Emma van der Walt hou doelbewus haar oë oop vir die lewe se donker kant. Só probeer sy haar deel doen om mensehandel te stuit, plaaslik en internasionaal.
Sy vertel van iets wat haar altyd sal bybly: Die jongste slagoffer nóg wat haar span kon red, was ’n tweejarige dogtertjie wat in ’n bordeel gevind is. Daar is sy gereeld verkrag.
Emma skud haar kop: “Die wreedheid, die boosheid van die mens is vir my moeilik om te begryp. Hoe kan hierdie sekshandelaars hul gewete stil maak? Hoe kan mense so ongevoelig wees dat hulle ’n tweejarige baba verkrag?”
Eerste kennismaking
Emma vertel sy het sowat tien jaar gelede met uitreike in Suid-Afrika se rooiligbuurte, bordele, ontkleeklubs en by straatprostitute begin. “Ná ’n paar maande het ons ’n bordeel opgespoor waar die vroue honger was, en bang. En in ’n baie swak liggaamlike en geestelike toestand.”
Sy sê sy het gou besef dié bordeel is ’n misdaadtoneel. Met seks- en dwelmhandel aan die orde van die dag.
LEES OOK: Prostitusie-bediening: ‘God verander straatvroue se hooplose lewe op wonderbaarlike maniere’
Dit was Emma se eerste kennismaking met mensehandel. Sy het dadelik begin om slagoffers van dié gruweldade te probeer identifiseer. In 2018 het sy as pastoor by haar kerk bedank om haar voltyds te wy aan die bestryding van mensehandel in Suid-Afrika.
Die beskikbare statistiek is skrikwekkend, wêreldwyd én in Suid-Afrika. Slegs een uit elke honderd slagoffers van mensehandel word geïdentifiseer. In ons land bereik baie van die sake nie eens die hof nie. ’n Verslag deur plaaslike en internasionale kenners het uitgewys dat Suid-Afrika bloot nie die vereiste norme en standaarde handhaaf nie.
Emma probeer haar bes om dié ongelukkige stand van sake te beredder. Sy sê: “Dit gaan nie bloot oor mense wat in ’n ander land ontvoer word en na Suid-Afrika gebring word, of andersom nie; dit gaan oor georganiseerde misdaad wat altyd na sulke slagoffers op soek is.
“En Suid-Afrika is ’n gewilde bestemming vir slagoffers, dis ’n deurgangsland. Dis ’n plek waar handelaars slagoffers in die hande kan kry.”
Uiteraard is vroue en kinders die kwesbaarste. Maar, sê Emma, ook mans beland in die handelaars se kloue. Die slagoffers kan ongebore babas wees, tweejariges wat in bordele gebruik word, en bejaarde vroue.
’n Plek in haar hart vir dié wat sy kon red
Emma beskryf in haar onlangse boek Sy is veilig (LAPA Uitgewers) die donker wêreld van mensehandel. Sy vertel: “Ek het die boek geskryf na aanleiding van my persoonlike reis met vroue wat hulle in die prostitusie-bedryf bevind het. Asook dié wat ek uit die kloue van sekshandel kon red.”
Die boek is vol ware verhale van oorlewendes wat daarin geslaag het om uit die kloue van sekshandelaars te ontsnap.
Emma werk saam met die SAPD se gespesialiseerde eenhede, speurders, die metropolisie, maatskaplike werkers en die departement binnelandse sake om seksnetwerke oop te vlek.
Emma vertel van die spesiale plek in haar hart vir elke vrou wat sy die afgelope ses jaar kon help. “Elke verhaal en elke vrou het my lewe verander.”
Sy vertel van een van die vroue, Jessy, wat ’n besonder traumatiese geskiedenis het. Sy is bykans ses jaar lank as seksslaaf in ’n kamer toegesluit. Haar pad na herstel was lank en moeilik en sy het gewelddadige gedrag getoon nadat sy gered is.
“Sommige vroue leer oorlewingsvaardighede aan terwyl hulle só aangehou word, en dis dikwels gewelddadig van aard. Maar dit help hulle om aan die lewe te bly. Dit bly wel moeilik om sulke slagoffers te rehabiliteer sodat hul weer hul plek in die samelewing kan inneem.”
Gruweldade teenoor kinders ontstel haar mateloos. “Pedofilie is boos. Kinders hardloop egter ook weg van die huis weens mishandeling. En dit maak hulle uiters kwesbaar.
“Dikwels word kinders ontvoer, maar ’n meer algemene neiging is die seksuele voorbereiding (‘grooming’) van kinders deur ’n seksuele roofdier wat reeds die kind ken. Dis soms ’n familielid, ’n versorger, ’n winkeleienaar of ’n vriend.
“Hulle sal die kind se vertroue probeer wen ten einde die seksuele versorgingsproses te begin. Tot op die punt waar die kind gemolesteer, verkrag en/of vir finansiële gewin uitgebuit word.
