Toe Patrick Botto ná ’n motorongeluk besef dat hy ʼn kwadrupleeg is, het hy lank net na die plafon gelê en staar. Hy was 23 jaar oud. Maar God, ’n vars uitkyk op sy omstandighede asook ’n nuwe passie in die lewe het hom, spreekwoordelik, weer laat opstaan.
Patrick Botto (nou 55) is in Grabouw gebore. Sy verhaal is een van terugslae en teleurstellings, maar dis ook vol inspirasie. Hier is sprake van durf, deursettingsvermoë en, uiteindelik, triomf.
Ongeluksvoël
Patrick sê dat hy van jongs af ʼn regte ongeluksvoël was. “Maar ek is ook soos ʼn kat met nege lewens,” skerts hy.
Hy was skaars ses maande oud toe hy ʼn huisbrand oorleef het. Hy vertel: “My ma, ʼn verpleegster, het bedags gewerk en my ouma het my opgepas. ʼn Kers het omgeval en ek was alleen in die huis. Gelukkig is ek gered; ek het slegs brandwonde aan my gesig opgedoen.”
Hy is ook klein-klein deur ʼn swerm bye aangeval, en het wonderbaarlik oorleef.
Hy was nege jaar oud toe hy saam met sy gesin Kaapstad toe verhuis het. Hy was ʼn woelige en avontuurlustige kind. “Ek het gedans en ek het rugby en krieket gespeel. Ek was ʼn mens-mens en het baie daarvan gehou om te sosialiseer, om lekker te kuier. Ek kon nooit net stilsit en niks doen nie. Ek het nie akademies uitgeblink nie, ek was maar ʼn gemiddelde leerling.”
Ná skool het hy aansoek gedoen om by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te sluit. Terselfdertyd het hy by die lugmag aansoek gedoen. “Die lugmag het my in kennis gestel dat my opleiding eers drie maande ná my aanvaarding sou begin. Daarenteen kon ek dadelik by die SAPD aanmeld.
“In Januarie 1991 het my opleiding by die polisiekantoor in Mitchell’s Plein op die Kaapse Vlakte afgeskop. Dit het ses maande geduur. In Junie is ek na die opleidingsentrum in Bishop Lavis oorgeplaas vir verdere opleiding.”
As jong polisieman het hy op ʼn dag ternouernood aan die dood ontkom toe hy en ʼn paar kollegas dokumente in Philippi en Nyanga moes gaan aflewer. Hul polisiemotor is met AK 47’s aangeval en een van die skote het Patrick in die boud getref.
LEES OOK: Verlamde Secunda-vrou: ‘Die Here het my nóg ’n kans gegee’
Hy vertel: “Ek het aanvanklik nie besef ek is raakgeskiet nie. Dit was baie traumaties, maar ons adjudant het gelukkig kalm gebly en ons kon vinnig uit die gevaarsone wegkom.”
Een reënerige aand, ná ʼn jaareindfunksie …
Ná die skietvoorval is Patrick Pretoria toe waar hy as vingerafdrukdeskundige opgelei is. Ten spyte van die skietwond kon hy steeds aan verskeie sportsoorte deelneem. Hy het selfs ʼn Ystermankompetisie gewen.
Maar op 12 November 1993 het sy lewe onherroeplik verander. Hy vertel: “Ek en ʼn paar van die manne is na ʼn jaareindfunksie in Verwoerdburg genooi. Ons het gebraai. Ná ʼn ruk wou ek huis toe gaan; ek het gesien die partytjie raak te rof na my smaak. Ek het ʼn geleentheid saam met ʼn klompie ouens gekry. Ons was sewe manne in ʼn klein Mazda 323.
“Dit het gereën, daar was plekke waar daar aan die pad gewerk is. Die bestuurder van die Mazda 323 het baie vinnig gery. Die laaste wat ek van daardie rit onthou, is dat ek vir hom geskreeu het om nie so vinnig te ry nie.
“Toe kom die botsing. Ek het uit die motor geval.”
Een van sy mede-passasiers het gesterf. Patrick is in die Eugene Marais-hospitaal opgeneem en was daarna drie weke lank in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria voordat hy na die Conradie-hospitaal se spinale eenheid in Pinelands, Kaapstad, oorgeplaas is. Daar het hy ʼn verdere agt maande deurgebring.
Die slegte nuus was dat Patrick se C4- en C5-nekwerwels gebreek was. Hy was dus ʼn kwadrupleeg. Hy was maar 23 jaar oud. Dit het vir hom gevoel asof sy hele lewe in duie gestort het.
ʼn Pikdonker wêreld
“Ek was uiters depressief. In die eerste drie jaar ná die ongeluk was my wêreld pikdonker. Ek kon nie eens my arms oplig nie. Ek het gevoel dat ek ʼn las is, en ʼn probleem vir almal om my. Ek het die hele dag deur net na die plafon gelê en staar.”
