Ouerskapstyle en hoe dit jou kind kan help om ’n gesonde, gebalanseerde grootmens te word
Die rol van ouerskapstyle in kinder ontwikkeling
Meeste ouers se mikpunt is om hulle kinders op te voed om eendag gesonde, gebalanseerde volwassenes te word. Ons wil ons kinders ondersteun op daardie pad om ’n grootmens te word wat emosioneel gesond is, goeie menseverhoudings handhaaf en op sy eie voete kan staan. Hier kyk ons na vyf ouerskapstyle en watter invloed dit op jou kind se ontwikkeling het.
Diana Baumrind, ‘n ontwikkelingsielkundige, het in die 1960’s drie van hierdie style geïdentifiseer. Later het Stanford navorsers Eleanor Maccoby and John Martin ‘n vierde styl bygevoeg. Ons voeg ‘n vyfde ouerskapstyl by, en kyk na die gevolge van elkeen op ‘n kind.
Volgens ’n artikel deur Jessup University word daar vier tipe ouerskapstyle beskryf: outoritêr, gesaghebbend, permissief en onbetrokke. Daar is ook die oorbetrokke ouerskapstyl.
Ouerskapstyl #1 | Die outoritêre ouer
Die outoritêre ouerskapstyl pas baie streng reëls toe, en die ouer verduidelik nie waarom spesifieke reëls geld nie. Outoritêre ouers stel hoë standaarde aan hulle kinders en duld nie foute nie. Foute lei tot straf.
Hierdie styl se algemene kenmerke is soos volg:
- Kommunikasie geskied hoofsaaklik in een rigting: Van die ouer na die kind. Dit duld nie insette van die kind nie.
- Dit neem nie die kind se gevoelens in ag nie, en ook nie sosio-emosionele- of ander behoeftes nie.
- Ouers met hierdie styl sê dikwels: “Omdat ek so sê!” wanneer ‘n kind die rede agter ‘n reël of ‘n gevolg wil uitvind.
Die invloede wat ’n outoritêre ouerskapstyl op ’n kind kan hê:
- Só ‘n kind vind dit moeilik om self besluite te neem.
- Die kind sukkel om tussen reg en verkeerd te onderskei.
- Sulke kinders het ‘n lae selfbeeld, en soek dikwels hulle waarde van gesagsfigure.
- Hierdie kinders kan hoër vlakke van aggressie toon, asook skaam en sosiaal onbeholpe voorkom.
- Ouers se baie streng reëls en straf kan maak dat kinders later teen gesagsfigure rebelleer.
Ouerskapstyl #2 | Die gesaghebbende ouer
Volgens die Amerikaanse Sielkundevereniging is ouers met hierdie styl ondersteunend; hulle koester hul kinders en is baie bewus van hulle kinders se behoeftes. Hierdie ouers verduidelik reëls, bespreek redes daarvoor en redeneer selfs daaroor ten einde kinders te lei en op te voed in sekere waardes.
Hierdie styl se algemene kenmerke is soos volg:
- Gesaghebbende ouers luister na ‘n kind se opinie, maar aanvaar dit nie goedsmoeds nie.
- Die ouers stel duidelike reëls en verwagtinge aan hulle kinders, maar met begrip en buigbaarheid.
- Die ouers kommunikeer gereeld deur na hulle kinders te luister en hulle gevoelens en opinies in ag te neem.
- Natuurlike gevolge dien as leermeester sodat kinders kan reflekteer en leer daaruit.
’n Gesaghebbende ouerskapstyl kan ’n kind só beïnvloed:
- Kenners meen dié styl van ouerskap het tot gevolg dat kinders onafhanklik, selfonderhoudend en sosiaal goed aangepas is.
- Hierdie kinders is geneig om vriendelik, vol energie en vreugdevol te wees.
- Hulle is nuuskierig oor dinge, werk graag saam en is prestasiegedrewe.
- Hulle kan selfbeheer toepas, is selfgedissiplineerd en kan vir hulleself dink.
- Hierdie kinders het ‘n goeie selfbeeld en kan verantwoordelikheid hanteer.
- Hulle kan self uitpluis hoe om uitdagings te oorkom en is selfversekerd in hulle eie oordeel.
Ouerskapstyl #3 | Die ouer wat (amper) alles toelaat
Ouers met die permissiewe styl is vriendelik, maar ongeërg, aldus die Amerikaanse Sielkundevereniging. Hulle stel nie vaste reëls nie, kontroleer nie hulle kinders se gedrag nie en stel nie verwagtings vir ouderdomsgepaste gedrag by hulle kinders nie.
Sulke ouers is eerder vriende met hulle kinders. Hulle probeer konflik vermy en sal so gou moontlik toegee aan hulle kinders se versoeke net om die vrede te bewaar.
