Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vrede en liefde vir almal op Kersdag, is dié bekendes se wens

Vier bekende ma’s vertel hoe hul gesin Christus se geboorte vier en wat Kersfees vir hulle beteken. Hulle vertel ook van kosbare Kerstye in hul kinderdae.

DEUR MARTJIE ROOS; HOOFFOTO: ANNEMARIE WICHMANN

“Kersfees word vir my versinnebeeld in die herdenking van Jesus Christus se geboorte, asook liefde en samesyn saam met vriende en familie.” So sê die aktrise Mandi du Plooy-Baard, wat televisiekykers die afgelope klompie jare as die lieftallige Lienkie in die sepie Getroud met rugby leer ken het. “Toe ons kinders was, het ons gesin Kersfees altyd volgens die Afrikaanse tradisie gevier: Oukersaand is ons saam kerk toe, of my pa het vir ons die Kersverhaal gelees. Kersdag was dit die tradisionele Kersete. “Daarby was daar altyd musiek in ons huis, en ek en my twee broers Johann en Marius het graag saam met my ouers Kersliedjies gesing. Vandag nog, wanneer ek Kersliedjies hoor, word ek sommer opgewonde.”

’n Spesiale en blye dag

Mandi sê sy en haar wederhelf Schalk wil hierdie tradisies aan hul twee kinders Sumé (7) en Jeandré (9) oordra. “Kersfees is ’n spesiale en blye dag. Ons vier Jesus se geboorte. Ons gee geskenke aan mekaar, nie bloot as ’n simbool van naasteliefde nie, maar ook omdat Jesus Christus se geboorte die grootste geskenk aan ons was.” Al maak Kersvader elke Oukersaand sy opwagting by die Baard-gesin, sê Mandi dat sy haar kinders van kleins af mooi geleer het dat Jesus ons Redder is en dat ons Hom aanbid, nie Kersvader nie. “Kinders bly net ’n kort rukkie klein,” sê sy. “En daar is deesdae soveel druk op ons kinders: Hulle het ál minder vryheid om waarlik kind te wees. Daarom is dit vir my lekker om Kersfees deur ’n kind se oë te beleef. Ek wil regtig hê ons kinders moet so lank moontlik hul onskuld behou.”

‘Om genade te hê’

Mandi maak Oukersaand baie spesiaal en prettig vir die twee spruite. “Hulle kry ’n boks met slaapklere, springmielies en ’n fliekkaartjie. Hulle los ook ’n bordjie met koekies en eetgoed vir Kersvader.” Op Kersdag reël sy ’n skattejag vir die kleinspan. Sy vertel dat al die Du Plooys (dis nou Mandi se kant van die familie) gewoonlik tydens Kersfees in die Kaap kuier, maar vanjaar gaan hulle vir die eerste keer in ’n lang ruk nie Kaap toe nie. “Hierdie jaar bly ons in Johannesburg, en my oudste broer Johann en sy gesin gaan by ons kom kuier. Indien ons dalk Bosveld toe gaan, sal dit tydens die Kerstyd gebeur.” Haar Kerswens is dat Christene altyd sal onthou dat dit belangrik is om kind te wees, en om genade te hê. “Want jy weet nie wat in die mens langs jou se lewe aangaan nie. Leef in en met liefde.”

JUANITA DE VILLIERS

Geborg
Foto: Anthony Horak

Die aktrise Juanita de Villiers, wat die rol van die joernalis Jana Kritzinger in die sepie Getroud met rugby vertolk het, koester wonderlike herinneringe van Kerstyd in haar kinderjare. “Ek het op Jan Kempdorp in die Noord-Kaap grootgeword, en Kerstyd het ons hele familie – nefies, niggies, tannies en ooms – saamgekloek. Ons kinders het op ’n kermisbed in die sitkamer geslaap. Dit was altyd ’n vreugdevolle en genotvolle tyd, maar ook ’n wonderlike rustyd.” Groot opgewondenheid Juanita vertel dat sy as kind reeds weke voor Kersfees begin het om Kersversierings in die huis aan te bring. Hulle het altyd óf ’n Kersboom van plastiek óf ’n “regte” Kersboom gehad. “Ons kinders kon nooit wag om die geskenke wat Kersvader gebring het, oop te maak nie. “Op Kersdag het ons gewoonlik óf by my ma se ouers óf my pa s’n gaan eet. Dan het die tafels behoorlik gekreun onder die lekker kos.” Juanita, wat met die regisseur en vervaardiger André Velts getroud is, vertel dat hulle om die beurt saam met hul ouers Kersfees vier. “Vanjaar is dit my skoonouers se beurt. Ons almal gaan Weskus toe, na hul vakansiehuis in Langebaan.” Juanita en André se dogtertjie Zia het in September haar tweede verjaardag gevier. Hul seuntjie Simon is in November gebore. (Die fotosessie vir LiG was knap voor Simon se geboorte.) “Dis alles natuurlik ’n groot opgewondenheid, want Ouma en Oupa gaan klein Simon nou vir die eerste keer ontmoet. En André se stiefpa se dogter, wat ook onlangs ’n baba gehad het, gaan ook daar wees.”

’n Bestekopname

Sy en André wil graag hul kinders gebalanseerd opvoed. Juis ook wat Kersfees betref. “Hulle moet die kommersiële kant van ’n Kersvader en Kersversierings geniet, maar ook, wanneer hulle ’n bietjie ouer is, die ware betekenis van Kersfees verstaan. “Ons wil hulle leer om alles vanuit die Christelike liefde te doen, dan sal hulle ook respek en waardering vir hul medemens en vir die natuur hê.” Vandat sy ouer is, sê Juanita, kyk sy anders na die Feesgety. “Kersfees gaan nie vir my net oor die herdenking van Christus se geboorte nie; dis vir my ook ’n afsluiting van die jaar, dis ’n bestekopname. “Ek kyk na wat in 2022 in my lewe gewerk het, en wat nie. Dis ook vir my die tyd om nederig dankie te sê vir al my seëninge, en vir die lewenslesse wat ek die afgelope jaar geleer het.”

