missouri net voor Markus sy operasie gekry het. Foto: Facebook

Wat doen ouers as hulle so ’n diagnose moet aanhoor?

Een van die eerste dinge wat Sarisha gedoen het, was om by ’n ondersteuningsgroep op Facebook aan te sluit. Dié groep is uitsluitlik vir ouers met kinders wat aan serebrale verlamming ly.

Sarisha vertel: “’n Ma het op dié Facebookblad geskryf dat haar dogtertjie onlangs ‘selective dorsal rhizotomy (SDR)’ ondergaan het, en sy het haar ervaring met die groep gedeel. Ek het haar gekontak en só by die betrokke spesialiste in Amerika uitgekom.

Maar dié behandeling, het sy vasgestel, sou derduisende kos. “Ek het regtig nie geweet hoe ons die geld in die hande sou kry nie. Dit het ’n baie sensitiewe onderwerp in ons huis geword …”

’n Pannekoek-plan

Maar as jy met die onmoontlike gekonfronteer word, maak jy planne.

“Ek het sóveel idees gehad – maar gereeld na pannekoek teruggekom. My ma het haar staatmakerresep vir my gegee. Maar, waarsku sy my toe, die pannekoek is nie meer lekker as jy dit ’n dag laat oorstaan nie. En dis waar ek die plan gekry het om die deeg in ’n bottel te verkoop, sodat die kopers dit kan bak op ’n tyd wat hulle pas. Daardie einste middag het ek twintig leë bottels gaan koop en plakkers laat maak.”

Geborg

LEES OOK: ‘Ek was ma-alleen, met drie kinders en sonder ’n inkomste – maar God het voorsien’

Só is Shake & Bake gebore. Dié pannekoek-insamelingsprojek het Suid-Afrikaners se hartsnare geroer.

Die mikpunt was R1,5 miljoen. Sarisha vertel: “My man was aanvanklik effens skepties. Maar toe Ryno sien hoe die projek vlam vat, het hy snags saam met my opgestaan om deeg aan te maak. Ek het wel glad nie verwag dat dit so groot sou word nie.”

Volgens dr Park doen Markus uitstekend na die operasie. “Daar is soveel positiewe veranderinge in sy lyfie wat besig is om te gebeur! Hy kwyl nie meer nie, hy slaap deur, sy bene lyk so so mooi as ons met hom loop. Hy is vry van pyn,” vertel Sarisha. Foto: Facebook

Sarisha sê sy het eintlik bloot gehoop dat hul vriende en familie die projek sou ondersteun. “Maar toe ons weer sien, verkoop ons 600 bottels per dag. Ek sê altyd, as iemand my vra, dat hierdie produk nie ’n ‘aardse’ sukses is nie. Slegs ’n groter Hand kon sorg dat pannekoekdeeg só verkoop.”

Groot, positiewe veranderings

Ná maande se wag, is Markus uiteindelik op 24 Junie 2022 deur dr TS Park by die Center for Cerebral Palsy Spasticity by die St Louis-kinderhospitaal in St Louis, Missouri in die VSA geopereer. Die spesifieke behandelingsmetode, SDR, help kinders met serebrale verlamming om meer beweeglik te word.

Sarisha vertel hoe daar die oggend van die operasie soveel dinge deur haar kop gegaan het. Sy het ook besef dat sy, ter wille van haar kind, positief moes bly. “Ek was baie senuweeagtig toe ons op pad was hospitaal toe. Maar toe ons eers daar aankom, het ’n rustigheid oor my gespoel.”

Geborg

Sy kan nie uitgepraat raak oor die mediese personeel nie: “Hulle was niks minder nie as wonderlik! Die hele proses is stap vir stap aan ons verduidelik. Dr Park was deurentyd persoonlik met ons in verbinding. Dit het vir seker tot ons latere rustigheid bygedra.”

Sarisha vertel dat sy baie navorsing gedoen het oor die gevolge van dié soort operasie. “Ek het byvoorbeeld geweet dit gaan groot, positiewe veranderings meebring, maar ek het nie besef ons sal dit so vinnig sien nie.”

Daar was inderdaad feitlik onmiddellik verbetering sigbaar. Markus se bene was voor die operasie so styf dat Sarisha dit skaars kon oop kry om sy doek te ruil. Twee dae ná die operasie het hy gemaklik gelê, die bene oop. “Ek was verstom!

“Daar is aan ons gesê dat die dokters tot 70% van die spasmas kan verwyder; ná Markus se operasie het dr Park ons in die wagkamer kom sê dat hy ál die spasmas kon verwyder. Ek moes hom weer daaroor uitvra, omdat ek dit eenvoudig nie kon glo nie.”

‘Ons kon nie vir meer gevra het nie’

Die eerste week ná die operasie het Markus steeds baie pyn verduur. Maar deesdae gaan dit baie goed met hom. Sarisha sê verlig: “Markus speel en lag weer saam met sy sussie Mila soos voor die operasie. En ons sien baie daarna uit om huis toe te kom. Daar is werklik nie ’n beter land in hierdie wêreld as Suid-Afrika nie. Ons mis ons mense, en ons mis die bekende.”

Die Du Plessis-gesin is opgewonde oor die onmiddellike vooruitsigte. “Die fisioterapeute tuis wag reeds vir Markus.” Die eerste Maandag nadat hulle terug is, begin die eerste terapiesessie.

Daar lê ’n lang pad voor, en minstens vyf keer per week se terapie. Asook een keer per week se swem om sy spiere te versterk.

Volgens Sarisha het die dokters dit baie mooi verduidelik. “Hulle het gesê: ‘Voor die operasie was Markus se spiere soos rou spaghetti; ná die operasie is dit so sag soos gaar spaghetti. En die terapie is die sous wat alles weer gaan bind.’”

Markus se balans het reeds verbeter, en Sarisha hoop dat hy eendag self sal kan loop. “Ons het regtig nuwe hoop vir sy toekoms. En die verwagting dat hy sonder pyn sal wees. Ons kon nie vir meer gevra het nie.”

* Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.