Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Watter Bybeldagboek kies ek vir die nuwe jaar?

Vir baie mense is ’n Bybeldagboek ’n intieme deel van hul geloofslewe. Met die wye verskeidenheid dagboeke op die winkelrak beskikbaar, hoe kies ek een wat nommerpas is vir my en my behoeftes?

Dit is net mooi 100 jaar sedert ’n Kaapse NG dominee, Attie van Wijk, die idee gekry het om kort stukkies verklarende gedagtes te plaas by die teksverse op die kerkkalender wat hy toe reeds jare lank uitgegee het.

So gesê, so gemaak.

En só het Attie van Wijk se Overden­kingen 1 en 2 die voorloper geword van die boek wat sedert 1929 bekend staan as Uit die Beek, die oudste Afrikaanse Bybeldagboek.

LEES OOK: Wie is Hy, hierdie Heilige Gees?

Susan Jordaan, uitgewer by Lux Verbi, vertel dat Uit die Beek, ná al die jare, steeds ’n topverkoper is.

Ook dagboeke deur ’n geliefde teoloog soos dr Stephan Joubert is baie gewild, asook dié van skrywers soos Susan Coetzer en Milanie Vosloo en Lizette Murray.

Daar is dagboeke vir jong mense en vir ouer mense, vir mans en vir vroue en vir egpare. Ook vir sakeleiers en tieners. Susan sê verskillende mense het verskil­lende behoeftes. Ouer mense, byvoor­beeld, sal eerder ’n boek met ’n groter lettertipe oorweeg; ’n besige ma vra vir korter dagstukkies.

‘Word stil voor jy kies’

Iemand wat goed weet hoe persoonlik die keuse van ’n Bybeldagboek is, is dr Barend Vos, NG predikant en skrywer. Hy was die afgelope sewe jaar die skry­wer van Uit die Beek.

Sy raad is: “Stel allereers vas of die betrokke skrywer jou help om die Bybel se boodskap te hoor.”

Hy sê jy moet tuis voel by die boek. “Dit moet vir jou as ’t ware voel dat die skrywer langs jou kom sit en saam met jou deur die Bybel lees en saam met jou na die boodskap soek.”

Daarom beveel hy aan dat voor-nemende kopers van ’n Bybeldagboek eers ’n rukkie stil word tussen die boek­winkel se rakke, dat hulle tydsaam deur ’n boek blaai en ’n dagstukkie of twee met aandag lees. “Só sal jy dalk ’n goeie aanduiding kry of dié betrokke boek vir jou geskik sal wees.”

Oor mooi gedagtes, of oor God?

Mense vertel mooi stories wanneer hulle uitwei oor wat ’n Bybeldagboek vir hulle beteken. Susan Coetzer vertel van die Amerikaanse skrywer Joyce Meyer se New Day, New You, ’n boek wat sy al meer as een keer deurgewerk het.

Sy sê dié boek het haar gehelp om haar geloof prakties te begin uitleef.

Baie mense onthou hoe hul ouers of grootouers Uit die Beek vir hulle voorge­lees het. Daar is ook dié wat grootgeword het met Maretha Maartens of Solly Oz­rovech se Bybeldagboeke, wat dit straks as ’n verjaardag- of Kersgeskenk ontvang het.

Die einste Maretha Maartens vertel hoe sy as student Oswald Chambers se klassieke Bybeldagboek My Utmost for His Highest gelees het. Dié veelsydige en bekroonde skrywer sê Chambers se kernagtige uitleg van bepaalde Skrifge­deeltes het vir haar, toe sy nog jonk was, die toerusting verskaf waarmee sy die volwasse lewe kon betree.

Maretha sê dat as sy vandag vir haarself of vir haar kleindogters ’n Bybeldagboek as Kersgeskenk uitsoek, sy ’n boek kies wat teosentries is, waarin elke dagstuk­kie ’n Skrifgedeelte uit die Ou- of Nuwe Testament belig. God die Vader, die Seun en die Heilige Gees moet in elke dagstuk aanvoelbaar aanwesig wees, anders is die inhoud weinig meer as die verkondiging van positiewe denke.

Vinnige inspirasie, of behoor­like Bybelstudie?

Alle Bybeldagboeke het temas. Susan Coetzer se Lekkergoed vir die lewe, byvoorbeeld, bevat etlike praktiese wenke oor hoe om jou geestelike veerkragtigheid uit te bou. Dis ook vol humor.