Hy was in daardie stadium (dit was in 2001) ʼn pasiënt in die Andries Olivier-kwadrupleegsentrum in Durbanville. Maar voordat hy daar opgeneem is, het hy sewe jaar lank by sy ma in Parow-Vallei gewoon. Daar het sy hom versorg.
“Ek het baie vrae vir die Here gevra. Ek het ook baie motiveringsvideo’s gekyk, onder meer van dr Myles Munroe, ʼn prediker en motiveringspreker.
“Myles Munroe se video’s The Recovery of the Mind motiveer jou onder meer om geestelike dissipline te handhaaf. En om ʼn transformasie te ondergaan deur toe te laat dat jou denke vernuwe word.”

Met verloop van tyd het Patrick se verhouding met die Here hegter geword. “Ek het geleer ek moenie fokus op die dinge wat ek nié kan doen nie, maar wel op die dinge wat ek steeds kan regkry.
“Ek het ook besef dat daar ʼn doel met my lewe moet wees, anders sou ek nie meer hier gewees het nie. En ek het geweet dat ek my op daardie doel moet toespits.”
Daarop het Patrick besluit om elke moontlike geleentheid wat na sy kant toe kom, aan te gryp. Hy vertel: “Iewers in 1998 het ek gehoor van gratis skilderlesse vir kwadrupleë en parapleë by die kunssentrum in Belville se biblioteek. Ek het gegaan, en daar het Martie Westraadt my geleer hoe om met my mond te skilder. Sy het my onder meer geleer om skadu’s, lig en donker in my skilderye aan te bring. Martie is ʼn baie geduldige mens, wat die vermoë het om slegs die beste uit haar leerlinge te haal.”
ʼn Nuwe passie
Aanvanklik was die skilderlesse slegs ʼn lekker tydverdryf. Gaandeweg het dit in ʼn werklike passie ontwikkel.
Martie Westraadt vertel hoe Patrick se skildervermoë met rasse skrede ontwikkel het. “Ná 20 jaar is dit steeds ʼn vreugde om vir hom les te gee, en om die vrugte op my arbeid te sien.”

Patrick is op 1 Maart 2000 as student by die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders aanvaar, en sy kuns het sedertdien vir ʼn inkomste gesorg. Hy skilder veral blomme, landskappe, diere en motors, en hy verkies om met olieverf te werk.
Hy vertel: “Ek skilder enigiets onder die son – behalwe portrette.” Hy lag: “ ʼn Mens wie se portret jy skilder sal maklik vir jou sê: ‘Nee, my neus lyk nie so nie!’ Maar ʼn dier kan nie.”
Deesdae word van sy skilderye by SCAVA (South Cape Association for Visual Arts) uitgestal. Hy lewer ook demonstrasies van sy tipiese werkwyse.
‘Jy weet nooit wat jy het nie, totdat …’
Patrick lees elke dag uit sy Bybel. Hy sê: “My verhouding met die Here is die belangrikste ding in my lewe. God se liefde en genade, en die feit dat ek goed weet wat Hy deur die jare vir my gedoen het, dra my deur elke dag.”
Net soos enige ander mens het hy bepaalde behoeftes en begeertes. “Ek wil ook liefhê,” sê hy, “ek wil ook ʼn huis en ʼn werk hê. En ek wil ook die lewe geniet. Want al is ek verlam, al slaap my liggaam, is my gees wakker.”
Vandag lewer Patrick motiveringspraatjies by skole, aftreeoorde en kerke. “Dis my manier om iets aan die gemeenskap terug te gee. Ek praat onder meer oor hoe ek nooit geweet het wat ek in die lewe het nie, totdat ek dit verloor het.”
Tien jaar gelede het Patrick sy lewensmaat ontmoet, Jodene Williams, ʼn verpleegster wat hom in Huis Andries Olivier verpleeg het. Hulle het ʼn agtjarige seuntjie, Rayden. Die gesinnetjie woon tans op George.
Patrick help Rayden met sy huiswerk. En vir ontspanning speel pa en seun graag veerpyltjies. Jodene en Patrick beplan om op 4 Julie 2026 ewig trou aan mekaar te beloof.
Patrick se lewensfilosofie is eenvoudig: “ʼn Mens weet nie wat môre inhou nie, en daarom moet jy die beste van vandag maak. Jy kan niks doen aan die besluite wat jy gister geneem het nie. Jy kan nie jou verlede verander nie. Maar die besluite wat jy vandag neem, kan wel ʼn invloed op jou toekoms hê. Vertrou altyd op die Here. Hy is die kompas wat jou op die regte plek sal bring.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















