Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vreeslose liefde

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

’n Vriendin stuur onlangs vir my ’n boodskap oor Jesus wat ’n man genees het nadat sy vriende se geloof letterlik ’n pad daarvoor oopgemaak het (Mark 2). En ek het gedink: Dit is waarom jou binnekring saak maak.

Ek is geseën met ’n wonderlike binnekring, maar ek het bly wonder of ek so ’n soort vriendin vir mý kring is. Of my geloof ’n draagbaar is vir die mense om my. 

LEES OOK: Die wonder van jou woestyntye

Wat kos liefde?

Die meeste gelowiges wil graag mense om hulle hê, en almal wil liefde ontvang, maar ons vrees dikwels wat liefde van ons sal vra.

Ja, wat kos liefde? Watter eise stel volmaakte liefde, en watter opofferings gaan daarmee gepaard?

Daar was baie mense daardie dag in Kapernaum byeen. Jesus was daar en daar was nie meer plek vir die sieke se vriende nie.

Ek vra my af: Sal ek ook bereid wees om ’n pad te maak waar geen pad is nie? Sal ek bereid wees om ’n gat in ’n dak te maak ter wille van my vriende? Is ek bereid om namens iemand anders te glo, iemand wat lankal moed opgegee het?

Liefde is ’n keuse

Sommige gelowiges verkies om eerder alleen te wees. Dit voel vir hulle veiliger as om ’n kans te waag met hierdie soort liefde. Eerder alleen en gemaklik as ontbloot en weerloos in ’n verhouding. Eerder niks voel nie as om die risiko van seerkry en verwerping te loop.

Nou lees ons dat volmaakte liefde alle vrees verdryf (1 Joh 4:18). Dit beteken dat liefde “nee” sê vir doelbewuste eenkant wees. Liefde besluit om teenwoordig te wees by iemand anders se nood, al is dit moeilik.

Wanneer jy jouself gee vir iemand in nood, erken jy dat ons almal eintlik eenders is. Ons is deur dieselfde God gevorm. Ons is aan mekaar verbind deur die band van God se liefde.

Ons het deel aan mekaar omdat ons in Christus is, omdat ons deel van sy liggaam is. 

Daarom moet ons na mekaar omsien.

Ons word geroep uit isolasie na gemeenskap.

Maar liefde vir jou medemens is nie altyd rasioneel nie. Dit is vir seker nie altyd maklik of gemaklik nie. Dit maak nie altyd sin vir die mense om jou nie. En wat van die arme huiseienaar met die gat in sy dak?

Maar die liefde wen wanneer ons niks meer het om te beskerm nie en alles het om te deel.

Paulus skryf aan die gemeente in Rome: “Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk – of eerder, dat wanneer ek by julle is, ons wedersyds deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle geloof en julle deur myne” (Rom 1:11-12). 

Om anders te kyk

Ons het mekaar nodig. Ons moet ons onderskeie gawes met mekaar deel en mekaar versterk en bemoedig. Dis wanneer ons mekaar liefhet dat ons die verlamdes om ons weer help opstaan. 

 Maar om dit werklik te kan doen, moet ons die manier verander waarop ons na mekaar kyk. Ons moet ons verbondenheid raaksien en erken. Dan kan ons verby ons onderlinge verskille kyk en fokus op wat ons deel in Christus. Dit is dan dat ons besef dat liefde sterker is as die dood. Eers wanneer ons nie meer die dood vrees nie, is ons waarlik vry. 

BID ASSEBLIEF SAAM MET MY: “Here, maak oop ons oë en ons hart. Help ons om te sien waar ander swaarkry, sodat ons die vreemdelinge, die buitestanders en die armes sonder vrees kan verwelkom. U, Here Jesus, het genesing gebring na hierdie aarde, en U het ons die krag gegee om dit ook te doen. Om onsself en ons mense gesond te maak wat aan verdeeldheid ly, aan wreedheid en aan haat. Leer ons om vreesloos lief te hê sonder om beloning te verwag. Om onsself in verhoudings prys te gee, sodat ons onsself kan vind. Amen.”

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF