Die verskillende ouerskapstyle, en watter een onafhanklikheid bevorder
Volgens kenners is daar hoofsaaklik vier ouerskapstyle. Die outoritêre ouerskapstyl met streng reëls en ‘n ouer wat gesag uitoefen sonder om die kind se gedagtes en emosies in ag te neem. Die gesaghebbende styl waar die ouer ondersteunend en versorgend is, maar steeds streng reëls neerlê. Daar is ook die permissiewe styl waar die ouer meer ‘n vriend-rol inneem en die onbetrokke styl waar die ouer ongeëerg teenoor hulle kind staan.
Lees oor verskillende ouerskapstyle hier.
Al die ouerskapstyle het sy unieke aanslag en daarmee saam ‘n invloed op jou kind se ontwikkeling. Kenners meen dat ‘n gesaghebbende ouerskapstyl onafhanklikheid in ‘n kind bevorder.
Natuurlik wil ons as Christenouers ons kind help om gesond, gebalanseerd en onafhanklik te wees. Maar ons wil hulle ook leer om op God te vertrou. Hiervoor is dit nodig vir ‘n ouer om vastigheid en sekuriteit te bied.
In die artikel Van helikopter-ouer tot ligtoring-ouer skryf Dr. Tim Elmore oor die belangrikheid daarvan om kinders voor te berei vir die lewe in stede daarvan om hulle daarvan te beskerm. Hy stel voor dat ouers kinders moet toelaat om kanse te vat sodat hulle kan leer hoe om God te vertrou en op Hom staat te maak soos hulle ouer word.
Die gesaghebbende ouerskapstyl ontwikkel onafhanklike kinders
Gesaghebbende ouers is ondersteunend, koesterend en ingestel op hulle kinders se behoeftes. Hierdie ouers verduidelik reëls, bespreek die redes daaragter en onderhandel selfs daaroor sodat hulle kinders begelei kan word tot onafhanklike volwassenes met goeie waardes.
Die ouers stel duidelike reëls en verwagtinge aan hulle kinders, maar met begrip en buigbaarheid. Hulle luister na ‘n kind se opinie, maar aanvaar dit nie goedsmoeds nie. Ouers laat ook toe dat natuurlike gevolge as ‘n leermeester dien, sodat kinders daaruit kan leer.
Kenners meen dié styl van ouerskap het tot gevolg dat kinders onafhanklik, selfonderhoudend en sosiaal goed aangepas is. Kinders wat die sekuriteit van duidelike reëls ervaar, en boonop ‘n ouer se liefdevolle versorging ontvang, raak kinders wat goeie selfbeheer toepas en vir hulleself kan dink.
Kinders met ouers wat ’n gesaghebbende ouerskapstyl het, floreer
Oor die algemeen is die gesaghebbende styl een van die ouerskapstyle wat die meeste onder middelklas-gesinne voorkom. Navorsing dui aan dat kinders regoor die wêreld wat met hierdie styl grootword, beter in die lewe vaar. Al is dit slegs een ouer se styl.
Soos reeds genoem, sal kinders met gesaghebbende ouers baie meer waarskynlik onafhanklike kinders en grootmense word. Hulle pas gemaklik in op sosiale vlak, is akademies suksesvol en ook goedgemanierd. Hierdie kinders het laer vlakke van angs en toon oor die algemeen nie tekens van depressie nie. Die waarskynlikheid dat hulle in anti-sosiale gedrag soos misdaad en dwelmmisbruik verval, is baie laer.
Omdat kinders die nabyheid en ondersteuning van hulle ouers nodig het, en ‘n gesaghebbende styl juis in hierdie behoefte voorsien, lei dit tot baie voordele vir ‘n kind. Kinders wie se ouers graag op hulle reageer en hulle vertroos, floreer op emosionele-, kognitiewe- en gedragsvlak.
Helikopter- vs. Lighuis-ouers: Onafhanklikheid en gesonde waardes by kinders
Tim Elmore, ‘n opvoeder wat fokus op leierskapsontwikkeling onderskei tussen twee soorte ouers: Dié wat soos ‘n helikopter al om die kind sirkel en die kind oorbeskerm en in elke situasie tot sy/haar redding kom. En ‘n ligtoring-ouer wat vir die kind ‘n baken en rigtinggewer is.
As jou kind ‘n kleuter is, is dit nodig om gedurig by hom/haar te wees. Maar soos jou kind ouer raak, is dit nodig om ‘n bietjie terug te staan en die kind sy eie voete te laat vind.
Helikopter-ouers probeer hulle kinders beheer en is gedurig rondom hulle. Hierdie ouers beveel kinders om op ‘n spesifieke manier op te tree. Hulle dwing reëls en voorskrifte af.
Lighuis-ouers loer in by hulle kinders en kommunikeer helder. Hulle sal nie agter kinders aanjaag net om reëls af te dwing nie. Hierdie ouers maak dit duidelik aan kinders waar hulle met mekaar staan. En bo alles, gee hierdie ouers aan hulle kinders wysheid en begelei hulle.
Lighuis-ouers laat toe dat hulle kinders sukkel
Een ding wat ‘n lighuis-ouer goed regkry, is om hulle kinders te laat sukkel. Ja, swaarkry is nie net ‘n slegte ding nie.
Die Bybel herinner ons hieraan in Jakobus 1:2-4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
“Ons kinders gaan nie op ‘n gesonde manier volwasse word as ons hulle nie toelaat om vreesaanjaende situasies en uitdagende ervarings te navigeer nie,” sê Tim. “Kinders moet berekende risiko’s neem om volwasse te raak.”
Ons moderne wêreld is só opgestel dat ons die grootste moontlike gemak kan ervaar, en dan dink ons dat enige vorm van sukkel of ongemak vermy moet word. Ouers weet dat ‘n goeie selfbeeld belangrik is, maar ons vergeet dikwels dat dit juis deur uitdagings gebou word.
Tim meen dat, wanneer ouers hulle bes probeer om alle moontlike struikelblokke uit ‘n kind se lewe te probeer ruim, ons hulle inderwaarheid hulpeloos maak. “Ons kinders verloor dan die geleentheid om veerkragtigheid, kreatiwiteit en probleemoplossingsvaardighede aan te leer.”
Onafhanklike kinders kan op hulle eie voete staan
Ouerskap vra baie wysheid. Wanneer ons die gesaghebbende ouerskapstyl toepas, en ook die wysheid het om kinders self dinge te laat doen, help ons ons kinders om op hulle eie voete te staan.
Uiteindelik maak ons nie kinders groot wat soos eilande onafhanklik van enige mens staan nie. Maar, met die hulp van God, rus ons ons kinders toe om met vertroue in God hierdie lewe aan te pak en voorbereid te wees op die uitdagings wat oor hulle pad mag kom.
Bronne geraadpleeg:
https://www.vitanova.co.za/the-importance-of-attachment-a-must-read-for-every-parent/
https://www.vitanova.co.za/jou-kind-se-emosionele-behoeftes-en-die-grootste-hiervan-is-die-liefde/
https://www.focusonthefamily.com/parenting/from-helicopter-parent-to-lighthouse-parent/
https://www.focusonthefamily.com/parenting/when-helping-our-kids-doesnt-help/