Die geboorte van julle baba is beslis lewensveranderend. Daar is vreugde én verdriet, daar is moeilike nagte en maklike glimlagte. Maar wat maak jy as jou vrou aan nageboortedepressie ly? Daardie gevoelens van depressie, moedeloosheid en hopeloosheid? Hoe ondersteun jy haar? En kan jou ondersteuning haar simptome verlig?
In hierdie artikel gee ons raad oor hoe om jou vrou te ondersteun as sy aan nageboortedepressie ly.
Watter soort emosies is normaal by my vrou?
Meeste ma’s voel huilerig, angstig of buierig in die eerste paar weke nadat ‘n baba gebore is. Dit is normaal en te wagte. Dit staan as die “baby blues” bekend.
Maar sommige vroue ervaar hierdie emosies vir baie langer, en dit kan moontlik nageboortedepressie wees. Sommige ma’s beleef ook depressie vóór die geboorte. Daar word dikwels van perinatale depressie gepraat – gevoelens van depressie voor en na die geboorte.
In rare gevalle kan vroue aan nageboortepsigose ly – ‘n mediese noodgeval waar die ma se sin van realiteit aangetas word. Sy kan hallusineer, paranoïes raak of sy kan probeer om haarself of haar baba leed aan te doen. Dié toestand kan behandel word en is omkeerbaar.
Dit is belangrik om te weet dat nageboortedepressie nie ‘n teken van ‘n swak karakter of ‘n swak ma is nie. Dit is bloot ‘n komplikasie rondom die geboorteproses, en kan met behandeling verlig of genees word.
Wat is die simptome van nageboortedepressie?
Die Amerikaanse Departement van Gesondheid lys die simptome van nageboortedepressie as volg:
- ‘n Konstante hartseer of angstigheid. Of ‘n gedurige gevoel van “leegheid”.
- Geïrriteerdheid.
- Skuldgevoelens of ‘n gevoel dat jy geen waarde het nie. Gevoelens van hopeloosheid of hulpeloosheid.
- Geen belangstelling of plesier meer in stokperdjies of ander aktiwiteite nie.
- Moegheid of ‘n abnormale afname in energie.
- ‘n Rustelose gevoel of ‘n onvermoë om stil te sit.
- Probleme met konsentrasie, geheue of om besluite te neem.
- Slapeloosheid, selfs al slaap haar baba. Wakker word vroeg in die oggend of om te verslaap.
- ‘n Buitengewone eetlus of ‘n dramatiese gewigsverandering – of beide.
- Pyne en skete, soos hoofpyn, krampe, spysverteringsprobleme wat geen fisiese oorsaak het nie en nie deur behandeling verlig word nie.
- Sy vind dit ‘n uitdaging om ‘n emosionele band met die nuwe baba te vorm.
- Onophoudelike twyfel oor haar vermoë om die nuwe baba te versorg.
- Gedagtes oor die dood, selfdood of om haarself of die baba leed aan te doen.
Dit is belangrik om te weet dat slegs ‘n mediese praktisyn ‘n ma kan help vasstel of die simptome en gevoelens wat sy beleef wel nageboortedepressie is. Indien ‘n ma dus enige van die bogenoemde simptome beleef, is dit raadsaam om met ‘n kundige persoon te gesels.
Lees ook die artikel, “Hoe lank kan ek nageboortedepressie hê?”
Hoe kan ek iemand help met nageboortedepressie?
Wanneer daar ‘n veilige ruimte geskep word vir ‘n vrou om oor haar emosies te praat, help dit reeds om simptome van nageboortedepressie te verlig. Vir haar om te voel dat iemand regtig luister, kan die wêreld se verskil maak.
Moedig jou vrou aan om die volgende te doen om haar simptome te verlig:
- Help haar om soveel as moontlik rus te kry.
- Bied jou hulp aan om byvoorbeeld met huistake te help wat sy andersins self moet behartig.
- Laat haar insien dat dinge nie in hierdie seisoen perfek gaan wees nie. Help haar om te fokus op dít wat wel goed afloop en vir julle vreugde verskaf.
