25 Februarie 2021
Dis nogal ’n uitdaging om jou voete te vind in ’n wêreld wat onomkeerbaar deur die koronavirus, die inperking en die gevolge daarvan verander is. Tog hou die meeste uitdagings ’n groeigeleentheid in, en vir ons bied dit die kans om nuwe vreugdes te vind.
DEUR MARIETTE SNYMAN
Maar in ons prestasiegerigte samelewing is “vreugde” nou nie juis die woord wat ons met sukses vereenselwig nie. Miskien moet ons dié blinde kol met die mooi en die lekker troef. Deur elke week net één lekkerte by jou lewe te voeg, stoot jy dus jou jaarlikse vreugdekwosiënt dramaties op.
LEES OOK: ’n ‘Skewe potjie’ vind haar deksel
Hier volg nou ’n lys lekkertes wat nooit uit die mode sal raak nie. Kies jou gunstelinge, en vra jou nabymense wat vir húlle plesierig klink of lyk. Dit verg natuurlik energie om ’n nuwe aktiwiteit aan te pak, maar waag gerus die eerste tree. Dis die moeilikste een.
Kort voor lank kry die hele besigheid momentum. Dan volg die behaaglikheid – en die pret.
Roer jou litte!
Jy hoef maar net ’n woelige kleuter dop te hou om te besef ons is gebore met die behoefte om te beweeg. Hier praat ons van spéél, en nie van voorgeskrewe oefeninge met ’n spesifieke doelwit nie.
Haal ’n klompie jong kinders oor (of gewillige volwassenes) om blindemol, maak-soos-ek (“follow my leader”) of stoeledans (“musical chairs”) te speel. Sê só tot siens aan verveling. Pret is gewaarborg!
Wees op die uitkyk vir die geleentheid om iemand in jou omgewing spelenderwys te jaag. Jy kan later verduidelik dat jy nie regtig ál jou varkies verloor het nie.
Het jy al rekenaarwerk afgewissel met ’n lawwe dansie op die maat van musiek? Doen dit met of sonder ’n baba (of ’n besem) in jou arms.
Hou vol met die om-die-blok-stap-gewoonte wat tydens die inperking gewild geraak het. Dit kan kosbare geselstyd word as julle twee bymekaar is.
Die lekkerste drieletterwoord
Om te eet, kan bloot daarop gerig wees om ons honger te stil. Dit kan ons wel ook emosioneel voed en ons verhoudings versterk. As maaltye aan tafel nie die reël by julle is nie, kan ’n tikkie verbeelding dit wel in iets spesiaals omskep.
Laat die gesinslede om die beurt ’n spyskaart kies, en berei dan die geregte saam voor, dalk rondom ’n tema soos: ’n ander land, vingerkos, ’n kleur (al die kos moet byvoorbeeld iets groens bevat) of ’n “agterstevoor-ete” waar die nagereg eerste bedien word.
LEES OOK: Korona, my kroos en skerms
Pak ’n klompie bestanddele uit met die uitdaging dat die deelnemers dit skeppend moet voorsit.
Berei iets voor wat julle gewoonlik koop as dit reeds voorberei is. Só kan julle koeksisters bak; pasta, pesto of gemmerbier maak; blatjang of konfyt kook – en selfs daardie blikkie kondensmelk, soos toentertyd.
Hou ’n outydse piekniek (goggas en al).
Stories sonder brieke
Eeue lank reeds soebat kinders: “Vertel ons tog ’n storie!” Doen dit dan.
TV-reekse, flieks en rekenaarspeletjies is op stories geskoei, maar stories voorlees of stories vertel het meer om die lyf as dit. Dis boonop gehaltetyd, nie net omdat dit kinders se verbeelding, hul luister- en ander vaardighede stimuleer nie, maar ook omdat dit kommunikasiekanale oopmaak. As die kind boonop op jou skoot sit, stil dit sommer ook velhonger.
Ons oergrootjies het stories vertel terwyl die kole gloei. Herskep dié toweratmosfeer om ’n kampvuur, ’n kaggel, of deur elke kers in die huis aan te steek.
