Sy het die VSA vir Suid-Afrika verruil, en boonop met ’n Van der Merwe getrou. Nou leef sy haar roeping uit in die land waar haar hart lê. En sy deel haar wedervaringe met al wat leef en beef via Instagram. Met ’n goeie skeut humor daarby.
Toe Haley van der Merwe vier jaar gelede die VSA vir Suid-Afrika verruil het, was dit met die verwagting dat God iets goeds vir haar in gedagte het, hier aan Afrika se suidpunt.
Min het sy geweet dat sy skaars twee maande later haar toekomstige man sou ontmoet en Afrikaans sou leer praat. Én haar avonture hier met ’n blitsig groeiende gehoor op sosiale media sou deel.
‘Humor bind mense saam’
Dié 27-jarige boorling van Oklahoma in die VSA was baie betrokke by ’n klein sendingorganisasie se bediening. Op ’n dag het sy besluit om haar vir ’n onbepaalde tyd in die buiteland te vestig om sendingwerk te doen. “Buiteland” was toe Suid-Afrika.
Sy vertel: “Ek het Francois by die koffiewinkel van die kerk ontmoet waar hy in daardie stadium betrokke was.”
Ná ses maande het hulle verloof geraak, en vandag is sy en die 31-jarige Francois van der Merwe reeds drie jaar getroud. Om met ’n Suid-Afrikaner te trou, het haar planne om as sendeling hier te woon en werk stewig vasgelê.
En haar gewildheid op die sosialemediaplatform Instagram? Sy sê haar profiel was aanvanklik maar doodgewoon, “met sowat vyf honderd volgelinge – vriende, familie en kennisse.
“Ek het vriende in die VSA op hoogte gehou van my doen en late hier, toe een van die videogrepe (oftewel reels) soos ’n veldbrand begin versprei. Binne ’n maand het ek meer as twintig duisend volgelinge bygekry, en dié getal groei steeds.”
Haar plasings op sosiale media is baie gewild, dalk omdat sy haar belewenisse deel met haar tong stewig in haar kies. En omdat sy haarself nie te ernstig opneem nie.
Hoekom humor?
Daar is ’n eenvoudige rede daarvoor, sê Haley. “Humor verbind alle Suid-Afrikaners met mekaar. In ’n land waar daar so ’n groot verskeidenheid volke en tale is, en soveel verdeeldheid, is humor die een ding wat Suid-Afrikaners van alle kulture saambind.”
Raakpunte en nuwe avonture
Sy vertel daar was al vele kere wat sy hardop gelag het oor hoe dinge hier gedoen word. “Die eerste keer toe ek petrol in die motor moes laat tap, het die petroljoggie die motor heen en weer laat wieg. Ek het gewonder: ‘Wat op aarde doen die man?’ Ek het gou agtergekom dis ’n baie algemene gebruik hier.

“Om Afrikaans te leer is ’n groot uitdaging; daar is sóveel woorde en reëls om te onthou. Maar dis ook groot pret. Dis ’n hele avontuur. Op die oomblik is my gunstelingwoorde ‘skelm’ en ‘verskriklik’.”
LEES OOK: Len Muller: ‘Jesus het my lewe gered’
Sy sê sy is nogal verbaas om te sien hoeveel sêgoed Afrikaans en Amerikaanse Engels in gemeen het. “Kleintyd het my pa, wanneer ons by ’n vuur gesit het, gesê die rook trek altyd in skoonheid se koers. Ek het dieselfde soort uitdrukking al hoeveel keer hier ook gehoor. Sulke dinge herinner my op ’n eenvoudige manier daaraan dat daar werklik meer ooreenkomste tussen mense en hul gewoontes bestaan as wat daar verskille is.”
Sedert haar koms na Suid-Afrika het Haley in Krugersdorp en Secunda gewoon, en onlangs het sy en Francois na Linden in Johannesburg verhuis. Tans is hulle verbonde aan die Vida-kerk in Linden.
Die Van der Merwes het vroeër in die bediening by ’n kerk in Secunda gestaan, maar in Januarie 2026 begin ’n nuwe geloofsreis wanneer hulle voltyds as sendelinge in Linden sal werk.
