Nou die dag, tydens ons gemeente se Aswoensdagdiens, is Psalm 51 voorgelees. Dis Dawid se boetelied nadat die profeet Natan hom oor sy verhouding met Batseba gekonfronteer het. Dis ’n rou en eerlike bekentenis van iemand wat innig jammer is oor wat hy gedoen het, en wat opnuut besef hoe sondig hy werklik is.
Skuldig, en tog …
Terwyl ek na dié psalm luister, voel ek, soos Dawid, oorweldig deur skuldgevoelens. Soos hy, is my gees gebroke en my hart verpletter. Ek is diep bewus van die sonde wat ek reeds gedoen het, en van dié wat ek elke dag doen. Dit voel kompleet asof ek daarin verdrink.
Maar ek beleef ook die paradoks: Terwyl ek akuut bewus is van my sondige natuur en van hoe dikwels ek misluk, ervaar ek hoe groot God se genade is. Genade is die reddingsboei wat na my gegooi word wanneer ek weet dat ek aan ’t verdrink is.
Opeens verstaan ek alte goed hoe Paulus voel wanneer hy skryf: “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom 7:21-24).
Dit is ek
Ék is daardie ellendige mens. Ek kan nie die sonde oorwin nie. Daar is sommige sondes wat ek sukkel om af te skud. Ek trap dikwels in dieselfde strik.
En dit terwyl ek, namate ek geestelik groei, bewus word van sondes wat ek nie eens geweet het ’n houvas op my lewe het nie. Ek besef goed wat Dawid bedoel toe hy gesê het: “Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie” (Ps 10:13).
Ons is blind vir ons eie foute en verval in sondepatrone wat elke dag herhaal word, dikwels sonder dat ons dit besef.
Oorvloedige genade, wat steeds toeneem
My swakhede, en die foute wat ek maak, hou my bewus van hoe groot God se genade werklik is. Dit maak my opreg dankbaar vir wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het. Daarom dat Paulus in Romeine 5:20 kan sê: “Namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword.”
Dis nie noodwendig dat ek “sondiger” geword het nie, maar die bewustheid van my sonde het toegeneem. En ek kan verwag dat dit my hele lewe lank so sal wees. Dit is tog wat heiligmaking behels. In die krag van die Heilige Gees word die kreukels een ná die ander uitgestryk.
Wanneer die as-kruis op my voorkop aangebring word, dink ek juis hieraan. Só leer ek iets van die grootsheid van die genade-geskenk waaroor ons in Lydenstyd nadink. En ek dink aan hoe diep my sonde strek, en wat dit beteken dat ek in vele opsigte sondig waarvan ek nie eens bewus is nie.
Ek leer ook dat die genade in gelyke mate in oorvloed toeneem. Die betekenis van genade verdiep in my wese en verander my lewe. Uiteindelik beantwoord Paulus sy eie vraag oor wie hom van sy doodsbestaan verlos: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom 7:25).
Later voeg hy by: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom 8:1).
Mag jy oorvloedige genade ervaar wanneer jy in hierdie Lydenstyd nadink oor wat Jesus vir ons gedoen het.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.