- Gun haar tyd om met vriende en familie te spandeer.
- Luister. Jy hoef nie raad te gee nie. Luister net.
- Vind uit of daar ‘n ondersteuningsgroep by julle kerk of in die gemeenskap is waarvan sy deel kan raak.
- Help haar om oefening te kry, al is dit net om met die stootwaentjie om die blok te gaan stap.
- Probeer om nie groot veranderinge in hierdie tyd te maak nie, want dit kan haar net meer laat stres.
Wat kan ons doen om nageboortedepressie te verlig?
’n Hegte band met jou baba lig swaar gevoelens
Moedig jou vrou aan om ‘n band met julle nuwe baba te vorm. Sy kan dit doen deur julle baba kaal teen haar vel te laat lê. Sulke aanraking doen wondere vir baba en mamma. Jy as pa kan dit ook doen en sodoende die band tussen jou en jou kind versterk.
As ‘n ma haar baba masseer of vir die baba sing, vorm dit ook ‘n hegte band. Navorsing het bewys dat wanneer ‘n ma haar baba sien glimlag, daar dopamien in ‘n ma se brein vrygestel word. Dit gee ‘n natuurlik goedvoel hupstoot vir die ma. Hou die baba naby jou gesig en glimlag vir hom/haar. Dit behoort ‘n glimlag te ontlok. Baba’s begin gewoonlik tussen 6 en 12 weke oud te glimlag.
’n Gesonde leefstyl hou depressiesimptome in toom
Dit is baie makliker om saam met iemand gesonde gewoontes te kweek. Jy en jou vrou kan saam besluit om die volgende te doen:
Eet Omega-3 olies. Hierdie vetsure kan die risiko van nageboortedepressie verlaag en word selfs ingespan om dit te behandel.
Kry genoeg rus. Maak beurte om na die baba te kyk, indien moontlik. Onderbroke slaap kan bydra tot nageboortedepressie. Daarom is dit belangrik vir ‘n ma om op enige moontlike manier goeie slaap in te kry.
Kom in die son. ‘n Bietjie blootstelling aan die sonlig en vars lug kan wondere doen om die gemoed te lig. Om saam met iemand te oefen is makliker as om dit alleen te doen. Neem jou vrou uit vir ‘n stappie so gereeld as wat julle kan.
Bederf haar. Gee vir jou vrou tyd om ‘n borrelbad te neem of ‘n kans om haar gunsteling TV-program te kyk. Miskien kan jy kerse aansteek en die baba vir ‘n rukkie oppas. Dalk ‘n gunstelingtydskrif vir haar aankoop en tyd gee dat sy dit kan lees.
’n Ondersteuningsnetwerk verlig die simptome van nageboortedepressie
Ons is sosiale wesens, en kan baie van ons swaar laste afgooi bloot deur dit met ons vriendekring te deel – die plek waar ons veilig en vertroud voel.
‘n Ma het egter nie ‘n groot netwerk van vriende en familie nodig om ‘n effektiewe ondersteuningsnetwerk te hê nie. Net ‘n handjievol vriendinne, wat dalk ook ma’s is, kan help om daardie ondersteuningsnetwerk te vorm.
Moedig jou vrou aan om met ander ma’s kontak te maak, al is dit moeilik. Dit neem tyd om nuwe vriendskappe te vorm.
Kry mediese hulp as nageboortedepressie te swaar las word
Indien julle reeds die bogenoemde gedoen het, en jou vrou se gevoelens van depressie nie wil wyk nie, gaan sien ‘n dokter. Mediese ingryping behels terapie deur ‘n sielkundige of berader. ‘n Dokter kan ook antidepressante voorskryf, en sal die effek daarvan op borsvoeding verduidelik.
Onthou, nageboortedepressie is ‘n toestand wat behandel kan word. Moedig jou vrou aan om te praat oor haar gevoelens, en luister met ‘n oop gemoed. Vier die feit dat julle ‘n nuwe lewe mag versorg, en hanteer die uitdagings as ‘n span.