Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wanneer woede jou baas word

Paulus skryf: “Word kwaad, maar moenie sondig nie” (Ef 4:26, 2020-vertaling).

Die eerste gedeelte van dié vers klink na ’n soort aanmoediging. Vreemd, nè? “Word kwaad …”

Maar ja, ons word daaraan herinner dat ons mag kwaad word, dat dit selfs goed kan wees om kwaad te word. Daar is egter ’n waarskuwing daarby: Wanneer jy kwaad word, moenie sondig nie.

LEES OOK: Dankie vir oorvloedige genade!

Konstruktiewe woede

Daar is nie ’n gebrek aan woede in die wêreld nie. Inteendeel. Om elke vleisbraaivuur is mense wat uiting gee aan hul woede. Oral vind ons woede. Elke dag beleef ons padwoede. Ons sien mense wat kwaad is wanneer hulle moet wag: in ’n winkel, in die bank, by staatsdepartemente, vir ’n bus of ’n trein.

En wat van dié wat gal afgaan op sosiale media? Wat haatspraak pleeg?

Dis ’n soort woede vol woorde en emosie, maar wat geen oplossings bied nie.

Daar is ook ’n ander soort: Dis die woede wat ons ervaar wanneer ons ongeregtigheid sien. Korrupsie, die ongelykhede in ons samelewing, die gebrek aan water en elektrisiteit. Werkloosheid, gebrekkige dienslewering. Armoede, waar jy ook al kyk. Weerlose mense wat misbruik en mishandel word. Ons word bitter kwaad wanneer mense wat reeds min het ál minder ontvang, terwyl dié wat reeds baie het ál meer vir hulleself opeis. Ons is kwaad omdat ons vertroue verloor het in die stelsels wat ons moet beskerm.

Ja, daar is oorgenoeg om oor kwaad te wees. Maar wat doen ons met dié woede?

Om weens laasgenoemde redes kwaad te word, is noodsaaklik. Slegs deur ’n konstruktiewe soort woede kan verandering teweeggebring word. Dit laat ons nadink oor die samelewing waarin ons ons bevind. Dit laat ons wonder hoe ons dit ten goede kan verander. Uiteindelik laat dit ons saamstaan met ander wat dink soos ons dink. En ons tree daadwerklik op.  

Die alternatief is om nié kwaad te word oor die tierende ongeregtigheid nie, en om die risiko te loop om mettertyd apaties, onverskillig of afgestomp te raak.

Twee soorte woede

Die een soort woede lei tot sonde, en die ander een dring jou tot positiewe optrede. Hier dink ons dikwels aan Jesus wat die duiweverkopers en geldwisselaars op die tempelplein weggejaag het (Matt 21:12-13). Jesus het die ongeregtigheid raakgesien wat die armes en die weerloses getref het. En Hy het iets daaraan gedoen.

Wanneer ander mense sleg behandel word of wanneer ongeregtigheid seëvier, is woede en verontwaardiging die gewenste emosies. Maar spoor hierdie woede jou aan om die kwaad met die goeie te oorwin? Of oorwin die kwaad jou?

Hoor die einste Paulus se waarskuwing: “Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie” (Rom 12:21). Want woede is ’n intense emosie. Dit neem beheer oor van jou gedagtes en jou liggaam. Dit volg die veg-of-vlug-pad in jou brein en wil jou beskerm.

Maar dit kan jou ook tot wraak dryf, en die regverdiging van jou verkeerde optrede. Wanneer kwaad te lank by jou vertoef, kry dit ’n houvas op jou en kan dit tot gevolg hê dat jy die mense om jou seermaak. 

Ten slotte: Woede kan gevaarlik wees as dit nie deur die regte kanale beweeg nie. ’n Belangrike vraag wat jy vir jouself moet beantwoord, is of jy weet waar jou woede vandaan kom, en of dié woede nie dalk vererger word deur jou eie wonde en vooroordele nie.

Woede kan jou verblind en jou negatief maak; dit kan ook tot eerlikheid en verandering lei. Jy kan jou woede hieraan toets: Wanneer die oorsprong liefde is, is dit meestal geregverdig.

Gebruik dus jou woede as aansporing om genesing en bevryding te bring. Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het gewys dat liefde die kwaad oorwin. En in sy liefde is enigiets moontlik.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.