“Armoede en dwelmafhanklikheid kan dien as motivering vir ouers of familielede om dogtertjies vir seks te verkoop.”
‘Die Here se engele loop voor my uit’
Die seksbedryf is die grootste bron vir mensehandel. Kinders word egter ook deur orgaan- en arbeidshandel geraak. Orgaanhandel het meestal ten doel om gesogte organe op die swartmark vir orgaanoorplanting of vir moeti te verkoop.
Emma sê sy is geroep om kinders uit dié monsters se kloue te red. Sy reken die betrokke meisies is die dapperste vroue wat sy nog ooit ontmoet het. En dat ’n mens baie by hulle kan leer. “Hulle kry nie hulleself jammer nie. Hulle staan op, hulle word gesond en veg terug.”
Sy sê sy is nie bang nie. “Ek het nie die luukse om vrees toe te laat nie. Hoe sê ek vir ’n 14-jarige meisie, wat in ’n bordeel aangehou word, ek gaan nie vir haar vryheid veg nie?
“Die Here se engele loop voor my uit. Ek sien daagliks die tekens daarvan. Ek veg nie teen mensehandel omdat ek dink dis noodsaaklik of dis ’n goeie idee nie; ek doen dit omdat God vir my ’n duidelike opdrag gegee het.”
Brave to love
Intussen het Emma ’n nie-winsgewende organisasie op die been gebring, Brave to Love. Hul doelwit is die redding, rehabilitering, die herstel en herintegrering van vroue en kinders wat slagoffers van mensehandel geword het, plaaslik en in ander lande. Hulle fokus op geregtigheid, voorkoming en humanitêre verligting in die stryd teen dié euwel.
“Ons verantwoordelikheid is om te verseker dat kinders, vroue en mans nie die slagoffers van sekshandel word nie. Ons hou voorkomingsveldtogte en probeer die samelewing opvoed om tekens van mensehandel uit te ken, dit aan te meld en te help keer dat kwesbare mense slagoffers word.”
Emma se organisasie werk nou saam met wetstoepassers, die regering en die vervolgingsowerhede om slagoffers van seksslawerny te identifiseer. En om te help met die suksesvolle vervolging van die handelaars.
Brave to Love ondersteun slagoffers deur mediese bystand te bied, en berading en mentorskap. Asook om hulp uit die gemeenskap te koördineer, en deur vaardigheidsontwikkeling en opleiding.
Die nasorgprogram is gefokus op ’n holistiese herstelproses – die hantering van trauma deur om te sien na die slagoffers se liggaamlike, geestelike en emosionele gesondheid. Daar is ook restourasiehuise wat langtermyn moontlikhede hiervoor bied.
Brave to Love se doelwit is om die polisie met opleiding by te staan. Hulle fokus op die versterking van bestaande gespesialiseerde taakspanne. “Ons wil meer plekke van veiligheid tot stand bring vir kinders wat slagoffers van mensehandel geword het.
“Onderwys en vaardigheidsontwikkeling bly ’n groot prioriteit ten einde kwesbaarhede uit te skakel. Ons visie is om God se dogters huis toe te bring. Ons wil sien hoe ons werk uitbrei in Suid-Afrika, in ons buurlande en oral waar God ons voete lei. Ons glo dat geen mens in slawerny gebind moet word nie.”
WENKE VIR OUERS
- Sekshandelaars gebruik sosiale media as ’n platform om kinders in hul web in te trek met die oog daarop om hulle te misbruik. Ouers moet daarop bedag wees.
- TV- en rekenaarspeletjies word deur handelaars gebruik om kinders te werf en hulle voor te berei (“grooming”). Gewetenlose mense gebruik verskillende platforms om die kinders se vertroue te wen en verhoudings te bou.
- Skermtyd moet beperk word. En daar moet ’n “oop” beleid wees ten opsigte van selfone.
- Jong kinders moet op vele vlakke gemonitor word om hulle teen kriminele elemente te beskerm.
- Hou alle kommunikasiekanale oop wat jy met jou kind het.
- Wees beskikbaar vir jou kind.
- Skep skermvrye tye sodat jou kind sonder ’n foon en ander afleidings bloot kan sit en gesels, en kan speel.
- Skep ’n ruimte waar jou kind emosioneel veilig en aanvaar voel. Kinders moenie geïsoleer word nie, omdat kriminele so ’n kind makliker kan identifiseer. Gee veral ook aandag aan gestremde en ander kwesbare kinders.
- Weet wie jou kinders se vriende is. Moenie hulle by oppassers los wat jy nie ken nie. Onthou dat handelaars ou bekendes kan wees. Weet by wie jou kind kuier en waar hulle is.
- Leer jou kind van vroeg af wat gepaste en gesonde liggaamlike kontak is, en watter soort gesprekke gepas is.
- As jou kind met jou kom praat oor ’n ouer person wat hulle ongemaklik laat voel, reageer dadelik daarop. Weer: Hou die kommunikasiekanale oop!
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.