Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Verlamde Secunda-vrou: ‘Die Here het my nóg ’n kans gegee’

‘Ek weier om my omstandighede te aanvaar. Ek droom altyd ek loop, en nooit met ’n rolstoel nie! Ek klou vas. Ek sal aanhou glo en vertrou …’

In 2021 het LiG Merenthia Cronje van Secunda se #liggetuienis met lesers gedeel. Sy het die gebruik van haar bene verloor in ’n glykabel- (“zipline”) ongeluk in die Oos-Kaap.

Merenthia werk die afgelope ruk baie hard om haar spiere sterker te kry! Sy glo dat sy weer gaan loop. Foto verskaf

Nie ’n kans om weer te loop nie

Merenthia en haar man Jaco het op 26 Desember 2020 hul drie seuntjies na Tsitsikamma Falls geneem om die glykabels aan te durf omdat die Covid-19-inperkingsmaatreëls die gesin verhoed het om die strand te besoek. Merenthia se seun Janco was aan haar vasgemaak toe een van die kabels haar getref en haar rugsenuwees afgesny het.

LEES OOK: ‘Swaarkry is nie die einde van my storie nie,’ vertel vrou 17 jr ná beroerte

Dit het uiters traumatiese gevolge gehad: Dié ma van drie het haar bewussyn verloor en haar kop het agtertoe gekantel. Ná haar man Jaco se hulpgeroep het een van die werknemers Merenthia en Janco gaan haal en hulle na die platform teruggebring.

Hier het Jaco 15 minute lank gespook om haar by te bring, terwyl hul seuntjies moes toekyk.

Merenthia het dit genadiglik oorleef en sy is na die Plettenbergbaai Mediclinic gehaas. Sy is later na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas, waar sy ’n klompie maande gebly het om aan te sterk.

Uiteindelik kon sy huis toe gaan – in ’n rolstoel. Haar dokter het haar goed laat verstaan dat sy nie ’n kans het om weer te loop nie.

Merenthia by haar vriendinne en kollegas by die werk. Links is Monique Schmahl, Annetjie van Rooyen, Ariné Janse van Rensburg. Foto verskaf

‘Ek kon vir die eerste keer weer staan!’

In Desember vanjaar sal dit drie jaar wees sedert die tragiese ongeluk. Die aanpassing was báie groot, omdat Merenthia nou van ander afhanklik is en, byvoorbeeld, nie meer beheer oor haar blaas of maag het nie.

Dié 35-jarige vrou was voorheen ’n veiligheidskoördineerder by Sasol, maar sy verrig deesdae administratiewe take van die huis af. Haar doelwit is nou om, na die beste van haar vermoë, deur elke dag te kom. En sy klou steeds vas aan haar geloof dat sy eendag weer sal kan loop.

Onlangs laat weet Merenthia per e-pos dat sy ’n goeie stukkie nuus met ons wil deel. Sy skryf: “In 2023 het ek gelees van stamselbehandeling in Suid-Afrika. Ek het daaroor navorsing gedoen en ek kon die organisasie opspoor wat dit moontlik maak. Ek het ’n afspraak gemaak – en ná slegs 15 minute het ek my dosis stamselle ontvang.”

Volgens Merenthia is die doel van die stamselle om te heg in die ruimte waar die senuwees afgesny is.

Maar nou lê die harde werk voor. 

Sy het eers fisioterapie ontvang, wat haar gehelp het om die krag in haar bolyf te verbeter, asook haar asemhaling- en longfunksie. Sy laat weet: “Ek kon vir die eerste keer in amper drie jaar staan – met hulp, natuurlik!”

Merenthia by haar ma en sussie. Foto verskaf

Stamselle en ’n mosterdsaadgeloof

“My spiere is besig om ál sterker te word, tot so ’n mate dat ek my bene kan begin beweeg. Ek het genoeg geld ingesamel vir ‘callipers’, dit is beenstutte wat uit plastiek gemaak is, waarmee ek nou leer loop. Dit ondersteun my knieë sodat ek nie inmekaartuimel nie. 

“Wanneer ek dít baasgeraak het, is my volgende doelwit ‘robotic walking’. Dis ’n baie duur prosedure, maar dis vir my die volgende logiese stap.

“Ek gaan beslis weer loop, al is dit nie ‘normaal’ nie. Al is dit met die ‘callipers’, en ’n loopraam, en krukke …

“Uiteindelik, hopelik, slegs met die ‘callipers’. Maar ek het reeds baie beter vooruitsigte as wat ek pas ná die ongeluk gehad het. Die Here het my ’n kans gegee toe ek die stamselle ontvang het. Hy het my ook by die regte fisioterapeut laat beland, iemand wat hard werk saam met my om my droom ’n werklikheid te maak.”

Hayley O’Grady, Merenthia se fisioterapeut vir die afgelope jaar, sê: “Hoewel die reis besonderse toewyding verg, het Merenthia reeds gewys dat sy oor alles beskik wat haar sal help om haar doel te bereik. Sy het al gróót vordering gemaak, en sy is baie getrou met haar daaglikse oefeninge. Die krag in haar heupe het aansienlik verbeter. En die gebruik van die ‘callipers’ help haar om haar droom om eendag te loop te begin verwesenlik.”

Merenthia vertel sy is baie trots op haar seuntjies wat haar so mooi ondersteun. Van links is Dihan (8), Luhandré (6) en Janco (8). Foto verskaf

Daarom sê Merenthia: “Hoe kan ek dan nié glo nie?

“Ek werk aan my mostertsaad-geloof … Daar kom wel dae wanneer my geloof wankel. Maar ek sal nie moed opgee nie. Ek sal aanhou.

“En ek sal bly getuig, solank as wat ek die Here se asem in my longe het en die voorreg het om my spierbewegings stuk-stuk terug te kry!”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.