Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vroue, pasop vir drank as ‘selfmedikasie’

Waarom gryp sommige vroue so maklik na drank? Ons het dieselfde vraag gevra, en vasgestel dat iets soos onverwerkte trauma daartoe meehelp. Dat dit, trouens, ’n katalisator vir alkoholverslawing kan wees.

Beverley Springer (48) vertel sy het nog altyd ’n glasie wyn geniet. Maar twee traumatiese ervarings het die spreekwoordelike olie op die vuur gegooi.

Dié Johannesburgse skoonheidsdeskundige is in 2006 met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer. Sy kon steeds haar werk doen. Toe die siekte egter in 2020 opvlam, het sy een oggend wakker geword en gevind dat sy nie meer haar hande kon gebruik nie.

Eensklaps was sy die hele dag tuis – en dit het haar na drank laat gryp. Sy vertel: “Iewers in 2022 het my sussies vir my gesê dat dit nie so kan aangaan nie. Ek is toe in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem, waar ek drie weke gebly het.”

LEES OOK: Video: Frikkie Welsh oor die eensame pad ná rugby en sy drankstryd

Ses maande lank het dit goed gegaan.

Beverley se man Mike is verlam en in ’n rolstoel. Hy het elke dag kwaai pyn. Tydens ’n pyn-episode, waar Beverley vir hom medisyne moes toedien, het Mike sy bewussyn verloor. Sy het gedink hy het gesterf.

Dié trauma het Beverley weer tot drank gedryf. Sy onthou: “Daarna het dit baie sleg gegaan. Dit was asof daar nie genoeg wyn vir my beskikbaar was nie. Uiteindelik, in 2023, het Mike gesê ek moet kies: óf die drank, óf hom. Ek is die Here dankbaar dat ek teen die drank gekies het.”

Beverley is toe vir ’n volle tien maande na Jahara-rehabilitasiesentrum in Hoedspruit. In dié tyd het sy haar man slegs een keer van aangesig tot aangesig gesien. Hy kon nie sommer die agt ure reis om haar te besoek nie.

Sy sê sy was self ook bang om huis toe te gaan vir ’n besoek omdat sy gevrees het sy is nie dapper genoeg om na Jahara terug te keer nie.

Heel onlangs het Beverley twee jaar se soberheid gevier.

Hoekom, dink sy, het die rehabilitasie dié keer geslaag?

“Ek het tyd gehad om al die trauma en issues te verwerk. Sekere dinge en sommige slegte herinneringe het eers ná ses maande aan die lig gekom.

“Voor ek skoon was, het ek nie die lig gesien nie. Dit duur lank voor jou brein van drankmisbruik herstel. Daar is altyd hoop, maar jy moet wíl.”

Terug na die werklikheid

Beverley sê dat die harde werk nie verby was toe sy uiteindelik by die huis gekom het nie. Willie Pienaar, psigiater en skrywer van die boek Sober, sê nie verniet dat terapeute keer op keer verwonderd staan voor die krag van alkohol nie.

Beverley beaam dit. “Dis uiters belangrik vir ’n gerehabiliteerde alkoholis dat elke dag struktuur het.” Hoewel sy tans weer die gebruik van haar hande het, is dit nie van so ’n aard dat sy haar werk kan voortsit nie.

Maar sy het ’n nuwe doel in die lewe: Sy studeer weer. Van Maandag tot Vrydag is sy besig met ’n voltydse program van drie jaar by die Charis Bible College. Én sy bekwaam haar in berading by die Art and Healing Academy. Haar doel is om as ’n Christelike berader te kwalifiseer, iemand wat kuns as terapie gebruik.

Volgens Beverley is ’n herstel-kultuur broodnodig. “En daarvoor moet jy ’n veilige ruimte hê. Ons huis is dus ’n ‘droë huis’. Ek is baie dankbaar teenoor my man dat hy my hierin ondersteun. Daar is geen alkohol in ons huis nie en daar word ook nie alkohol naby ons toegelaat nie. As ’n kuiergas met drank opdaag, sal my man dié mens vriendelik vra om dit in die motor te gaan bêre.”

Beverley sê sy sorg ook dat haar mondspoel geen alkohol bevat nie. By ’n restaurant sal sy altyd vra of die kos wat sy wil bestel in alkohol gaargemaak word. “Dit bly mý verantwoordelikheid wat ek in my liggaam toelaat.”

Dan is daar die waarde van ander se ondersteuning. Beverley woon weekliks ’n aanlyn ondersteuningsgroep vir gerehabiliteerde verslaafdes by. Volgens haar is HEAL Ministries se program op Bybelse beginsels gegrond, en die deelnemers help mekaar om ’n skoon en gesonde lewe te lei.

Voggies en vroue

’n Onlangse studie wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onderneem is, het uitgewys dat 20% van alle Suid-Afrikaanse vroue alkohol gebruik, en sowat 32% van dié wend hulle tot binge drinking. Hulle verbruik, met ander woorde, groot hoeveelhede alkohol in ’n kort tydperk.

