Dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.Só leer ons reeds in die Ou Testament. Die pandemie het dié stuk Hoogliedwysheid dík onderstreep. Nou staan ons voor ’n nuwe jaar wat vir seker allerlei beuselagtighede oor ons pad gaan bring. Die vraag is: Het ons geleer om dit beter te hanteer?
DEUR ILETTE COETZER
Die koronaviruspandemie het die wêreld op vele gebiede uitgedaag en baie mense het ongekende verliese gely.
Sonder dat ons daarvoor gevra het, moes ons vele lesse leer. Vra enigeen wat in dié tyd naby ’n hospitaal se intensiewesorgeenheid was wat hy of sy geleer het, en minstens een van die antwoorde sal wees: “Ek het geleer wat regtig saak maak en wat nie.”
Vra verder uit, of dink doodgewoon self daaroor, en jy identifiseer dalk een of meer van die sake hieronder. En dalk help die raad jou.
Negatiewe denke
Fokus op wat jy het, eerder as op jou probleme en op dit wat jy nié het nie. Niemand se lewe verloop altyd seepglad nie. Jy is nie ’n mislukking bloot omdat jy tans sukkel of ’n probleem of twee ondervind nie.
Onnodige “drama”
Sommige mense hou baie daarvan as daar ’n bietjie “drama” in hul lewe is. Jy hoef nie ’n slagoffer daarvan te wees nie. Moenie dat ’n ander se primadonna-giere jou energie tap nie. Jy hoef nie in ’n toksiese verhouding te bly nie. Of dit nou ’n lewensmaat, ’n vriendin of ’n familielid is, probeer tog verhoed dat ’n verhouding jou lewensvreugde steel. Wérk daaraan, as jy kan.
Ek wil dit hê!
Jy kan nie altyd alles kry wat jou hart begeer nie. Wees dankbaar vir wat jy het. Kyk net ’n slag om jou, en sien hoeveel jy regtig het. En hoeveel mense veel, veel minder as jy het.
Het jy nie dalk ook veel minder dinge aangeskaf sedert die pandemie uitgebreek het nie? En wat het jy daarvan oorgekom?
Hou op om jou met ander te vergelyk
Jy kan net met jouself meeding. Anders gestel: Jy kan jou net met jouself vergelyk. Daar sal in elk geval altyd iemand wees wat mooier en slimmer en ryker en maerder is as wat jy is. Moenie dat wat ander oor jou dink jou geluk bepaal nie. Maak dit regtig saak wat hulle van jou hare of jou klere dink?
Hou op tob oor destyds se foute
Kasty jy jou steeds oor iets wat jare gelede gebeur het? Jy kan tog nie die verlede verander nie … Jy het destyds foute gemaak. Jy het besluite geneem op grond van die feite tot jou beskikking. Om nou daarop terug te kyk en jou slim te hou met die voordeel van nabetragting, is regtig nie … nou ja, slim nie. Leer uit daardie foute, moenie dit herhaal nie, en moenie dat dit jou toekoms bepaal nie.
Verkeerde lewenskeuses
Die lewe kan lank word as jy verkeerde besluite neem. Moenie jouself straf en
in ’n beroep of ’n verhouding bly as dit nie werk nie. Jy is nooit te oud om veranderinge aan te bring nie. Jy mág weer kies.
Die verkeerde groep
Jou ouers het jou nie verniet teen “verkeerde maats” gewaarsku nie. Sommige vriende kan jou energie só dreineer dat jy niks meer om jou raaksien wat jou positief of optimisties stem of jou doodgewoon bly maak nie. Kies eerder om jou tyd deur te bring by mense wat jou ondersteun en jou opbou.
Sosiale verpligtinge
Soms word jy so vasgevang in sosiale geleenthede dat jy vergeet om dit te geniet. Jy hoef nie álle uitnodigings te aanvaar nie.
Die einde van die jaar is dikwels propvol sosiale geleenthede. Sê gerus “nee, dankie”. Dis jou tyd. En dis jou voorreg om te kan kies.
LEES OOK: \’Ek bid vir my geliefdes, Here\’
Sosiale media
Is jy verslaaf aan Facebook of Twitter of Instagram? Kan jy nie wag om die naweek se foto’s met die wêreld te deel nie?
Daar is mense – goeie mense, gewone mense – wat tot elf uur per dag aan sosiale media afstaan. Stel grense vir jouself. Niemand wil regtig weet wat jy vanmiddag geëet het nie. Gebruik eerder die tyd om ’n behoorlike gesprek met ’n vriendin te hê, of om gehaltetyd saam met jou kinders deur te bring.
Leer om “nee” te sê
Jy kan nie vir almal “ja” sê nie.
Hoekom is dit vir jou so moeilik om vir mense te sê jy kan hulle nie help nie? En, nee, jy hoef nie te verduidelik hoekom jy iets nie kan doen of bywoon nie.
Hou op om ander te probeer beïndruk
Jy hoef nie van almal te hou nie, en almal gaan beslis nie van jou hou nie. En dis oukei. Leef jou eie lewe en wees jouself.
Ou vrese
Ons almal bevraagteken soms ’n besluit wat ons geneem het. En ons almal is bang vir die toekoms.
Maar vrees is slegs ’n emosie; dis nie ’n feit nie. Kyk jou vrese in die oë en hanteer dit. Dis al manier om vorentoe te beweeg.
Jy is nie ’n ander se asblik nie
Moenie toelaat dat ander hul negatiewe idees, hul probleme en hul giftige gedagtes voor jou deur kom stort nie. Sommige mense het nou eenmaal die vermoë om jou binne enkele oomblikke soos ’n afgeblaasde ballon te laat voel.
Vriendskap kom van twee kante af. As jy áltyd daardie een in die verhouding is wat die ander bemoedig, wat raad gee en wat troos, het dit dalk tyd geword dat jy die vriendskap heroorweeg.
Waarvoor wag jy?
Jy kan nie altyd vir die perfekte oomblik wag nie. Hou dus op om in die toekoms te leef. Hou op om te dink: Ek sal gelukkig wees as ek ’n verhoging kry; as ons in ’n groter huis bly; wanneer die kinders eendag meer selfstandig is.
Kies om die beste van vandag te maak. En maak vrede met waar jy jou tans bevind.
Plak jy slegs ’n pleister op probleme?
’n Pleister is bloot ’n tydelike oplossing. Konfronteer jou probleme en handel dit af.
Nee, niemand hou van konflik nie, maar deur dit te vermy en soos ’n volstruis jou kop in die sand te steek, gaan niks oplos nie.
Ander mense se foute
Wees verdraagsaam.
Ons almal maak foute. Soms neem goeie mense swak besluite. Dit gebeur met ons almal.
Kyk met sagte oë na ander.
Vergewe mekaar
Om nie te wil vergewe nie is ’n vermorsing van energie. Sulke hardnekkigheid
weerhou jou daarvan om werklik gelukkig te wees.
Haatdraendheid is ’n emosie wat jou stukkie vir stukkie van binne af opvreet. Onthou tog: Jy vergewe nie ander bloot ter wille van hulle nie, maar ook ter wille van jouself.
Is ek te krities?
Dink voordat jy ’n mening oor ander uitspreek. Loop eers ’n draai in ’n ander persoon se skoene voordat jy haar of hom oordeel.
Ons lewe in ’n tyd waar almal swaarkry, en jy is nie altyd bewus van ’n ander
mens se seer en swaar nie. Wees verdraagsaam. Hou liefs jou kritiese opmerkings vir jouself.
Is jy altyd besig?
Het jy ’n vriendin wat altyd besig is ongeag wanneer jy haar bel?
Moenie in dieselfde strik trap nie. Maak elke dag tyd vir jouself, al is dit bloot om te rus en jou batterye te laat herlaai. Die pandemie het in baie opsigte die tyd “stadiger” gemaak. Moenie weer in ’n gejaag vasgevang word nie.
Geniet die klein dingetjies
In die afgelope tyd het baie mense geleer om die lewe op ’n eenvoudiger manier te geniet. Soveel het weer begin kos maak, en dikwels saam met die ander gesinslede. Bordspeletjies is weer hoogmode.
Geniet die somerson. Kyk gereeld om jou rond. Sien die klein diertjies raak. Waardeer jou seëninge.
Gun jouself om net te “wees”.