CAROLINE-GRACE BRÜSSOW

Die sangeres en liedjieskrywer Caroline Grace Brüssow, eggenote van die oud-Springbokrugbyspeler Heinrich Brüssow, sê dis vir hulle belangrik om die ware betekenis van Kersfees aan hul twee kinders Marcel (3) en klein Iza oor te dra. “Wanneer Marcel en Iza, wat verlede jaar Maart gebore is, ’n bietjie ouer is, wil ek hê hulle moet weet Jesus is ’n geskenk aan ons. Dat Hy vir ons gesterf het, en dat ons God moet eer en liefhê. “Terselfdertyd wil ek hê hulle moet tydens die Feestyd besef hoe belangrik familie is, en ook hoe om liefde te gee.”

Foto: Anina Harmse

’n Groot gekuier

Caroline-Grace, wat in Bloemfontein grootgeword het en deesdae in George woon, vertel sy het in ’n huis grootgeword waar Oukersaand en Kersdag op die tradisionele manier gevier is. “Ons het op Oukersaand Kersliedjies gesing en geskenke oopgemaak. My pa of een van my ooms was Kersvader. In later jare was dit my ouer broer Hans se beurt om Kersvader te speel. Ek het nou nog ’n foto van my saam met Kersvader, waar ek te skaam was om hom ’n soentjie te gee. “Op Kersdag het ons saam met die uitgebreide familie gekuier, en dan is die tradisionele groot Kersete voorgesit.” Die hele familie gaan vanjaar tydens die Feesgety op Keurboomstrand by haar skoonouers saamtrek. “My ouers woon ook op Keurboomstrand en dit gaan dus ’n groot gekuier wees! En wat Kersdag se groot feesmaal betref, sal ons beslis gammon op die tafel hê.” Caroline-Grace sê as sy ’n Kersboodskap vir die wêreld kon uitstuur, sal dit wees dat daar vrede op aarde moet wees. “Daar sal seker maar altyd konflik in die wêreld wees, en selfs in persoonlike verhoudings. Maar dit sal wonderlik wees as daar vir almal vrede op Kersdag kan wees. “As ons tog net op daardie spesiale dag kan fokus op alles wat mooi en goed is, op al ons seëninge, en nie op die negatiewe dinge in die lewe nie …”

Geborg

CHRISTIA VISSER

Dis vanjaar die eerste keer dat die aktrise en sangeres Christia Visser en haar man Thomas Webb Kersdag as ouers sal vier. Die egpaar se dogtertjie Kida is op Sondag 29 Mei gebore. Sy sê: “Moederskap is iets wat ’n mens nie kan beskryf as jy dit nie self beleef het nie. Iemand het een keer gesê dis soos om jou hart buite jou liggaam te sien stap.” Christia, wat al in talle rolprente opgetree het – onder meer in ’n uitdagende rol in Tess – en in TV-reekse soos Desert Rose en Binnelanders naam gemaak het, het in 2019 haar debuutalbum “Gemaklik Verlore” uitgereik.

Foto: Michelle Bauermeister

’n Dag van liefde

Sy het op Swellendam grootgeword. Kersfees was altyd ’n groot familiesaamtrek. “My herinneringe aan Kersfees in my kinderdae was lekker kos en samesyn, en ek en my ouer sussie Lucille wat heerlik saam met ons nefies en niggies speel. Een van die ooms het ons dan altyd as Kersvader met geskenke verras.” Maar as volwassene is Kersdag vir Christia die dag wat God sy plan in werking gestel het. Dis ’n dag van liefde. “Kersfees gaan vir my oor Christenskap, en oor alles wat met Christenskap gepaardgaan. “En al is Kida nog te klein om te verstaan waaroor Kersfees regtig gaan, wil ons wel in haar kleintyd die ‘gevoel’, die waardes en die tradisie van Kersfees aan haar oordra. Ons sal mettertyd, wanneer sy ’n bietjie ouer is, vir haar vertel waaroor Kersfees éintlik gaan.”

 ‘Die kind in onsself’

Christia, Thomas en Kida gaan vanjaar die Feestyd saam met haar ma Cecile en haar suster en swaer en hul drie kinders op Bonnievale deurbring. Christia se pa Abrie is in Maart vanjaar oorlede toe sy sewe maande swanger was. “Ek sien báie daarna uit dat ons as hegte familie weer gesellig saam kan kuier,” sê sy. “Ons gaan ’n springkasteel en partytjiewurm vir die woelwaters reël. En wat die Kersmaal betref: My ma is iemand wat altyd ’n haas uit ’n hoed kan pluk en op die laaste nippertjie wonderlike kos optower. Een Kersfees was daar ’n seekospotjie, ’n ander keer heerlike smulhappies. Op ’n keer was daar selfs ’n Kersfondue. “Ek kan nie wag om te sien watter verrassing daar vanjaar kom nie.” Getrou aan hul familie se Kerstradisie gaan daar vanjaar beslis weer ’n Kersboom wees. “Ek is mal oor liggies en blink Kersversierings. Dis lekker om die kinders se opgewondenheid oor Kersfees met hulle te deel. “Ons verloor soms die kind in onsself; daarom is dit lekker om daardie kind weer te vind, juis tydens iets so spesiaal soos Kersfees.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.