“Elke keer as mense my storie hoor, vra hulle: ‘Hoe het jy dit gedoen?’”
Dan antwoord Monita Mostert van Brackenfell altyd: “Dis die Here en my kinders.”
In die ateljee waar LiG: God se krag in my krisis opgeneem word, probeer dié geskeide ma met die twee kleuters verduidelik hoe groot die krisis was waarin sy haar in 2022 bevind het. Sy vertel: “Daar sit ek toe op 32. Ek het pas my man verloor, my huwelik verloor, my beste vriend verloor.
“Daar was baie onsekerheid, baie seer en … ek was swanger.”
Presies drie dae nadat Monita se man haar verlaat het, het sy uitgevind sy verwag ’n baba. Dis die baba waarop sy en hy toe al twee jaar lank gewag het. Hulle het reeds ’n sewejarige dogtertjie gehad.
Monita sê sy het op haar bed gesit en na God geroep. “Ek het vir God gesê ek soek ’n teken, ek soek ’n belofte. Ek soek iets om aan vas te hou, iets wat my sal dra in die moeilike maande en jare wat voorlê.”
Sy het ervaar God wou hê sy moet Jesaja 7 lees. Sy vertel hoe sy daarby aanklank gevind het. “Natuurlik het ek besef die storie handel nie oor my nie. Dit het nietemin gevoel asof dit oor mý lewe is wat ek lees.
“Ek het gelees hoe die Here vir die koning sê hy moenie bang wees nie, hy sal nie oorweldig word nie, hy moet vasstaan in sy geloof. Dit het gevoel asof die Here deur hierdie verhaal met my praat.
“In ’n stadium het die Here vir hom gesê Hy sal vir hom ’n teken gee dat hy oukei sal wees.
“Ek was só opgewonde dat ek my Bybel neergesit en gesê het: ‘Dankie, Here!’ Ek het gedink hiér kom nou die vers waaraan ek kan vashou.
“Toe tel ek die Bybel weer op en lees Jesaja 7:14: ‘Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.’”
Monita onthou dat sy so geskok was dat sy lank doodstil op haar bed bly sit het, haar mond oop.
Twee dae later het ’n dokter haar swangerskap bevestig.
En só moes Monita die moeilikste tyd van haar lewe aanpak.
“’n Ma se grootste motivering is haar liefde vir haar kinders. En al kon ek in daardie stadium nie altyd liefde vir myself of vir die Here vind nie, het ek geweet ek moet gesond word, ek moet aangaan, ek moet baklei. Anders sal my kinders nie oukei wees nie.”
- Kyk episode 58 van LiG: God se krag in my krisis om meer te hoor oor die res van Monita se reis.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.