Susan vertel dat sy die boek geskryf het vir mense wat die Here en sy liefde in hul lewe wil ervaar. Dit is dus nie ’n dagboek wat ’n vaste leesrooster deur die Bybel volg soos Uit die Beek nie.

“Daar is ’n plek vir al twee benade-rings,” reken ds Lambert Jacobs, ’n NG predikant in Stellenbosch, wat vroeër ook ’n uitgewer was. Hy sê dat ’n baie besige mens dalk juis ’n Bybeldagboek wil hê met kernagtige, motiverende gedagtes, een wat jy vinnig kan nader trek voor die vol dag begin.

Maar, sê Lambert, as ’n Bybeldagboek vir jou ’n Bybelstudie-hulpmiddel is, is dit goed om een te kies wat langer en meer omvattend by een Bybelboek vertoef.

Dis ook vir hom belangrik om agter te kom dat die betrokke skrywer met die Bybelteks “gestoei” het. “Want,” voeg hy by, “wanneer skrywers hul eie swakheid voor die Here blootlê, kan ek daarmee identifiseer.”

Die gevaarlike ‘versie-kultuur’

Bybellesers, juis ook dié wat op soek is na ’n geskikte Bybeldagboek vir die nuwe jaar, moet weet dat verse en hoofstukke relatief onlangs tot die Bybelteks gevoeg is. Dis gedoen om die lees van en die verwysings na hierdie kosbare eeue oue geskrifte te vergemaklik.

Dié latere toevoeging maak die vind van ’n geliefde vers probleemloos; almal kan gou na Psalm 23:1 blaai of Johannes 3:16 opspoor. Die gevaar bestaan egter dat Bybellesers, deur bloot op hul guns-telingverse te fokus en dit dan buite die breër verband lees, die groter, ryker bood­skap misloop.

Barend sê: “Op dié manier kan ons ons Bybel ‘papierdun’ maak. Die versie-kultuur het gelowiges oneindig armer gemaak as wat die Here bedoel het die hoorders van sy Woord moet wees. Sulke lesers loop die gevaar om op ’n syspoor te beland, of selfs die spoor heeltemal byster te raak.”

‘Hoor jy God se liefdevolle stem?’

Dit is so dat dit nie altyd maklik is om die Bybel te lees en te verstaan nie. Dink maar aan die erge wreedheid en die talle onverklaarbaarhede. En die soms bitter vreemde kulturele gebruike, waaroor ons deesdae eintlik net ons kop kan skud. Soms wonder ons selfs of daar nie plek-plek ’n ouderdomsperk by (veral) sommige Ou Testament-gedeeltes aangebring moet word nie …

Die dominee-skrywer en blogger ds Jaco Strydom praat in dié verband van die “nagstukkies” in die Bybel.

Susan Coetzer sê wel dat sommige van die “nagstukkies” vir haar sin maak. “Tye van oorvloed én verlies is deel van die lewe,” sê sy. “Ons sien dit in die natuur – die wisseling van die seisoene, die eb en vloei van die getye, die maan se siklusse. Ook in Jesus se lewe, Hy wat ’n pad vol glasskerwe moes trotseer, tot by ’n wrede kruisdood.”

Daarom, sê Susan, skryf sy in haar By­beldagboek ook oor daardie nagstukkies, want alle gelowiges moet groot uitdagings trotseer. Só wil sy lesers bemoedig en vir hulle sê dat hulle nie alleen is nie. Wil sy hulle daaraan herinner dat Jesus hul lyding goed verstaan. “Hy is empaties. Deur sy Gees is Hy by jou. Hy ondersteun jou in daardie eensame, donker tye.”

Dis nooit maklik om die Here se “nee” te hoor, of om tot stilstand te kom voor ’n deur wat Hy toegemaak het nie. “Maar,” sê Barend, “as ons glo in ’n God wat ons liefhet, sal ons die ‘nagstukkies’ omhels as verdere aanduidings en selfs bewyse van sy deernis.”

Daar word soms gesê dat die Bybel die Skepper se liefdesbrief aan sy skepsels is. By die oorweging van ’n geskikte Bybel-dagboek moet jou eerste vraag aan jouself dalk wees of jy daardie liefde en deernis in die dagstukkies én die nagstukkies kan hoor.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF