Op universiteit was Arine Helmand ’n regstudent en nasionale netbalster. Sy het oënskynlik alles gehad, maar ’n enkele keer se kokaïengebruik het gelei tot 17 jaar se verslawing. Eers in die dieptes van ’n tronk het sy tot inkeer gekom. Vandag sê sy dat Jesus enigiets kan herstel, ook enige verhouding.
Ek het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. In daardie tyd het ek vir Tuks se netbalspan gespeel, en ook vir die nasionale onder 21-span.
Ek het in 2008 gegradueer, is as prokureur toegelaat en het by verskeie regsfirmas in Pretoria gepraktiseer.
Tydens ’n huispartytjie in my studentejare het ek vir die eerste keer kokaïen gebruik. Ek was maar 21. Ek het onmiddellik verslaaf geraak vanweë die euforie, die wonderlike gevoel, wat dié dwelm ’n mens gee. Ek het deur al my studiejare kokaïen gebruik.
Ek was, om dit so te stel, ’n “funksionerende dwelmverslaafde” omdat ek later, toe ek gewerk het, my dwelmgewoonte met my salaris gefinansier het.

Rehabilitasie ná rehabilitasie
In 2012 het ek my eerste rehabilitasieprogram deurloop nadat ek my ma gebel en erken het dat ek verslaaf is.
My familie was geskok. Hulle het nooit so iets vermoed nie omdat ek soos ’n normale, gesonde mens geleef het. Iemand met ’n blyplek, ’n inkomste, ’n motor en ’n mediese fonds. Hulle het nie geweet hoe om dit te hanteer nie, en oplaas het hulle my na ’n rehabilitasiekliniek in Pretoria gestuur.
Ek was skaam. Ek moes my werk los. En ek het vasgestel dat daar beslis ’n stigma aan verslawing kleef; ek het baie vriende verloor.

Ná hierdie eerste rehabilitasieprogram het die verdere probleme begin. Ek het aan tik verslaaf geraak en ek kon geen werk behou nie. Ek het ’n paar keer alles verloor, dan my lewe probeer opbou … net om weer alles te verloor.
So tussendeur het ek die een ná die ander rehabilitasieprogram bygewoon, en van psigiatriese hospitaal tot psigiatriese hospitaal geswerf.
LEES OOK: Dwelmverslaafde, bosslaper, dief: ‘Sonder God is dít weer my voorland’
Alles tevergeefs. Uiteindelik het ek absoluut niks meer gehad om van te lewe nie.
Wanneer ’n mens verslaaf raak, gee jy al jou geld op dwelms uit. Jy verkoop alles wat jy het en gebruik elke sent daarvoor. Ek was ’n tyd lank op straat. Ek het in my motor gebly en alle bande met my familie verbreek. Daar was tye dat ek nie met my ma en susters wou praat nie.
Tronk toe, en die keerpunt
As jy jou op dwelmgebruik toespits, is jy uiters selfsugtig. Jy dink aan niks en niemand anders nie. My broer het gesê dat solank ek verslaaf is hy my nie naby hom of sy gesin wil hê nie. Ons het lank nie met mekaar gepraat nie.

In hierdie tyd was ek in verskeie verhoudings betrokke waar ek verbaal en liggaamlik mishandel is. Ek weet nou hoe dit voel om so erg deur ’n man aangerand te word dat jy nie meer wil leef nie.
Uiteindelik het ek altesaam tien maande in die tronk deurgebring, een keer vir diefstal en een keer vir bedrog. Dit was bitter. In die tronk het ek besef ek is ’n mislukking. Ek het my lewe opgemors, ek het niks bereik nie. En ek het geweet ek kan nie so aangaan nie.
Dit was die keerpunt. Ek kon nie aanhou doen wat ek doen nie, ek was besig om my familie finaal van my te vervreem.
In die tronk het die Here met my gewerk. Hy het my laat besef dat ek my verhouding met my familie moet herstel.
Nadat ek byna 17 jaar lank aan dwelms verslaaf was, het ek op 8 September 2022 die dertiende keer ’n rehabilitasiesentrum ingestap – Nigel se Freedom Recovery Centre (FRC). Hier het ek besef dat ek meer as ’n verslawingprobleem het; ek het ook ander probleme. Ek het, byvoorbeeld, altyd my pa se dood in 1998 gebruik as verskoning vir my drank- en dwelmmisbruik.
‘Ek leef nou in God se plan vir my lewe’
In die FRC was ’n berader wat my baie gehelp het. Sy het saam met my gewerk om die tekortkominge in my menswees te identifiseer en dit te begin hanteer. Ek het my opnuut aan die Here oorgegee, en vasgehou aan Joël 2:25: “I will restore to you the years that the swarming locust has eaten.” Ek het gebid dat die Here my lewe ten volle moet herstel.
Vandag is ek dankbaar dat Hy my deur hierdie moeilike proses gedra het. Ek is ook dankbaar vir die FRC se pastoor en berader wat my weer die lig laat sien het.
Ek werk nou reeds langer as twee jaar as berader by die FRC. En ek bied klasse aan. Ek leef in God se plan vir my lewe, terwyl ek sy doel vir my voor oë hou. En ek ontvang ’n salaris. Dis veel minder as wat ’n prokureur sou verdien, maar dis al wat ek nodig het. Ek doen hierdie werk ter wille van my geestesgesondheid. Dit help my om stabiel, rasioneel en gebalanseerd te leef.
Deur dit alles weet ek vir seker: Sonder God kan jy nie van so iets herstel nie; daar is nie ’n lewe sonder Hom nie.
‘Ek wil hoop bring’
Die Here was my genadig. Hy het my ’n nuwe kans gegee met my familie en ek het nou ’n gesonde en sterk verhouding met my ma, my twee broers en twee susters.
My ma, Liz Schabort, en ek is nou baie na aan mekaar. Ongelukkig is sy in Maart vanjaar met kanker gediagnoseer.
Ek vertel my storie aan almal wat ek teëkom en ek probeer ander mense motiveer, veral vroue wat ’n soortgelyke stryd deurmaak. Ek wil hulle wys daar is ’n lewe ná dwelms en ’n lewe ná die tronk.
Ek wil hoop bring waar ek ook al gaan.
Mense wat dink hulle sal nooit voor verslawing swig of in ’n onstabiele verhouding betrokke raak nie, moet weer dink. Dit kan met enigeen gebeur. Ek skryf tans ’n boek oor my lewe, oor hoe Jesus my gered het uit die donkerste put denkbaar – dwelms, tronk, en alles wat sleg is.
Jesus sal jou uit enige verslawing bevry, ongeag hoe diep jy daarin is en hoe ver jy geval het. Hy sal jou red en jou verlos van alle soorte destruktiewe gedrag. Ek is ’n lewende bewys daarvan.
Aan God al die eer.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















