Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vrou getuig: ‘God se wapenrusting beskerm my teen ’n motorongeluk; ’n smeekbede bring vir my dogter ’n droom-matriekafskeid’

Yolandi Raschke (42) van Benoni vertel hoe sy geleer het om van probleme af weg te kyk en haar oë op God gerig te hou. Sy reken dat God se wapenrusting wat sy elke oggend “aantrek” haar teen ’n groot ongeluk beskerm het. Daarby is sy dankbaar vir haar dogter se droom-matriekafskeid.

Ná die egskeiding van my dogter Megan se pa, het ek Juan Raschke in Kempton Park ontmoet. In 2014 het ons Noordkus toe getrek waar ons vir lank in ’n tent in ’n karavaanpark gewoon het. Ons het baie swaar gekry. Daar het ons geleer hoe om met die minimum te oorleef.

Ná ons ontmoeting het Juan my gereeld kerk toe geneem. Tydens ’n biduur een Saterdagaand het God ons op ons naam aangespreek en gesê: “Juan en Yolandi, die dag wanneer julle as ’n eenheid voor my verskyn, sal Ek julle seën. Ek sal julle seën sodat julle hier kan uitgaan en van my goedheid getuig.”

Ek sal dit nooit vergeet nie.

LEES OOK: Dít is wat Jesus vir my gedoen het,’ vertel prokureur wat 17 jaar lank ’n dwelmverslaafde was

Ek en Juan is drie maande later getroud en sedertdien hou ek my oog op ons hemelse Vader gerig. Ek het geleer om nie op mense staat te maak om ons te help nie, want net Hy sal sorg en seën, en net Hy sal waarlik voorsien.

Juan is vir my ’n voorbeeld in dié verband. Hy is die een wat my elke dag leer hoe om meer tyd op my knieë deur te bring. Hy leer my om nie na die storms en probleme om my te kyk nie, maar om op ons Vader te vertrou vir alles in ons lewe.

Ons het ook die afgelope tien jaar gesorg dat ons elke dag Efesiërs 6:10-20 se wapenrusting “aantrek”. Ek doen dit met die as wat ons by ons Samaria-gemeente gekry het. Ek neem elke oggend ’n titseltjie as in my handpalm en plaas dan ’n bietjie op my tong en strooi ’n bietjie oor my kop. Dan spreek ek die volgende oor my uit: “As op my tong, as op my hoof, omgord my lendene met die waarheid, trek die borswapen van geregtigheid aan. Aan my voete die skoene van bereidwilligheid, in my linkerhand die skild van geloof, in my regterhand die swaard van die Gees, die Woord van God.

“Ek kruip diep onder die rots in en neem die swaard van ons Vader en doop dit in Jesus se kosbare bloed. Ons sny alle aanklewende bose magte van venyn en jaloesie af wat na ons uitgestuur word. Ons kap dit af in u Naam en stuur dit terug na dié van wie dit kom, met 70 x 70 keer se vergifnis. Ons verseël die deur waardeur dit gekom het met Jesus se bloed sodat dit nie weer na ons toe terugkom nie. Ons pleit die bloed van Jesus op ons af, van ons kop se bopunt tot die onderkant van ons voete – vir die eerste, die tweede, die derde en die vierde maal. Nie net vir ons nie, maar ook vir ons vriende en familie. In Jesus se Naam. Amen.”

Die wapenrusting van God

Ek is daarvan oortuig dat God se wapenrusting my onlangs van ’n gewisse dood gered het. Op Vrydag 24 Oktober het ek skool toe gery om my dogter te gaan haal nadat sy eksamen geskryf het. Op pad kar toe het ek onthou dat ek nog nie my wapenrusting “aangetrek” het nie en ek het dit dadelik gedoen.

Toe ek in my kar klim, het ek skielik besef dat die geskenkie, wat ek vir die vrou by ontvangs wou gee, steeds in die huis is. Terwyl ek terugstap huis toe het ek gedink: Ai, ek het dit dan juis daar neergesit sodat ek kan onthou …

Uiteindelik was ek op pad. By ’n verkeerslig wat besig was om na rooi oor te slaan het ek die kar tot stilstand gebring.

Toe die lig uiteindelik groen raak en ek wegtrek, hoor ek ’n vragmotor se deurdringende getoeter en ek besef die bestuurder het die rooi lig aan sy kant geïgnoreer. En sy voertuig gaan my tref!

Dit het toe nie gebeur nie, maar my kar het geruk van die dwarswind toe die vragmotor behoorlik by my verbyvlieg.

In my geestesoog het ek my dogter Megan se gesig gesien. Hoe sy die vorige aand by haar prysuitdeling gelyk het. En ek het gehoor hoe ek sê: “Dankie, Here, dis U wat my laat teruggaan het huis toe. Dis as gevolg van daardie pakkie wat ek vergeet het dat ek vandag lewe om my kind te gaan haal.”

Gebede vir ’n droom-matriekafskeid

Iewers in 2022 het Juan se broer vir hom werk in Benoni aangebied en ons het daarheen verhuis. Ek het ook ’n werk gekry.

In September verlede jaar, toe Megan in graad 11 was, het ek en sy oor haar matriekafskeid gesels. Sy wou graag ’n baie spesifieke tema uitbeeld: ovaalbaanresies, met foto’s wat daarby pas. My pa was ’n ovaalbaanresies-entoesias. Jy kan maar sê ek het langs die ovaalbaan grootgeword. Pa was egter nie meer met ons nie; hy is reeds kort voor Megan se tweede verjaardag oorlede.

Maar terwyl ons nog so oor Megan se matriekafskeid gedroom het, het ek my werk verloor. Dit was ’n hárde slag, want toe was daar nie meer geld vir allerlei ekstras nie.

Gelukkig het mense in die ovaalbaan-bedryf hulp aangebied. Ons sou dus kon foto’s neem met daardie tema.

Maar wat van die rok, my kind se hare, haar skoene en haar grimering?

In afhanklikheid van God het ek en Juan gebid dat Megan steeds ’n mooi matriekafskeid sal beleef. Ek het ook van ons vriende gevra om saam met ons te bid. Só het ek gebid: “Here, as dit u wil is, gee uitkoms sodat Megan haar droom-matriekafskeid kan hê. Sien asseblief haar hart raak, en myne.”

En daar beleef ons toe hoe gebedsverhoring lyk: Die radiostasie Jacaranda FM se Good Morning Angels het begin werk. Toe ons ons kom kry, het Karen Kruger van Karen Couturier in Pretoria haar rok gemaak, en die bekende Cor van der Merwe van TikTok-faam het ingespring. En ’n klomp ander engele het my kind help mooi maak. Die hare, naels en skoene was alles eksieperfeksie.

Die enigste uitgawe wat ons gehad het, was die kleursel vir haar hare.

Só lyk genade uit ons Vader se hand.

Ja, die Here sien jou hart raak. Ons kán maar ons behoeftes voor sy voete gaan neerlê.

Megan se eksamen is nou afgehandel, maar daar is nog nie duidelike antwoorde oor haar toekoms nie. Ek glo egter die Here werk nog daardie paadjie uit. Sy wil graag die skoonheidsbedryf betree.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►