Hierdie styl se algemene kenmerke is soos volg:
- Ouers laat die kinders self besluit en doen, eerder as om rigting te gee; kommunikasie is openlik.
- Reëls en verwagtinge word óf nie gestel nie óf dit word nie toegepas nie.
- Hierdie ouers doen gewoonlik hulle uiterste bes om kinders gelukkig te hou, dikwels ten koste van die ouer self.
Die gevolg wat ’n permissiewe ouerskapstyl op ’n kind kan hê is hoofsaaklik negatief:
- Hierdie kinders het min beheer oor hulle emosies.
- Sulke kinders is buitengewoon rebels of uitdagend as hulle nie hul sin kry nie.
- Hulle gooi maklik tou op.
- Hierdie kinders sal dikwels in alkohol- of dwelmmisbruik verval.
- Hulle is geneig om impulsief, rebels, dominerend of aggressief te wees.
- Hulle swerf dikwels doelloos rond en het min selfbeheer of ‘n wil om iets met hulle lewe uit te rig.
Ouerskapstyl #4 | Die onbetrokke ouer
‘n Onbetrokke ouer skeep hulle kinders af, reageer nie op hulle kinders nie en verwerp hulle. Hierdie styl word gekenmerk deur ongeërgdheid. Ouers is nie betrokke by hulle kinders nie en sal selde reëls toepas.
Sulke ouers kan as koud en onverskillig gesien word, maar dit is nie altyd met opset nie. Want hierdie ouers sukkel dikwels met hulle eie persoonlike wroegings.
Hierdie styl se algemene kenmerke is soos volg:
- Kinders moet maar self sien kom klaar. Gewoonlik omdat ouers koud teenoor hul kinders se behoeftes is, of omdat hulle onbetrokke of oorweldig is deur ander dinge.
- Sulke ouers gee min vertroosting, rigting of aandag.
- Die ouers sukkel self met ‘n lae selfbeeld en vind dit moeilik om innige verhoudings te hê.
Die gevolg wat ’n onbetrokke ouerskapstyl op ’n kind kan hê:
Dit is nie noodwendig fisiek skadelik nie, maar die sielkundige skade aan kinders kan lei tot die volgende:
- Kinders kan depressief raak, hulle is geneig tot ‘n lae selfbeeld.
- Sulke kinders sukkel met innige verhoudings.
- Hulle verhoudings ly gewoonlik skipbreuk.
- Hulle vaar uit in misdadige en selfs vyandige optrede.
- Hulle onttrek van ander.
- Hulle soek soms onvanpaste rolmodelle wat as plaasvervanger-ouer kan dien.
Ouerskapstyl #5 | Die oorbetrokke ouer
“Sommige ouers het die geneigdheid om hul kinders se lewe te beheer, meer as wat onwikkelingsgepas is. Hierdie ouers gaan uit hul pad om alle moontlike struikelblokke uit die kinders se pad te verwyder. Om die kinders te beskerm teen enigiets wat kan skeefloop.
“Dis nie so positief soos wat dit klink nie; dit blokkeer trouens normale en gesonde ontwikkeling,” sê Lianna Morrison, ’n sielkundige op Hermanus.
Die gevolg wat ’n oorbetrokke ouer op ’n kind se ontwikkeling kan hê:
- Kinders wat gewoond raak aan hierdie soort inmenging en dit maar gelate aanvaar, voel verantwoordelik vir hul ouers se emosionele welstand.
- Dit kan ook oorspoel na die kinders se ander verhoudings, sodat hulle mettertyd probeer om ander mense tevrede te stel, selfs ten koste van hulleself.
- Hulle voel skuldig wanneer hulle hul eie behoeftes vooropstel.
- Dis moontlik dat hulle met ’n lae eiewaarde en ’n swak selfbeeld sukkel.
- Hulle het ’n durende vrees vir verwerping.
- In sommige gevalle ontwikkel daar selfs eetversteurings ten einde op so ’n manier beheer te verkry.
- Hulle kan dalk nuwe uitdagings vermy, nie hul eie drome najaag of hul eie horisonne verbreed nie.
Is jy miskien ’n oorbetrokke ouer? Vind hier uit deur ons vrae te antwoord.
Alhoewel die manier waarop jou kind gaan uitdraai, nie lynreg gekoppel kan word aan jou en jou maat se ouerskapstyle nie, meen kenners dat dit tog ‘n invloed kan hê. Dit is ook wys om julle ouerskapstyle te verander of aan te pas na gelang van wat ‘n situasie vra, en watter een vir julle en jul kind se unieke persoonlikhede en situasie werk.