30 Januarie 2021
Dikwels word ons bekende wêreld op sy kop gekeer. Sekerhede wat voorheen ’n deel van ons bestaan was, word in ’n oogwink van ons weggeneem. Maar tydlose beloftes uit die Bybel kan juis in hierdie dae ’n groot bron van troos wees.
DEUR SUSAN GOOSEN
Wanneer jou en almal om jou se vooruitsigte troebel lyk, en jou jaarbeplanning feitlik weekliks verander, kan jy weet dat God se beloftes aan sy kinders vas en seker staan.
In ’n onderstebo wêreld kan hierdie vyf beloftes jou ankers wees:
- God het jou onvoorwaardelik lief
Om lief te hê en om liefgehê te word, is van ons mees basiese behoeftes. Ons wil ervaar dat iemand wat ons intiem ken en van al ons foute bewus is, ons ten spyte daarvan onvoorwaardelik liefhet.
En terwyl ons weet dat mense ons soms gaan faal, en dat selfs diegene wat die naaste aan ons is ons dikwels teleurstel, kan ons weet dat God se liefde vir ons nooit sal verander nie.
Net Hy kan volledig voldoen aan ons behoefte om liefgehê te word. Paulus skryf immers: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:38-39).
- Die oorwinning is reeds behaal
God het nooit aan sy kinders belowe dat die lewe maklik sal wees nie. Ons kan bloot die verhale van die eerste Christene lees om te weet dat vervolging en swaarkry soms ook ons deel gaan wees. Wanneer ons lyding ervaar, of met ons sondige natuur worstel, kan ons hierdie Jesuswoorde vir onsself toe-eien: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33).
LEES OOK: As jy ver van jou geliefdes is: Slim planne vir grootouers
Ons word later ook hiéraan herinner: “Enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal, is deur ons geloof” (1 Joh 5:4).
Ons is nie die gevangenes van sonde of van die sondige wêreld nie. In Jesus Christus is ons sonde vergewe en in sy Naam kan ons as oorwinnaars lewe.
- God kan wat sleg is in iets positiefs verander
God werk sedert die sondeval aan ’n herstelplan vir die wêreld. Paulus verseker ons hiervan as hy sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28).
Ons word geroep om aan God gelykvormig te wees, en Hy kan deur sy almag selfs die negatiewe dinge in ons lewe in iets goeds verander sodat dit uiteindelik tot sy eer sal wees. Ons kan vashou aan die belofte wat Hy aan Paulus gemaak het: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor 12:9).
- Ek is nooit alleen nie
Die Hebreërsskrywer vertel: “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?’” (Heb 13:5).
Selfs wanneer ons in dié dae as gevolg van inperkingsmaatreёls van mekaar geskei is en alleen voel, kan ons weet dat God deur sy Gees in ons lewe betrokke is. Hoor dan weer Dawid se geliefde woorde: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps 23:4).
- God luister wanneer ek bid
Die Chinese kerkleier en skrywer Watchman Nee het op ’n keer gesê: “Our prayers lay the tract down which God’s power can come. Like a mighty locomotive, his power is irresistible, but it can not reach us without rails.”
Jesus belowe sy volgelinge: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh 14:13).
En gelowiges ken hierdie versekering wat Paulus gee: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6).
Ds Fay van Eeden, predikant by die NG gemeente Stellastraat, moedig gelowiges aan om in die nuwe jaar meer bewustelik te leef en om bogenoemde ankers ’n deel van ons daaglikse doen en late te maak.
Sy sê: “Ons kan so maklik deur die lewe, ons verantwoordelikhede en take meegesleur word dat ons vergeet om in God se teenwoordigheid te leef en om sy beloftes te oordink. Ons raak so vasgevang in ‘doing’ dat ons van ‘being’ vergeet. Ons is tog ‘human beings’ en nie ‘human doings’ nie.
“In ’n jaar wat waarskynlik net so uitdagend soos 2020 gaan wees, word God se kinders opnuut genooi om met ’n groter bewustheid van God se teenwoordigheid te leef. Ons kan so maklik oppervlakkig lewe en onsself nooit die geleentheid gun om dieper in ons emosies ‘in te sak’ nie. Ons het almal, in ’n mindere of meerdere mate, verlede jaar verlies ervaar, en ons het dit nodig om hieroor te rou voordat ons dit uiteindelik kan verwerk en aanvaar.
“Een manier waarop ons dit kan doen, is om stilte ’n deel van ons lewe te maak, doelbewus, selfs al is dit slegs ’n paar minute op ’n dag. In hierdie stiltetyd kan ons dan God se beloftes oordink, bewus word van sy teenwoordigheid, en ons vrese en vreugdes met Hom deel.”