Wanneer lewensmaats vir mekaar voorlees, skep dit ’n ander soort gemeensaamheid as wanneer hulle saam voor ’n skerm sit. Die gebeure in ’n verhaal kan insiggewende gesprekke prikkel.
Vertel ’n slaaptydstorie waarin jou jong kind die held of heldin is. Vra: “Wat het toe gebeur?” wanneer jy vashaak.
Roep staaltjies uit jou eie of jou kind se kleintyd op.
Moedig ’n kind aan om oupa of oumagrootjie oor gebeure uit die verlede te pols. Jy kan spesifieke gespreksonderwerpe voorstel. Weet vandag se kinders enigiets van ’n opsitkers? Of van toktokkie speel?
“Stomstreke” is ’n kreatiewe vorm van storievertelling, en groot én klein kan daaraan deel hê.
’n Tikkie speelsheid
Lawwigheid is gratis vermaak wat op die ingewing van die oomblik beskikbaar is, selfs tydens ‘n kragonderbreking.
Praat in rymvorm, sommer in die kombuis terwyl julle opruim.
Nie almal is operaliefhebbers nie, maar enigeen kan ’n gesprek voer deur te sing wat hulle wil sê. Hoe hoogdrawender en hoe valser, hoe beter! As dit te laf voel, benader dit as ’n projek: Maak ’n video en stuur dit as ’n grap aan iemand wat dié soort stuitigheid sal geniet.
LEES OOK: Luister: Covid-19-verliese inspireer Ruan Josh tot roerende lied
Maak skaduprentjies teen die muur met die hulp van ’n lamp of ’n kers. Onthou jy nog die langoorhasies wat jy kleintyd met jou hande kon maak?
”Betrap” mekaar wanneer julle idiome gebruik en vind uit waar die spreekwoord vandaan kom. Waarop dui die “flikkers” wanneer iemand flikkers gooi? Hoekom sê ons “dit reën katte en honde”? (Google het die antwoorde – as jy nie ’n spreekwoord-woordeboek het nie.)
Sê dit met ink
Hoeveel van ons het iewers nog ’n gerfie liefdesbriewe wat, soos dit hoort, met ’n lint daarom vagebind is? Papier dra liefde en waardering ánders oor as wat digitale boodskappe dit doen.
Skryf vir elke gesinslid op hul verjaardag ’n brief met pen en papier. Dra daarin jou erkenning oor vir hoe hulle die lewe op verskillende gebiede hanteer, jou waardering vir wat hulle is en doen, en jou mooi wense vir die jaar wat voorlê.
Wat van ’n liefdesbrief vir jou maat? As die woorde nie wil vloei nie, kan jy ’n gedig, ’n aanhaling of die lirieke van ’n gunstelingliedjie neerskryf. Of ’n boodskappie in outydse telegramstyl prakseer.
Dis groot pret as elkeen op Oujaarsaand of tydens ’n ander jaarlikse viering ’n paar hartewense vir die volgende twaalf maande neerstip. Bêre die notas en lees dit ’n jaar later. Die lewe kan kosbare verrassings oor ons pad bring.
Nader aan die natuur
Moeder Aarde voed ons met haar skoonheid. Al wat ons moet doen, is om daarvan bewus te word.
Groei in enige vorm is ’n wonderwerk in die kleine. Of jy nou ’n groot tuin of net ’n paar potplante het, jy kan daagliks kyk of daar nuwe botsels of blommetjies is. Die insekte wat jy teëkom, kan jou laat gril óf tot ’n Youtube-ontdekkingstog lei.
Selfs in ’n besige stadsgebied is daar vroeg soggens en laat saans natuurgeluide. As jy daagliks aanteken wat jy hoor, sal jy verstom wees oor hoe fyn jou oor ingestel raak.
Kweek die gewoonte aan om met ‘n wye hoek te kyk, byvoorbeeld na die hemelruim wanneer jy by ’n verkeerslig wag. Die grootsheid van die sterrehemel of ’n ander vergesig verruim ons binneste.
As jy tydens jou stiltetyd doelbewus op die stiltes tussen die geluide fokus, kan dit jou malende gedagtes laat bedaar. Dis vertroostend om, soos soveel gelowiges deur die eeue, ná ’n dag vol mense en dinge ’n tydjie aan die Bron van stilte af te staan.