“Dis vir ons ’n groot geloofsprong,” sê Haley, “aangesien ons die Here volkome vir ons finansies vertrou. Voor my troue was ek ’n sendeling en ek is dus vertroud met die proses. Ek weet dis nogal ’n uitdaging om die Here vir maandelikse ondersteuners te vertrou.
“Maar ons glo in sy leiding en dat Hy sal voorsien.”
Uitdagings en grense
Haar lewe hier in Suid-Afrika is eintlik baie eenvoudig, vertel Haley. “Ek is allereers ’n tuisteskepper. Ek sien om na ons huis, ek versorg my man en ons twee honde, en ek maak oor die algemeen seker dat dinge glad verloop.”

Die Van der Merwes se hondekinders heet Rup-Urt, ’n kruising tussen ’n schnauzer en ’n Skotse terriër, en Hilda, ’n Skotse terriër wat maar ’n skrale agt weke oud is.
“Ek is ook by ’n kinderbediening betrokke, en is al langer as tien jaar ’n aanbiddingsleier. Ek het nog altyd gesing, maar meer onlangs het ek agter die klavier ingeskuif.
“Aanbidding is ’n oorweldigende en onvermybare deel van ’n gelowige se lewe saam met Jesus. Dis hoe ons ons liefde aan ons Here verklaar. Dit is hoe ons Hom eer, Hom dien en aan Hom teruggee.
“Uiteraard skep ek ook inhoud vir sosiale media, maar ek probeer dit so natuurlik moontlik hou sodat dit nie te veel van my tyd in beslag neem nie.”
Sy geniet dit om die evangelie aan kinders te verkondig, sê sy. “Kinders is oor die algemeen meer ontvanklik, en hulle staan vas in hul geloof, wat dit ’n absolute vreugde maak om die Woord aan hulle te bedien. Ek is mal oor stories vertel, met volop verbeelding én ’n tikkie drama!”
Wat sê Haley oor kinders en sosiale media?
“Dis noodsaaklik om gesonde grense neer te lê en te handhaaf. Elke ouer sal weet waar sulke grense moet wees. Hulle sal minstens die volgende moet oorweeg: Het my kind werklik ’n selfoon nodig? Moet ’n 12-jarige ’n profiel op sosiale media hê?
“Die gevare – intellektueel gesproke, sosiaal gesproke en dalk ook fisiek – weeg dalk net swaarder as die voordele.”
In dieselfde juk
Haley is in ’n predikantshuis gebore. “Ek stap ’n pad saam met Jesus van voordat ek kan onthou. Hy was nog altyd ’n baie natuurlike deel van my lewe.”
Haar gebed vir Suid-Afrika?
“Dat hierdie nasie sal verenig. Dat daar nie meer verdeeldheid sal wees nie. Nie meer rassisme nie. By God is dit moontlik. Dié wat Hom ken, weet niks is onmoontlik nie.”
Wat sê sy nou, ná die drie jaar saam met Francois, oor ’n huwelik met ’n man uit ’n ander kultuur en ’n ander land?
“Die Woord sê huweliksmaats moet in dieselfde juk trek, en dit is by ons vir seker so. Ons uitkyk op en ons verstaan van die evangelie is baie eenders.”
Daar is wel bepaalde kultuurverskille, erken sy. En dit sorg soms vir uitdagings. “As ’n Amerikaner tree ek dalk meer kortaf op, terwyl Francois vriendeliker is. Ons praat gereeld oor al dié dinge.
“Maar uiteindelik skep ons ons eie kultuur deur mekaar halfpad te ontmoet.”
Haar man is alles waarvoor sy gebid het, vertel sy: “Hy is geduldig, vriendelik, sjarmant, kreatief, aantreklik en saggeaard. En iemand wat my aanmoedig om ‘beter’ te wees.
“Ek is so dankbaar dat ek met hom getrou het, selfs al beteken dit ek het nou een van die mees algemene Afrikaanse vanne in Suid-Afrika!”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.





