Die gerehabiliteerde dwelmverslaafde Mandy-Leigh van Aswegen is ’n geregistreerde berader, en sy verduidelik dat daar ’n klompie faktore is wat alkoholverbruik onder vroue kan aanwakker:

• Emosionele en psigologiese spanning: Vroue gebruik dikwels alkohol as ’n hanteringsmeganisme vir stres, angs, depressie of onverwerkte trauma.

• Sosiale druk en normalisering: Die samelewing het alkoholgebruik genormaliseer; dit word makliker aanvaar as ooit. Dié dinge maak dit deesdae vir vroue moeiliker om hul problematiese drankgebruik as ’n besliste probleem te beskou.

• Toeganklikheid en bemarking: Alkohol is wyd beskikbaar en dit word dikwels op maniere bemark wat spesifiek op vroue gerig is. Ook dit dra by tot verhoogde gebruik.

Hoekom drank as ‘selfmedikasie’?

Mandy sê: “Alkoholverslawing, soos enige ander vorm van verslawing, behels nie bloot fisieke afhanklikheid nie, maar dis ook ’n gedragsprobleem. Dit beteken dat dit dikwels spruit uit ongewenste of ongesonde hanteringsmeganismes wat die betrokke persoon aanleer om emosionele pyn, stres of ’n soort tekort te hanteer.”

Dit was juis onverwerkte trauma, vertel Mandy, wat die rede was waarom sy destyds dwelms begin gebruik het. Sy is as tiener verkrag en het later die emosionele pyn met dwelms probeer verdoof.

Sy wys op foutiewe gedragsneigings wat tot alkoholmisbruik kan lei, onder meer:

• Die durende behoefte om ander gelukkig te hou (oftewel people pleasing), al geskied dit ten koste van jouself. Dit kan tot emosionele uitputting lei, en tot die soeke na verligting deur eksterne middels in te neem.

• Mede-afhanklikheid (co-dependency). Dit verwys na die onvermoë om grense te stel, en na ’n oorafhanklikheid van ander se emosionele toestand.

• Die vermyding van konflik of pynlike emosies. Hier leer die betrokkene om pyn te onderdruk eerder as om dit te verwerk.

• Die behoefte aan beheer, en om nie swakheid te wys nie.

Mandy sê: “Al bogenoemde patrone of neigings vorm die grondslag vir selfmedikasie. En dit kan tot verslawing lei. Alkoholmisbruik word dan bloot die simptoom; die kernprobleem lê elders.”

Selfkennis en -insig

Volgens Mandy is selfkennis en selfinsig die vernaamste voorwaarde vir ’n oorwinning oor alkoholverslawing. Hier is die volgende van groot belang:

• Professionele berading of -terapie help om die onderliggende oorsake te identifiseer en om nuwe hanteringsmeganismes aan te leer.

• Herstel geskied nie lineêr nie. En ondersteuning is onontbeerlik, of dit nou deur ’n terapeut of ’n ondersteuningsgroep of ’n mentor gebied word.

• Die betrokke persone moet leer om op ’n gesonder manier “teenwoordig” te wees by hul emosies. Om dit nie te onderdruk of te probeer beheer nie, juis nie deur eksterne middels nie.

Die pad na herstel en soberheid is moeilik, maar dis moontlik. Só klink Willie se aanmoediging in sy boek se slotparagraaf: “Jy is ’n pragtige skepsel van God. Jy is nooit ’n kommerlose en strydlose lewe belowe nie. Soos ons almal is jy kwesbaar. Om gelukkig te wees het jy jou geliefdes en ander nodig. Jy is kragtig en kan jou siekte uitdaag, jy kan nuwe geskiedenis vaslê en ’n nuwe toekoms uitkap. Een dag op ’n slag. Ek weet jy kan.”

Rooi ligte

Mandy-Leigh van Aswegen sê: “Alkoholgebruik word problematies wanneer dit nadelige gevolge vir jou fisieke of emosionele gesondheid het, vir jou verhoudings en werkverrigting, of op ander gebiede in jou lewe.”

Willie Pienaar skryf in sy boek Sober dat die rooi ligte dikwels lánk reeds brand, maar ons kyk eerder anderpad. En dit is ’n groot probleem. Hier is ’n klompie van daardie “rooi ligte”:

  • Jy openbaar ’n onvermoë om op te hou drink, al probeer jy.
  • Jy beleef ’n verhoogde toleransie vir drank. Jy het met ander woorde méér daarvan nodig om dieselfde uitwerking te verkry.
  • Jy beleef onttrekkingsimptome wanneer jy ’n rukkie lank nie gedrink het nie.
  • Jy gebruik alkohol om jou emosies of bepaalde sosiale situasies te hanteer.
  • Jy bestuur onder die invloed.
  • Meer as een van jou geliefdes het reeds hul kommer oor jou alkoholgebruik uitgespreek.
  • Jy voel self skuldig oor jou vorige drinksessie.
  • Jy kom in die gewoonte om alleen te drink.
Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►