Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Video: Frikkie Welsh oor die eensame pad ná rugby en sy drankstryd

Die gewese rugbyspeler Frikkie Welsh maak sy hart oop oor die alleenpad ná sy rugbydae, oor die emosionele en finansiële uitdagings wat hy en sy gesin moes trotseer, en oor hoe God hom vrygemaak het van drankverslawing.

Ek het 13 jaar lank professioneel rugby gespeel. My laaste kontrak was in die Kaap, waar ek twee jaar vir die WP gespeel het. Nadat my kontrak tot ’n einde gekom het, het ons besluit om in die Kaap aan te bly.

Hierdie besluit het ’n groot impak op my en my gesin gehad, veral omdat ons toe nie naby ons familie was nie. Dis ’n groot leemte wanneer jy nie ’n ondersteuningstelsel het nie – geen oumas, oupas of familie wat kan help met die kinders nie. Jy is in ’n nuwe plek, jou kinders is klein, en jy voel alleen. Alhoewel ek betrokke geraak het by kerke en talle mense ontmoet het, het die eensaamheid nie heeltemal verdwyn nie.

Wat rugbyspelers dikwels nie besef nie, is dat die lewe ná rugby groot uitdagings inhou. Jy is vas oortuig daarvan dat jy ’n netwerk vriende en sakeverbintenisse opgebou het, mense wat jou sal ondersteun – maar wanneer jy jou tokse opgehang het, besef jy skielik jy is op jou eie. Die mense wat voorheen foto’s saam met jou wou neem, het verdwyn. Jy kom agter dat hulle nie noodwendig in jóú belanggestel nie, maar eerder die sosiale status geniet het wat jy as rugbyspeler aan hulle gegee het.

Hierdie werklikheid kom as ’n groot skok. Die vriendekring word kleiner; die mense wat jy as jou broers beskou het, word minder. Jy begin twyfel aan jouself. Jy vra jou af: Wie is ek nou? Wat is my doel in die lewe as ek nie meer ’n rugbyspeler is nie?

Vir die eerste vier jaar ná die einde van my rugbyloopbaan was dit behoorlik donker om my. Dit was ’n tyd vol worstelinge met verwerping, alleenheid en ’n gebroke identiteit.

Drank, en die pad na genesing

In hierdie moeilike tyd het ek ook met drankverslawing gesukkel. Drank was ’n deel van die sosiale lewe wat ek vroeër geken het. Dit was kuier en drink, en daarby die druk van die omgewing.

LEES OOK: Vanes-Mari: ‘Die Here het my elke tree gedra’

Ek het gedrink om mense tevrede te stel, om aanvaar te word. Maar diep binne my het ek geweet dit was nie die regte pad nie. My vrou het my gesmeek om op te hou, en daar was ’n tyd toe sy vir my gesê het: “Kies. Dis óf ek óf die drank.”

Die keerpunt het gekom toe ek ’n diep hunkering na die Here begin ervaar het. In 2006 het ek begin om die Bybel met groter erns te lees. En om te probeer verstaan wat dit beteken om ’n nuwe lewe in Christus te hê.

’n Groot deel van my genesingsreis het plaasgevind toe ek in Frankryk gaan rugby speel het. Ek was saam met ’n maat van die Bulls, Johan Wasserman, en sy vrou. Ons het ’n klein huisgemeenskap begin waar ons diep in die Woord gedelf en ’n werklike oorgawe aan die Here gemaak het.

Om ’n nuwe skepsel te word

Om jou sonde te bely beteken dat jy daarvan wegdraai. Dit is nie om ander te oordeel of te veroordeel nie, maar om jou lewe aan die Here oor te gee en ’n nuwe skepsel te word.

Ek het geleer dat genesing en vrymaking nie deur my eie krag kom nie, maar deur die Here se Woord. ’n Skrifgedeelte wat vir my baie beteken het, is Filippense 2:1. Hier is dit soos dit in die Amplified Bybel vertaal word:

“Therefore, my dear ones, as you have always obeyed my suggestions, so now, not only with the enthusiasm you should show in my presence, but much more because I am absent, work out, cultivate, carry out the goal, and fully complete your own salvation with reference and trembling.”

Hierdie vers het my laat besef dat ek my redding moet uitleef, nie deur goeie werke te doen nie, maar deur die waarheid van dit wat Jesus aan die kruis vir my gedoen het. Dit hou onder meer in om met ’n nederige hart en ’n bewuste gewete te leef, waaksaam te bly teen versoekings, en om ’n lewe te lei waardeur God geëer word.

Die impak op my gesin

Om ’n lewe sonder drank te leef, ’n lewe waarin die Here gedien word, het nie net my eie lewe verander nie, maar ook dié van my vrou en kinders. Dis nie maklik om ’n goeie voorbeeld te stel nie, veral wanneer jou kinders tieners is en die wêreld hulle met versoekings peper. Ek glo egter vas dat ouers nie net vir hul kinders moet wat hulle moet en nie moet doen nie, maar dat ons die lig moet wees deur die waarheid te leef.

Ons het ’n klein bediening begin, waardeur ons ander gelowiges help en ondersteun. Dis ’n roeping wat ek en my vrou uitleef om ’n verskil te maak in die gemeenskap en om ’n voorbeeld te wees van ’n lewe wat God eer.

Daar is ’n belangrike stukkie statistiek wat ek graag met ander deel: As ’n pa lief is vir die Here en Hom volg, is daar ’n 70%-kans dat sy kinders ook die Here sal volg. Maar as slegs die ma die Here dien en die pa is nie betrokke nie, is daardie kans 30%. Dit wys ons op die groot verantwoordelikheid wat mans het om die geestelike leier in hul huis te wees.

Die afgelope paar jaar was nie net vol swaarkry nie. Dit was ook ’n pad vol ontdekkings, van genesing en van ’n nuwe lewe in Christus. Ek het geleer dat die Here getrou is, selfs in die moeilikste tye, en dat sy krag ons vrymaak van alles wat ons van Hom skei.

My boodskap aan ander is eenvoudig: Wees die lig in die duisternis. Moenie net mooi woorde aanhoor en uitspreek nie, maar leef die waarheid. Neem verantwoordelikheid vir jou geloof en wees ’n voorbeeld vir jou gesin. So ’n pad is nie maklik nie, maar met die Here aan jou sy is daar hoop en genesing en ’n nuwe begin.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►