Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Verminder finansiële stres wanneer jy nie meer daar is nie

Finansiele stres

Min mense dink finansies sal ‘n kopseer wees ná hul afsterwe. Maar jy kan finansiële stres vir jou geliefdes verminder deur jou nalatenskap nou al goed te bestuur.

Die mensdom het deesdae toegang tot ’n magdom kommunikasietoestelle en toepassings, wat ons te alle tye bereikbaar maak. Ten spyte hiervan val die spreekwoordelike pap ál meer op die grond. Hoekom?

Dit kan wees dat die gehalte van die kommunikasie verswak juis omdat almal so bereikbaar is, en soms só met inligting bestook word dat ons daardie inligting begin sif. Dit bring mee dat mense dikwels nie met aandag luister wanneer hulle persoonlik kommunikeer nie.

En dit kan verreikende gevolge hê met betrekking tot jou nalatenskap, wat insluit jou boedel, jou aftrede en uiteindelik die emosionele sekuriteit wat jy aan jou geliefdes kan gee deur te praat oor jou testament.

Hier is ’n paar maniere waarop ’n mens die uitdaging om ‘n gesonde finansiële nalatenskap te laat, sinvol te hanteer. Goeie beplanning is een.

Boedelbeplanning

Hierdie soort finansiële beplanning is baie waardevol. Dit verseker dat jou wense, soos jy dit in jou testament uiteengesit het, werklik uitvoerbaar is. Indien jy getroud is en kinders het, moet jy die impak van jou afsterwe op jou gesin se finansiële welstand in ag neem.

Indien jou inkomste wegval, moet daar immers steeds voorsiening wees vir huishoudelike uitgawes en verdere studie. Maak ook seker dat daar genoeg likiditeit in jou boedel is ten einde finale koste soos eksekuteursfooie, uitstaande skuld en belasting te dek.

Jy wil dalk jou huis aan jou kind(ers) nalaat, maar indien daar nie genoeg kontant is om die finale koste te dek nie, sal die eksekuteur moontlik die eiendom moet verkoop. Of die erfgename sal die finale koste moet dra as hulle die bate wil behou. Die sal bydra tot hulle finansiële stres.

Die hartseer van ’n verlies in die familie is erg genoeg, en ’n mens wil nie treurende mense boonop opsaal met onvoorsiene uitgawes nie. Dit kan, met ’n bietjie beplanning, gedurende jou leeftyd voorkom word.

Die goue jare sonder finansiële stres

Buiten deeglike beplanning en genoegsame voorsiening is die meeste mense daarvan oortuig dat die grootste geskenk wat hulle aan hul kinders kan gee ’n erflating is. Dat dit die kans op finansiële stres sal verminder.

Maar eintlik is die beste geskenk wat jy aan almal kan gee finansiële onafhanklikheid tot die dag wanneer jy jou laaste asem uitblaas. Om te verseker dat jy gedurende jou aftrede jou finansiële vryheid behou, verg langtermyn finansiële beplanning. Daarvoor moet jy ’n duidelike begrip hê van wat jou behoeftes by aftrede gaan wees, en moet jy doelwitte stel om dit te bereik.

Jou beleggingstrategie kan aangepas word namate jy nader aan jou doelwit kom. Dit moet in ieder geval gereeld hersien word om te verseker dat jy op koers bly.

Emosionele sekuriteit

Daar is ’n paar belangrike kwessies wat met jou geliefdes bespreek en duidelik uitgeklaar moet word om almal se finansiële stres te verminder. Jou kinders en lewensmaat moenie wonder óf jy ’n testament het nie, of waar hulle ná jou afsterwe al die inligting en dokumente gaan opspoor om jou boedel te laat beredder nie.

Maak tyd om hieroor te praat. Dis van onskatbare waarde, omdat dit onsekerhede uit die weg ruim en aan hulle gemoedsrus sal gee in die wete dat jou sake in orde is. Die gevoel van vrede wat dit hulle sal bied, is iets wat hulle altyd van jou sal onthou en koester.



Hierdie artikels is deur Jacqui Kruger geskryf. Sy is ’n finansiële adviseur by PSG Silver Lakes. Sy kan
gekontak word by jacqui.kruger@psg.co.za of 071 491 8004. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.