In die BBC-filmweergawe van Jane Austen se bekende Pride and Prejudice is daar ’n toneel waar die Bennet-susters hulle opsmuk vir ’n groot dansparty op die landgoed van die vooraanstaande Mr Bingley. Hulle dartel en kwetter en giggel sonder ophou.
In die agtergrond gaan een van die diensmeisies onverstoord haar gang. Onopgesmuk. Voorskoot om die middellyf en kappie op die kop. Sy neurie saggies terwyl sy hopies skoongewaste klere netjies uitpak. Niemand in die vertrek sien haar raak nie.
Ek vra my af: Was dit enigsins nodig om dié vaal, niksbeduidende diensmeisie ’n deel van hierdie toneel te maak? Doen sy nie afbreuk aan die sprankeling en opgetoënheid van die bloesende meisies in die wit aandrokke nie? Sou die kyker haar enigsins mis indien sy uit die teks gesny sou word? Sou die teks armer wees?
En ek besef: Sonder die diensmeisie is die toneeltjie slegs ’n vertoonvenster vir uitspattigheid en bolangse vreugde. Die diensmeisie se teenwoordigheid beklemtoon op ’n subtiele manier die kontras tussen dinge wat werklik saak maak en dinge wat vlietend en sonder waarde is.
LEES OOK: Jan Blohm beweeg op 50 na die lig: ‘Sonder Jesus Christus sou ek nie ’n kans gehad het nie’
Vandag is hierdie “onsigbares” steeds by ons, steeds op die agtergrond. In kantore en huise en kombuise; in skole en hospitale en winkels. Op die platteland en op plase, in die dorpe en in die stede van ons land. Dit is mense wat hul dagtaak blymoedig aanpak, sonder om aandag of erkenning te soek. Tog weerklink hul boodskap helder en duidelik, juis in die manier waarop hulle die alledaagse doen.
’n Ma wat in haar binnekamer se stilte vir haar gesin bid, word nie altyd na waarde geskat nie. Tog voed haar gebede haar gesin. Dit kring uit na haar kinders se skole en na haar man se werkplek. Dit word ’n onstuitbare krag wat voortstu na ’n wêreld ver anderkant haar huis se mure, en dikwels lank nadat haar stem stil geword het.
Deesdae is die modewoord “smaakmakers”, dit is daardie mense wat hulleself en dit wat hulle aanbied deur middel van sosiale media bemark. Eensklaps word hulle besonder sigbaar, sommige sonder dat hulle wesenlik daartoe bygedra het om van die wêreld ’n beter plek te maak. En sonder dat hulle in dié proses wysheid bekom het.
Die krag van mense wat stil-stil hul gang gaan, word grootliks onderskat in ’n samelewing waar die aandag dikwels op die sigbare en meetbare fokus. Daar word verkeerde seine via sosiale netwerke uitgestuur. Ons bewonder openbare figure – filmsterre en sangers en sportlui – sonder om na hul karakter of die blywende waarde van hul nalatenskap te kyk. Ons meet onsself aan glanspersone op tydskrifvoorblaaie, en voel minderwaardig. Want ons is onbeduidend en gewoon.
Ons wend ons tot sosiale media soos Facebook en Instagram waar ons ons lewe met onbekendes deel, waar vreemdes ons komplimenteer en ons beter oor onsself laat voel. Vir een kort oomblik val die kollig op óns.
Maar wanneer die gewone alledaagsheid van die lewe weer ons werklikheid word, begin ons wonder oor die sin van ons bestaan. Dan vra ons: Wat maak ek hier?
In sy bekende dagboek My Utmost for His Highest skryf Oswald Chambers: “Ek is nie die punt nie. God is. Ek bestaan vir Hom.”
Tydens sy aardse lewe was Jesus Christus nooit beïndruk deur status of rykdom of mense se “hosannas” nie. Hy wou hê sy volgelinge moes hulle by die nederiges skaar. Dít is sy nalatenskap aan ons.
Wanneer ons deur ons kalklig-verslawing gedryf word, verblind die eie ek ons oordeel. Ons moet weer aan Jesus se voete gaan sit en by Hom leer hoe om waarlik tot rus te kom. Hoe om op te los in die oomblik sodat ons perspektief kan kry.
Sodat ons die mens kan word wat God bedoel het ons moet wees. Dan kan ons weer neurie terwyl ons met die gewone besig is. Sonder om raakgesien te wil wees.



















